Thursday 25 December 2014

Bloed IS dikker as water

Ons kuier die naweek voor Kersfees op die plaas Klein Jongensfontein met die Gillespies en Enslins. Tussen regmaak vir markdag, stalletjies opslaan en later opruim en wegpak, gesels ons kopstukke. Saterdagaand is ons almal poot-uit, maar dis asof ek die bed-toe-gaan uitstel. My onderbewussyn weet dat slaaptyd kuiertyd minder maak!

Ek bly verwonderd hoe 'n kuier met familie-maats van kleintyd altyd so maklik kom, selfs al sien ons mekaar dikwels vir 'n paar jaar nie gereeld nie. Al het ons in verskillende rigtings gegroei en ontwikkel, uiteenlopende beroepe gevolg en al handhaaf ons selfs deesdae verskillende lewenstyle,  bly daar 'n "bekendheid" wat nie sommer verduidelik kan word nie.

Geselsies wentel rondom 'n magdom verskillende onderwerpe, en elke nou en dan maak dit lankvergete herinneringe los en begin die "onthou-jy-nogs" deel word van gesprekke. Dit sorg vir lekker lag en heimwee.

Ek besef elke nou en dan, diep dankbaar, dat my kleintyd en grootword jare SO bevoorreg was! Nie as gevolg van WAT ons gehad het nie, maar oor WIE deel was van my lewe. As gevolg van saamwees-ervarings, familie-tye, eenvoud en moeitelose kindwees: die dinge wat nie eers Branson of Gates se miljoene kan koop nie.
Sondagoggend sit ek en niggie Lindie in haar sitkamer  saam met die dogters en gesels. Die gesprek oor kersbome vat vinnig 'n afdraaipad na herinneringe van familie Kersfeeste: Ons onthou die vreugde van kersboom versier op die plaas. Die afgesaagde dennetak (NOOIT 'n nagemaakte, kunsmatige boom nie!!) wat in 'n groothouer met klippe staangemaak word. Gewoonlik was die "boom" so groot dat die punt net-net by die sitkamer ingepas het. Granny wat ons kleinkinders vrye teuels gegee het met die versiering van die boom. Die opwinding om die oorgetrekte skoendose oop te maak en die ou bekende versierings uit te haal. Ek onthou silwer en goue stringe "krale", hout figuurtjies en aanknip kersblakers. Ook hoe iemand gereeld op Ou-Kersaand moes opspring om smeulende dennenaalde te blus Stringe liggies wat getoets moet word en die soeke na die EEN geblaasde gloeilampie wat verhinder dat die liggies flikker. En die "pièce de résistance... Granny se piepklein "nativity set"!

Die Ou-Kersaand program het vir sy eie opwinding gesorg. Die Gillespie kleinkinders mog nie net terugsit en ontvang nie. Ons moes sorg vir die aand se "vermaak". Ek onthou toneelstukkies en poppe vertonings, koortjies en ander Kers-opvoerings wat ons kinders op die planke gebring het. Dikwels met 'n paar dikmond neefs wat soos herders of wyse manne opge"dress" is   En NOOIT is daar iets aangekoop vir hierdie opvoerings nie. Alles is self aanmekaar geflans, uitgesny of geimproviseer uit Granny en Mamma se linne- en materiaalkaste. (Ek is redelik seker Josef het nooit 'n Victoria Falls t-hemp besit nie ☺) 

Daarna altyd Lalla (my oupa se troetelnaam by sy kleinkinders) wat die Kersverhaal voorlees en ons almal wat saam kersliedere sing in Afrikaans en Engels. Soms was daar 'n kersvader wat in die tuin aangestap sou kom met 'n sak oor sy skouer. Om een of ander vreemde rede wat ons net nie kon verstaan nie, waas daar ALTYD een van die ooms wat die opwinding gemis het omdat hy kwansuis TOE 'n draai moes loop  Tog dink ek nie dat enige van ons ooit ons hoop ten volle in die "man-in-rooi" geplaas het om Kersfees spesiaal te maak nie. Die kuier met neefs en niggies het sy teenwoordigheid ver oorskadu!

Hierdie Kersfees vier ons sonder familie, en ek wil-wil myself begin jammer kry. (Dankie tog vir vriende wat soos familie is saam met wie ons die dag kan deurbring.) Maar ek raak rustig in die wete dat ten minste EEN familielid ALTYD saam met ons Kersfees vier - my Broer wat 2000 jaar gelede al besluit het om Sy lewe vir my af te lê , omdat ons Pa toe al geweet het dat ek andersins nooit eens rede sal hê  om Kersfees te vier nie!

My wens is dat jy hierdie Kersseisoen bewus sal wees van Sy nabyheid, ongeag die hoeveelheid mense wat om jou is, midde-in die gemis van mense wat nié meer daar is nie, ten spyte van mense wat dalk nie jou keuse van Kers-genote is nie. En dat jy sal weet: Bloed is WEL dikker as water - veral Syne! Geseënde Kersfees!!