Wednesday 8 July 2015

'n Jaar van seën

Vandag (4 Julie) is dit presies 'n jaar gelede wat ons George binne gery het; die begin van ons nuwe lewe as Suid-Kapenaars. En wat 'n jaar was dit nie! Dit was 'n reis wat ons beslis op onbekende paaie geneem het: draaie in die pad waar ons nie 'n idee gehad het wat vir ons wag nie, opdraandes wat ons steun-steun uitgeklouter het maar ook afdraandes waar ons verbaas gestaan het oor die gemaklikheid waarmee sekere aanpassings gebeur het.

Maar hoofsaaklik kyk ons terug op 12 maande van onverdiende en dikwels onverwagse seën:
  • Gert en Tessa se woonstel in Hartenbos wat vir ons 'n hawe, skuilplek, en rusplek was waar ons tot verhaal kon kom terwyl ons die fynere detail van ons "nuwe lewe" moes uitwerk.
  • Braam en Rentia se vriendskap en verwelkoming het die wêreld se verskil gemaak tussen uithou en opgee! Wat 'n voorreg om sulke vriende te hê. Ook Maryke en Albert wat ons dadelik genooi het om te kuier en ons daarmee saam aan ons heel eerste "nuwe" vriende bekendgestel het. Hannes en Charlotte het ons mede inkommer-vriende geword wat presies deur dieselfde aanpassings en onsekerhede as ons moes gaan - 'n goeie fondasie vir 'n lang vriendskap!
  • Die eerste maand se in die bed bly in die koue, terwyl Werner die dogters by die skool aflaai: 'n eerste vir my! In die begin kon ek die skuld gevoel van lê -terwyl-ander-al-werk, skaars afskud. Tot ek besef het hierdie is 'n baie spesiale bederf van God af, wat ek moet geniet terwyl ek kan EN terwyl dit hou (wat toe nie so lank was nie)
  • Die kans om so baie kwaliteit-tyd met my gesinsmense te kan hê. Geen take of vergaderings of reëlings wat getref moet word vir skool of werk of kerk nie - net hulle en hulle behoeftes. 
Die kans om boeke te lees! En baie daarvan!! Daarmee saam 'n biblioteek wat uit sy nate bars met boeke wat ek nog wil lees, hope tweedehandse boekwinkels en CUM op my voorstoep EN 'n wonderlike "landlady" wat stapels boeke aandra vandat sy gehoor het ek is ook 'n leesvraat.
  • Die luukse van onbetrokkenheid! Ek weet dit klink selfsugtig, maar ek het besef dat dit in hierdie seisoen van my lewe 'n geskenk reg uit die Here se hand was. Ek het met die intrapslag myself by skool, kerk en gemeenskapsorganisasies aangemeld as vrywilliger, maar niemand het my regtig "nodig" gehad nie. Nou sien ek dit as deel van God se plan om my nie van een gejaag na die volgende te verplaas nie, maar om my tyd te gee om stil te raak, te hoor, te sien en te ervaar. En om Hom en my gesin van voor af te leer ken. Luuks voorwaar!!
  • Die vriendelike mense van George!! Daar is nie nog 'n plek met sulke vriendelikheid nie. Op die pad, agter die kasregister, in toue by winkels en staatsinstansies, by die petrolpomp, op die sypaadjie.... vreemdelinge groet jou vriendelik, loop jou kar toe met hul sambreel, knoop 'n geselsie aan, maak 'n grappie en nooi jou sommer vir 'n kuier. Sommer net omdat dit is wie hulle is! 
  • Om te kon "connect" met familie wat ek OF baie lanklaas gesien het, OF nog nooit ontmoet het nie! Ina, Suné & Dewald, Pietman & Rykie, Lindi & Charl, Pim & tannie Yda, Chandré, Sandra, Conrad & Angie... Julle het ons lewens verryk in die afgelope jaar.
  • 'n Besige Desember net toe ek dit SO nodig gehad het om bekendes te sien! En veral om met my ma en pa, Ruan, Neelandrie en klein Layla te kon kuier. 
  • Die feit dat ons ou vriende nie plek hoef te maak vir nuwes nie, ons kan net byvoeg. Soos Lucas Maree sing: "die hart is soos die weduwee se kruik" daar is altyd NOG liefde wat uitgedeel kan word.
  • Die bonatuurlike voorsiening van die Here met huis, werkswinkel, besigheid, kontakte en vriende. Selfs met situasies waar ons oombliklik kon ervaar: hierdie is nie 'n toevallige ontmoeting nie.
  • So baie spesiale gesinsherinneringe en -oomblikke: om die aand voor die eerste skooldag by Karla en Anri in hul kamer te sit en hulle rue te vryf soos toe hulle klein was terwyl ons al drie onseker en emosioneel is oor wat voorlê ...; om nou in die gang af te stap en die dogters te hoor gesels en mekaar se hare doen, saam werk aan take, saam lag.... PRICELESS; die terugrit vanaf die KKNK met 4 tiener meisies opgebondel agter in die kar, besig om uit volle bors 80's songs te sing terwyl die volmaan ons oor die Outeniqua-pas begelei; 
  • Die manier hoe die Here my losgemaak het van dinge wat ek as belangrik beskou het, my met nuwe objektiewe oë daarna laat kyk het en laat besef het hoe onbenullig dit is in die "bigger scheme of things"
  • Vir vriendinne soos Rentia, Sonja, en Olga wat reeds hierdeur is en my kon gerusstel wanneer ek emosioneel en onseker was. En Carna se oproepe, altyd op die regte tyd, wat my laat besef het ek is nie alleen nie, en ons almal ervaar dieselfde dinge wanneer ons verplant word.
LAAANG telefoon-koffie-kuiers met vriendinne. Veral spesifieke gesprekke met Marlene, Susan en Olga staan helder in my gedagtes uit. Dit was soos manna in my woestyndae. En die feit dat ek my ma kon bel en dit steeds gevoel het of daar net 'n paar straatblokke tussen ons is, nie 1500km nie.
  • My blog, wat my skryfterapie geword het. Die feit dat ek die moed bymekaar geskraap het om dit te begin doen. En die ander blogs wat ek in die proses ontdek het.
  • George se ongelooflike sonsopkomste en sonsondergange! Ek kan net nie genoeg daarvan kry nie. En natuurlik die berg wat steeds my asem wegslaan en elke dag anders lyk. Die bos, die see, die strande.... dolfyne en walvisse... Knysna loeries en bosbokke voor my deur.... Ag, ek "overdose" met graagte op al die mooi om my. 
  • Die dowe skaaphond op die hoek wat my elke dag hardop laat lag as hy kamma skelm agter die bossie wag en die kar bestorm.
  • Die kinders wat in die eerste weke vir Karla en Anri ingetrek het en deel gemaak het van hul vriendekringe. Party het wel nie beste maats geword nie, maar het 'n groot rol in die dogters se eerste weke gespeel - presies waarvoor ek en my vriendinne gebid het!
  • Die nuwe geleenthede wat die dogters hier ontdek het: Ontwerp, Kuns, Dans... Passies wat in hulle geplaas is wat hulle hier kon kom uitleef.
  • Die Business Finder Netwerke waar ek my Woensdag en Donderdag oggende spandeer... en veel meer ontvang as moontlike besigheidskontakte. 
  • Die eerste keer toe ek diep uit my hart, eerlik kon sê: dit gaan goed, ek is gelukkig, ek voel tuis! Sonder voorgee of 'n knop in my keel.Vir 'n lang tyd het ek outomaties gesê "dit gaan goed, dankie" terwyl alles in my die teenoorgestelde geskreeu het, maar toe ek die eerste keer besef: ek sê dit EN dis waar, het ek gevoel my hart wil ontplof van dankbaarheid en blydskap.

  • Om by 'n netwerk / skoolvergadering / koffie-kuier / winkel iemand nuut te ontmoet en net te "kliek". En later uit te vind dat ons dieselfde Gees in ons het. Baie spesiaal!!
  • Kort, vinnige toue: by die bank, Pick&Pay, Binnelandse sake, selfs Mr Price oor maandeinde (vakansie tyd uitgesluit ) En wanneer ek wel in 'n lang tou beland (ons praat nou van omtrent 5 mense!!) is die kans goed om 'n heerlike geselsie in die proses te hê.
  • Afrikaans! Oral om my! En spesifiek Afrikaans-met-'n-glimlag
  • Die groei en verandering wat ek in myself en my gesin waarneem, ook in ons verhoudings met mekaar.
  • En laastens my dieper, inniger verhouding met God!! As ons net hiervoor moes trek, doen ek dit more weer!! So baie van my gebede wat ek al JARE lank bid, is hier beantwoord. En daarom kan ek Hom net loof en prys en dankie sê vir die ongelooflike 12 maande wat verby is. Ek kan met vreugde sê dat ons oorleef het, en uitsien na wat nog kom!!