Tuesday 4 July 2017

3 jaar van Genade-ritmes

Vandag presies 3 jaar gelede, op 'n koue Vrydagmiddag, het ons ons voete in die Suid-Kaap geplant.  Onseker oor die wat en waar van ons toekoms.  3 jaar!! Aan die een kant voel dit soos nou die dag, en aan die ander kant soos ‘n leeftyd gelede.

Vandag kan ons terugkyk na 3 jaar van seën, geluk, voorsiening, harde klippe kou, alleen tye, nuwe vriendskappe, onsekerheid, wonderwerke, uitdagings, oorwinnings ....kortom LEWE.

Die aanpassing was by tye moeilik, en ek het in die begin gesukkel om in te skakel by my nuwe gemeenskap.  Met goeie raad van vriendinne wat al self moes ontwortel en verplant, het ek gedink ek weet wat vir my voorlê.  Tog het die intensiteit van my emosies my soms totaal verras. Ook die feit dat ek nie regtig beheer gehad het oor wat wanneer sou gebeur nie.  Ek besef vandag dat ons so graag wil hê dinge moet gebeur soos ONS dit wil laat gebeur, op maniere wat ons glo die beste is.  Ek was in die eerste paar maande intens alleen, en het alles probeer om dit te verander:  probeer inskakel by skool, kerk, selfs ‘n “volunteer” werkie of twee. Tog was alles tydelik en het dit nooit gelei na meer standhoudende verhoudings nie.  Eers toe ek die gedagte dat ek dalk nou alleen MOET wees, kans gegee het om in my te groei, het ek ‘n rustigheid en “contentment” begin ervaar.  Ek het besef dat die Here my dalk nou alleen WIL hê, dat hierdie die ideale geleentheid is om my verhouding met die Hom groeikans te gee (ons sê mos graag ons is SO besig, en wens vir meer tyd om by Hom uit te kom).  Terwyl ek nie iemand anders gehad het om mee te gesels en my onsekerhede en vreugdes te deel nie, was Hy die gewillige luisteraar, die Een met die antwoorde en trooswoorde.  Geleidelik het ek agtergekom dat ek nie meer mense mis nie, dat ek heel gelukkig is so op my eie met net die Here (en darem my gesin ) as geselskap.

Toe eers het my vriendskappe begin blom. En hoe het dit nie toe gefloreer nie!  Ek het gespeel met die idee om ‘n “celebration” ete te hou om ons 3 jaar van  Suid-Kapers wees, te vier. Maar na ‘n rukkie van lysies opstel het ek besef dat my lysie van mense wat ek daar wil hê net te lank is om prakties te wees!!  Die Here het ons geseën met  vriende wat vir ons en vir mekaar omgee, wat ons kom leer het wat dit beteken om mekaar te dra, wat saam met ons kan lag tot die trane loop, en saam kan huil tot ons  uitbars van die lag, wat ons geloof kom versterk het en ons uitgedaag het om meer te vertrou, wat vir ons gebid het wanneer ons nie self kon nie.

Ek het kort na ons hier aangeland het begin blog; deels om vriende op datum te hou met ons doen en late, en andersins as terapie vir myself. Ek het die naam Rhythms of Grace gekies ogv die skrif gedeelte in Matt 11:28-30 (Message). 
 Dit was die skrifgedeelte in die Mosselbaai-diens  die Sondagoggend net na ons hier aangekom het, en weereens die eerste Sondag wat ons  in George kerk bygewoon het. Daarna het dit soortvan my rigtingwyser geword wanneer die onsekerheid of verlange my oorval het.  Vandag kyk ek terug en staan verbaas oor hoe van toepassing die woorde op ons lewens is.  Ek het besef dat daar werklik ritmes in ons lewens is. Dat daar vir alles ‘n tyd is, dat daar altyd goeie tye volg op moeilike tye. Ons wil so graag ons lewens sien as die een hoogtepunt op die volgende, maar hoogtepunte kan slegs hoogtepunte wees, as daar laagtes tussen is. Anders is dit een lang gelykte.  Soos getye wat verander en golwe wat uitspoel en weer terugtrek, so is ons lewens ook ‘n permanente opeenvolging van ritmes: op en af, geluk en hartseer, teleurstelling en opgewondenheid....  Maar oor dit alles, soos ‘n banier of ‘n koepel, span God se genade. Die “Grace” wat ons nodig het om heelhuids deur die swaarder tye te kom.

Was alles maanskyn en rose in die afgelope 3 jaar? Allesbehalwe!!  Emosioneel is ons deur seker  van die moeilikste tye van ons lewe saam:  My pa se siekte en amputasie, Werner se ma wat oorlede is, sy pa se dementia wat gelei het tot allerhande lelike familie-struwelinge en aantygings, besigheidsuitdagings, finansiële struggles, ons oudste wat in die Kaap gaan studeer, my onvermoë om my ma hulle by te staan met hulle trek.  Die feit dat ek my ouers so min gesien het, was beslis vir my  moeilik.

 Tog is my grootste emosie as ek terugkyk een van allesoorheersende dankbaarheid. Dankbaarheid vir die Here se voorsiening wanneer ons dit nodig gehad het, vir die mense wat Hy oor ons pad gestuur het, die gemeenskap waarin Hy ons geplaas het, die selgroepe waarvan ons deel is, die geleenthede wat Hy vir ons oopgemaak het, die groei wat ons persoonlik en geestelik ervaar het, die pragtige omgewing waarin ons woon, die nuwe vriendskappe wat ons gesmee het, vir ou vriendskappe wat behoue gebly het, die geleenthede en groei wat ons dogters hier beleef het, selfs dankbaarheid vir ‘n paar van die moeilike tye, want daaruit is verseker geloof en vertroue gebore wat ons andersins nie sou gehad het nie.


Sou ek dit alles weer doen as ek geweet het wat voorlê? Ja, ja en JA. Selfs met al die verlange en sukkel tye in ag geneem, is die afgelope 3 jaar beslis van die beste 3 jaar van my lewe. En kan ek  met Miga 7:7 saamstem:
7Ek, daarenteen,
sien met verwagting uit
na wat die Here gaan doen.

Thursday 4 May 2017

1 + 2 + 3 = Een miljoen

Daar is nou al so baie geskryf rondom die It’s Time gebedsbyeenkoms van Saterdag 22 April, dat NOG ‘n skryfsel seker onnodig is. Maar ek gaan tog my stuiwer ook in die armbeurs gooi.

Ek was vooraf eintlik glad nie lus vir die groot trek (800km x 2, tente, kos, bagasie) idee van koud slaap, toue mense en Vrystaatse stof nie. Maar diep binne het ek geweet dat ek dit NIE wil mis nie, dat ek oortuig is dat hierdie geleentheid deur God self beplan is en dus besonders gaan wees. Gelukkig het ons ook vriende soos Braam en Rentia wat nie "nee" vir 'n antwoord vat nie. 

Ek het vooraf vermoed dat daar weer baie kritiek en polemiek rondom die dag gaan wees, maar is uitgeboul deur die venyn in sommige mense se opmerkings. Ander weer wat tot op die letter  wil weet wat presies het Angus gesê, hoe het hy dit gesê, wanneer  het hy dit gesê …..  

Al gehoor van die beginsel dat die geheel groter is as die som van die dele?  Nou dit is wat Saterdag vir my was: iets baie groter as die liedere wat gesing is, die woorde wat gesê is, die gebede wat gebid is. Groter as die kilometers karre wat geduldig tou gestaan het, die massas mense  (duisende of miljoene, wat maak dit nou eintlik saak presies hoeveel dit was! BAIE is BAIE!!)   wat saam geduldig in die warm son gewag het, die duisende kampeerders wat die koue Vrystaatse naglug trotseer het.

Ja, ek het ook gedink dat hierdie nou darem die ideale kans vir die Here is om ordentlik te wys wie Hy is. Om iets “mind-blowing” te doen wat sou verseker dat niemand meer sou twyfel in of aan Hom nie. Ek het selfs ‘n paar keer vir Hom gevra of Hy nie asb my oë wil oopmaak om die leërskare engele rondom ons te sien nie, want ek WEET hulle was daar! (seker ook maar goed Hy het nie, ek sou my heel moontlik boeglam geskrik het J)

Wat my bybly is ‘n magdom klein dingetjies, goed wat my hart aangeraak het en laat besef het dat God HIER is:
  • ·        Die spontane lofsang deur ‘n groep Samoaanse sendelinge Vrydagaand in die kamp. Ons het ingeval saam met baie ander kampeerders en ‘n hemelse tyd van saam loof beleef. Daar is gesing in Engels, Samoaans, Afrikaans en Zoeloe…  en die liefde tussen mense wat volslae vreemdelinge vir mekaar is, was tasbaar.
  • ·         Die wakker word Saterdagoggend met die geluid van ramshorings oral om ons… en die dowwe “hum” van duisende karre wat tou staan om in te kom.
  • ·         Die bejaarde Franse tannie wat al vroeg met haar kombers  en koffiefles regsit by die agterste toring, om vir hierdie land waar sy nou woon, te kom bid
  • ·         Die getuienisse rondom die organisasie… reelings wat in plek geval het selfs voor mense besef het daar is ‘n behoefte aan iets spesifiek. Terloops, dit alleen tel al as ‘n wonderwerk: om in 6-8 weke ‘n geleentheid van hierdie skaal te beplan EN laat werk, nie in ‘n stadion of ander plek met die nodige geriewe nie, maar op ‘n oop Vrystaatse plaas sonder enige infrastruktuur, kan net bonatuurlik wees.
  • ·         Die 12-jarige seuntjie wat die shofar blaas met krag en outoriteit (en daarmee saam ‘n klomp bose magte die vlaktes injaag!)
  • ·         Die verskeidenheid mense: gesinne met klein kindertjies, oupas en oumas. Groepe jongmense,  groepe vrouens, groepe mans.  Jong getroudes en ou ooms en tannies wat hande vas hou.  Werkendes en werkloses, mense met hoop vir die land en die wat al hoop opgegee het.  Verskillende tale, kulture, kleure, selfs nasionaliteite.  Tannies met sykouse en jongmans met tatoes…almal soekend na  ingryping deur die een ware God
  • ·         Die rippel van die Amen uitroepe wat agter ons net  aan en aan spoel soos golwe op ‘n strand.   AMEN…AMen…Amen….amen….
  • ·         Die baldadige dans van sambrele en hoedens toe die warrelwind dit gryp en saamneem op sy pad deur die skare.
  • ·         Die sagte briesie daarna wat voor van die verhoog se kant af oor ons spoel.
  • ·         Die beeld van ‘n miljoen mense (tot iemand anders kan bewys is dit die syfer waarop ek staan J)  wat op hul knieë gaan om God te smeek vir vergifnis en hulp vir ons land… dit sal seker vir altyd in my hart en geheue ingegrafeer wees!
  • ·         Die wete dat ek hier sit saam met so baie ander, met die gesamentlike versugting: Here, kom maak ons land en haar mense gesond!
  • ·         Die besef dat daar mense soos Mamma Johanna is wat al vir donkiejare bid vir hul dorpe en ons land, wat vandag êrens in hierdie skare sit en kan ervaar dat die Here hulle gehoor het.
  • ·         Die gevoel van bekendheid ….dit het gevoel asof ek elke persoon wat by my verbyloop op een of ander manier KEN (soveel so dat ek onnadenkend ‘n bekende gesig nader gewink het om te groet…net om te besef sy is eintlik ‘n “celebrity” en sal my nie ken nie!! J  Dankie Hettie, jou vriendelikheid was deel van God se aanraking daardie dag )
  • ·         En toe alles verby is die strome mense wat net aanhou en aanhou. Selfs al staan ek op ‘n hopie grond vir beter sig, kon ek nie die einde van die skare sien nie. Ek het dadelik gewonder of DIT is hoe dit gelyk het toe die Israeliete uit Egipte getrek het…. en besef daardie see het nie net op ‘n skrefie oopgetrek nie, dit moes ‘n HOOFWEG gewees het!
Elke persoon wat teenwoordig was het sy of haar eie storie en ervaring om te vertel:  ‘n ontmoeting met God, die verhoring van ‘n gebed; die oortuiging van iets wat in sy/haar lewe verander moet word; die behoefte om God op ‘n dieper vlak te leer ken; ‘n nuwe empatie met mede-landsburgers wat swaarkry…  Hierdie is nie dinge wat sommer vinnig in antwoord op “Hoe was dit?” beskryf kan word nie.

As mens al hierdie individuele stories en oomblikke bymekaar tel, is die antwoord iets groter as wat enigeen van ons in woorde kan saamvat…. Dan word die geheel iets Goddeliks, en dit is wat It’s Time vir my was: die dag wat God vir my (en moontlik 'n miljoen ander mense) kom wys en sê het dat Hy soveel groter is as dit wat ons kan sien of hoor of beskryf. HY IS... en dis dit!