Na 4 maande se beknopte bly in 'n 2-slaapkamer woonstel, kon ons hierdie week in die (huur)huis intrek wat ons glo God van die begin af vir ons ingedagte gehad het!
Van die begin af het ons geglo dat die Here vir ons die regte huis sal gee: 'n plek wat vir ons 'n tuiste sal wees, waar ons vriende sal kan ontvang en van waar ons die wonders van hierdie stukkie aarde sal kan geniet.
In hierdie tyd het ons honderde oproepe gemaak, na hordes huise gaan kyk en baie hoopvolle kilometers agter moontlike blyplekke aan gery. En elke keer onverrigter sake teruggekeer! Ek sal jok as ek sê dat ons nooit moedeloos geraak het nie! Inteendeel, ek het meer as een keer (nee, eerder elke tweede dag!) gewonder of ons verkeerd verstaan het. Verwag ons "te veel"? Moet ons dalk eerder afskaal en in 'n kleiner huisie intrek, iets minder ideaal maak werk? Ons wenslysie was nie buitensporig nie: 3 slaapkamers, 2 badkamers, 2 garages, spasie vir Werner om 'n boot/waentjie/enige ander "projek" te kan parkeer. En verkieslik wou ons 'n plek hê waar ons darem 'n ekstra matras of 2 kon uitgooi as ons kuiermense kry.Ons het ook op 'n maksimum bedrag besluit wat ons op huur kon spandeer (alreeds heelwat meer as wat ons in Piet Retief gewoond was). In die 4 maande wat ons huis gesoek het, het ons gesien hoe die pryse styg. Hier is 'n konstante toename in mense wat hierheen trek en die blyplek raak net skaarser. Een agent het eendag gesê dat hier volgens hom 'n tekort van ten minste 2000 huurhuise in George is - baie bemoedigende opmerking aan iemand wat huis soek!!! Die huise wat in ons prysklas val was telkens klein, neerdrukkend, vodde of sonder garage/parkeer spasie. Ons wou ook graag in die area naby die skool blyplek kry, maar dit het al hoe meer na 'n onmoontlikheid gelyk. Ons was gewoond aan Piet Retief se 2 km tot by die skool en ek het nie kans gesien om 4 of 6 keer 'n dag 8-10 km skool toe en terug te ry nie. (ja, ek weet vir julle in die stad klink 10km hemels, maar hierdie plaasjapie hou nie van baie rondry en verkeer nie)
Eendag, in 'n gesprek met 'n vrou by die skool oor ons huissoekery, sê sy: "'n Mens trek nie hierheen en gaan bly dan op 'n plek waar jy NIE die see of die berg kan sien nie." Ek onthou dat ek so by myself gedink het: "dis maklik gesê as mens 'n onbeperkte begroting het" Ons sou so graag 'n mooi uitsig wou hê, maar al die areas wat daaraan voldoen, vra ook vet beursies! 2 jaar gelede by die Michael W Smith konsert het Werner tydens een liedjie 'n prentjie van 'n berg gesien en ervaar dat dit iets te doen het met ons toekoms en waar ons sal bly. Sedert ons hier is het ons baie keer sommer in die dorp rondgery en huise en woonbuurte gekyk. Op een so 'n "trippie" het een deel van die berg ons aandag getrek omdat dit ruwer voorkom as die res. Werner het daarna gekyk en gesê: "DIS hoe die berg wat ek gesien het, gelyk het" en vol bravade aangekondig: "Ons gaan hierdie berg van ons huis af kan sien!" Wanneer ons huise gaan kyk het, het ek ongemerk begin loer of mens die berg kan sien - soortvan as 'n teken of ons dalk nou na die regte plek gaan kyk. Die weke het maande geword en ek moes myself elke keer herinner dat wat vir ons onmoontlik lyk, wel vir God moontlik is. Al hoe meer het ek ook besef dat ons wenslysie, gekombineer met ons begroting en die permanente verhoging in huurpryse nou in die "onmoontlik" kategorie begin val. En telkens het ek begin twyfel of ons die reg optree deur te soek na die "regte" plek. Moet ons nie maar vat wat ons kan kry en daarmee saamleef nie? Vra ons te veel? Daar is baie mense wat met baie minder moet regkom - is ons dalk "huis-snobs"? Net wanneer ek seker is ons verwag te veel, kry ek skrif, of hoor 'n preek of 'n ander bevestiging: "niks is vir God onmoontlik nie" "Hy sal sorg" "wat die Here gee is altyd meer as genoeg en bo ons verwagting" "Hy het reeds julle huis uitgesoek" " Hy het iets spesiaals vir julle in gedagte"
Toe, 2 weke gelede, noem iemand vir my van 'n onderwyser by Outeniqua HS wat die volgende week trek. 2 dae later vertel 'n vriendin van Rentia ook van dieselfde mense en hoe lekker die huis is waarin hulle bly. Ek weet dis 'n redelike gesogte area, maar iets in my bly kriewel oor die plek, en ek besluit om te bel. Die eienaar bly in Botswana en sy ma tree op as "agent". Sy noem dat hy eintlik die huis wil verkoop, maar ons kan kom kyk. Toe ons instap WEET ons dit is die plek vir ons! Oop, sonnig, 'n lang oprit ☺ ... dit voel soos HUIS! Toe ons omdraai en uitloop kyk ek en Werner vir mekaar: voor ons lê die berg in al sy glorie!! Dit vat nog 3 dae vir die eienaar om te besluit of hy wil verhuur of verkoop. 3 dae waarin ek te bang is om opgewonde te raak, te bang om hardop vir iemand te sê dat ons die regte plek gekry het - sê nou maar dit val deur die mat? Oor en oor ry ek voor die huis verby, twyfelend of ons regtig SO geseënd kan wees.
Toe die eienaar laat Donderdagmiddag laat weet ons kan die huis huur, is ons uit ons velle. Werner bel die stoor waar ons meubels gehou word om te hoor wanneer hulle kan aflewer. Hulle verkies 'n maand kennis, maar sal kyk wat hulle kan doen. Maandag oggend laat weet hulle dat hulle Dinsdagmiddag kan aflewer, anders eers oor 2 weke. Alles is in rep en roer. Die huidige huurders trek Maandag uit, Maandag aand en Dinsdagoggend verf ek en Werner en die eienaar se ma kamers en plafonne. Half 10 laat weet die vervoermaatskappy dat hulle oor 'n uur hier is! Hulle laai ons trek af in gietende reën (ek verkies om te glo dat dit n teken van "abundant" seën is!). Tussendeur moet die woonstel waar ons die afgelope 4 maande gebly het opgepak word, die meisies by die skool op en afgelaai word, Karla haar Ontwerp praktiese eksamen afhandel en meubels georganiseer word. Maar te midde van al die deurmekaarheid kan ek nie ophou voel asof ek swem in oorvloed-seën nie! Ons het 'n huis gekry, en nie sommer net 'n huis nie, maar DIE huis; die huis wat ek nou met my hele hart glo die Here nog heeltyd vir ons in gedagte gehad het!! Die huidige huurders moes nog net besluit om te trek!!
Die uitsig van ons voorstoep af |
Ons stoep kyk uit op die veld, bos en die berg. Die son stroom heeldag deur ons sitkamer vensters in (dis nou wanneer die son in George skyn!! ☺ ) Ons gaan slaap met die geluid van naguiltjies, paddas en krieke, en word wakker met 'n hele koor van voëlgesang. Ons hoor duiwe, Piet-my-vrou, vleiloeries, visarende en hope ander voëls wat ek nog nie herken nie. Op die oorkantste sypaadjie jaag die tarentale mekaar, 'n reier staan in die gras en middagete soek en elke nou en dan sien ons die rooi vlerke van 'n Knysna loerie wat tussen die bome verdwyn. Eergister was hier selfs 'n bosbok-ooitjie met haar lammetjie wat skaars 20m van ons voordeur af in die gras gewei het!! Die huis het 'n gevestigde tuin uitgelê met amper elke plantsoort wat ons in ons tuin in Piet Retief gehad het! Net die Here kon dit so beplan het!! Hier is selfs 'n "Yesterday,today and tomorrow" in ruil vir die een wat ek met 'n seer hart moes agterlaat. Daarby is ons presies 2 km van die skool af. En dit alles vir R1000 MINDER as die "maksimum" wat ons bereid was om te spandeer. Onmoontlik?? Verseker! Net God kon dit alles so bewerkstellig!!!
Ek werk in die huis en kan nie glo dat ek so vinnig voel asof ek vir altyd hier kan bly nie! Ek geniet dit om weer my eie wasmasjien te gebruik, om my mooigoed uit te pak en spesiale plekkies vir elkeen te soek. Terwyl ek uitpak onthou ek elke vriendin wat my gehelp het om die bepaalde boks in te pak: Marlene, Ronelle, Alma, Cecile, julle was hierdie week weer so in my gedagtes!
Ek kyk terug op die afgelope 4 maande en kry skaam! Ek het al so dikwels die verhaal van die Israeliete se woestyn-trek gelees, en baie keer gewonder hoe hulle keer op keer so vinnig kon vergeet hoe God hulle versorg, gevoed en gered het met wonderwerke. Tog het ek in 4 maande so baie keer getwyfel, en selfs begin rondkyk na ander moontlike maniere om hierdie belofte van blyplek te help waarmaak. In stede daarvan om net te WAG, te GLO en te VERTROU. Dit nadat Hy al soveel keer in die verlede tot ons redding gekom het, uitkoms gegee het en die regte dinge op die regte tyd laat gebeur het. En ja dit is toe waar: wat God vir ons beplan het oortref ons wildste verwagtinge! Ons bekers loop oor. DAYENO: wat God gee is MEER AS GENOEG!
Die donker randjie aan hierdie silwer wolk is dat die huis steeds in die mark is. Ons kontrak is daarom eers net vir 1 jaar. Bid asb saam met ons dat die Here ook hierdie situasie vir ons sal oplos - soos net Hy kan!