Friday 29 August 2014

Living Life Today

Met die koms van die Lente Maandag het ek letterlik die sonskyn op my vel gevoel toe ek buitentoe gaan, en die verwagting van die nuwe seisoen het ek binne-in my voel borrel. Dinsdag het Anri haar 15de verjaardag gevier- ons eerste verjaardagviering in ons nuwe dorp. Weereens het dit my getref hoe goed die Here vir ons, en veral vir die dogters gesorg het. Vandat die huis se verkoop in Februarie bevestig is, het ek begin bid dat Hy vir Karla en Anri die pad sal oopmaak, maats wat Hom ken sal begin voorberei. En my hart bly "summersaults" maak elke keer as ek sien en hoor hoe hulle inpas. 'n Personeellid by die skool het my eendag gevra hoe hulle aanpas, en toe ek positief reageer sê sy: " Ek hoop jy besef dit is nie normaal nie. Nuwe kinders sukkel altyd erg om "in" te kom hier. Iemand het seker baie gebid..." Ek het geglimlag, want as sy weet hoeveel vriendinne saam met my gebid het... En dit was lekker om haar te antwoord: "As jy net weet hoe!"

Ek hoor nou die dag die volgende aanhaling:
If you are depressed, you are living in the past
If you are anxious, you are living in the future
Live life today and be at peace
 
Dit het my nogal aan die dink gesit. Ek besef dat daar 'n fyn lyn is tussen herinneringe koester en met dankbaarheid onthou, teenoor hunker na en leef in die verlede. 'n Lyn wat mens maklik kan oorskry wanneer jy 'n nuwe, onsekere begin moet maak. Wanneer jy heeltyd terugkyk na wat jy gehad het en die goeie daarvan vergelyk met die minder goeie van die hede of nuwe, loop jy gevaar om die goeie van die hede mis te kyk.

Ek onthou graag. Ek het wonderlike herinneringe aan 'n gelukkige, "care-free" kindertyd op die plaas. Familie kuiers met oupas, oumas en hope niggies en nefies onthou ek as idillies (noudat ek volwasse is besef ek dit was dalk minder so vir die volwassenes wat ons almal moes versorg ☺)
Skool en koshuis onthou ek as lekker, pret-tye. Ek het goeie en lojale vriende wat al jare deel van my lewe is. Ons as gesin het al goed swaargekry, maar kon deur dit nog altyd getuig dat God ons versorg en deurgedra het, so selfs daardie tye onthou ek as positief.

Ek klou vas aan vriende, familie en plekke wat vir my iets beteken; en is maar lugtig vir verandering en nuwe dinge. Gee my 'n album met ou foto's en ek is vir 'n paar ure verlore vir die samelewing! (een van die redes waarom ons inpakkery so lank gevat het!!)

As ek aan die toekoms begin dink is daar baie om oor angstig te raak: blyplek, werk en inkomste, groter uitgawes, kinders wat groter word en amper die huis moet verlaat, studiekostes.... die lysie vul homself daagliks aan. Ek loop dikwels die gevaar om TE veel op die toekoms te fokus: hoe, wat, waar, wie, wanneer. En omdat ek selde antwoorde op al hierdie vrae kry, is angstigheid 'n gereelde "companion"

Vir my bly een van die wondere van menswees dat ons onsself heeltyd beter kan leer ken EN kan aanpas en ontwikkel. Een ding wat ek dus goed besef is dat ek moet werk maak daarvan om in die hede te leef. Om elke dag die goeie van die dag raak te sien en die mense wat my pad kruis raak te leef.

Kans om geleenthede raak te sien wat my kant toe kom.

Ek het vandag die geleentheid gehad om saam met personeel van Life Community Services te "toer" en al hul sentrums te besoek. Ons was diep in Thembalethu in, Pacaltsdorp, Conville, Borcherds...  Oral by plekkies gestop waar opgeleide lede van die gemeenskap by Life se kleuterskooltjies kinders leer en besig hou - dikwels gee die ouers nie eers om waar die kinders vandag is nie. Van gehuggies tot huise..Baie plekke langs die pad sit hordes mense...werkloos, uitsigloos, moedeloos. En ek dink aan die goed waaroor ek MY bekommer: 'n groot genoeg huis in 'n mooi area, kinders se take, of dit tot my kind se voordeel sou wees om dalk eerder 'n prefek in haar ou skool te kon wees, niemand om mee te kuier en tee te drink nie.... En ek kry skaam! Ek dink aan dit waarop ek en my vriendinne ons geld uitgee, en dan kyk ek om my... Ek wonder of ons nie die pot VER mis sit nie!!! Hoe belangrik is dit "in the bigger scheme of things" of jou gordyne en bedval se skakerings bymekaar pas, as daar mense is wat HONGER is??? En voor jy antwoord: ek weet ons sê dikwels ons sal so graag wil help, maar weet nie waar nie, of daar is nie regtig so iets in jou omgewing nie, of ('n gunsteling) maar die mense wil nie hulself help nie!  Ek kan nie vir een oomblik dink dat daardie antwoorde voor God water dra nie. En ja, geld help, maar hande en tyd beteken nog meer (glo ek), juis omdat dit opoffering van ons vra. En dis hier wat "stil tye" handig te pas kom. Tyd om God se stem te hoor en raak te sien waar Hy jou wil gebruik. Want ons is steeds almal stukkies in God se groot legkaart. En solank ek nie luister of gehoorsaam is nie, is daar heeltyd 1 stukkie in die groter prentjie wat weg is, en die legkaart kan nie voltooi word nie. Ek luister na Jamie Grace se liedjie "Little Ol Me": https://www.youtube.com/watch?v=_gh5XyCHhKw en dit maak my opgewonde om te weet ons is hier as deel van 'n groter plan!

Oh Jesus how I love the way You’re writing my life
However could it be, to have a part in your story
Bigger than what I can see, little old me, little old me
I may not know Your plan but I’m safe here in Your hands
Cause I know that You believe, in little old me, little old me
 
Vir die wat wil weet hoe dit met ons huis-soekery gaan: Ons wag (en soek) nog! Toe ek so 2 weke gelede een aand radeloos weer vir die Here vra: "wanneer gaan ons 'n huis kry, ek soek nou my eie plek en goed?!?" kry ek die volgende antwoord uit Habakuk 2: " Die dinge wat Ek beplan gaan nie nou dadelik gebeur nie.... wag geduldig (my swak punt!), al voel dit of dit stadig gaan. Wees verseker dit gaan gebeur, dit sal nie onnodig talm nie" Hoe is dit vir 'n reguit antwoord!! En in my Bybel sien ek die volgende ingeskryf: onnodig=mow'ed (Hebr)= 'n fees wat reeds gereel is! So nou weet ek verseker: ons huis is reeds gereel en uitgesoek! Ons moet net wag dat dit beskikbaar word... En intussen elke dag voluit LEEF!

Monday 18 August 2014

Legkaarte en luukses

Na verlede week se tranedal is dit tyd dat ek bietjie op die positiewe konsentreer. Voordat al my vriende geskenkbewyse vir beradingsessies aanstuur!!

Sedert ons hier gekom het, het ons al soveel spesiale tye ook gehad. Ons het al op die ingewing van die oomblik in die kar gespring en die lieflikste plekke ontdek. Ek moet myself elke nou en dan knyp om seker te maak hierdie prentjie-mooi omgewing is nou ons tuiste. Ek dink aan Lienka se liedjie Luuks en besef hoeveel luukses daar op die oomblik in my lewe is!

Sonsopkoms van ons voorstoep af
Ek voel soos iemand in 'n tydskrif-storie as ek die kamera gryp en vir die res van die huis
sê "ek gaan net gou strand toe om foto's te neem"! Hoe cool is dit!!! Om die voordeur oop te maak en die see te ruik, die klammigheid op my vel te voel. Of die luukse van 'n boek vat om gou vir n uur in skooltyd op die rotse langs die water te gaan sit en lees! Ek weet dit gaan nie altyd in die toekoms moontlik wees nie, maar vir nou is dit een van die voordele van NIE mense ken en oral betrokke wees nie. En ek gaan dit uitbuit vir solank ek kan.

Saterdag het ek en Anri vir n uur by Dolphin Point uitkyk by Wildernis gestaan en walvisse kyk: 6 van hulle wat luilekker in die water rondgerol en sommer net "gewees" het.  Op 'n stadium het n paar dolfyne kom saam speel- sommer net omdat hulle KAN!
En toe ons later van die winkels af terug kom met 'n MacDonalds burger elk, stel Karla voor ons eet dit op die strand. Net daar hou ons verby Vic-baai toe, en gaan eet ons middagete langs die see. Sondagmiddag het ek en Werner 'n draai gaan ry en die oulikste restaurant in Wildernis raakgeloop. Ons het net koffie en Hot Chocolate gedrink, maar die atmosfeer was heerlik, amper Europees met die lieflikste Italiaanse musiek, mense wat oral in die strate drentel (en die "local" rasta-hippie wat ewe hoog op die oorkantste sypaadjie met homself sit en gesels en lag  terwyl toeriste elke nou en dan saam met hom wil fotos neem.... weird!!) Gepraat van restaurante: ek is nou besig om 'n lysie te maak van watter vriende ons na watter restaurante en koffie-winkels toe moet vat. Ons sit dikwels by 'n plekkie en besluit hierdie of daardie vriende sal van hierdie kos/atmosfeer/omgewing/dekor hou, so nou hou ek boek daarvan.

  
Victoria baai teen sononder.
Nog 'n heerlikheid is om te sit en luister na die local mense se praat: die sêgoed wat ons gereeld laat giggel, dikwels met so 'n lekkerg bgrei van die tong. Die karwag onder by Victoriabaai groet ons gewoonlik met "aaahh, Mpumalanga! Welkom by Victoriabaai" of ander dergelike maniere (ons kar se nommerplaat gee ons nog weg) Nounou het ons gou weer vir n halfuur daar gaan stap. Toe ons uitklim sê hy: "Lyk my Mpumalanga bly nou ma innie Kaap. Da is mos nie 'n sie in Mpumalanga nie!"  Ons het lekker gegiggel. Min het hy geweet hoe reg hy is.

Karla en Anri geniet "tee' saam met Isabel se dogters
 
Al die kuiers wat ons die afgelope tye met ou en nuwe vriende gehad het tel ook op my lysie van luukses. Dit bly heerlik om weer op die ingewing van die oomblik 'n Sondagbraai met Braam&Rentia te reel- ons het dit so dikwels in Piet Retief gedoen, en nou word die tradisie na 4 jaar weer voortgesit. Ek het ontdek dat ek familie in George het wat ek nog nooit ontmoet het nie, en ons het 'n heerlike "long overdue" kuier met die Greyvensteins gehad. En met goeie vriende se familie wat nou ook ons vriende geword het. (Dankie Hennie en Sirita dat ons nou vir Sus Isabel en Kobus "present gekry het" ☺)


Ek sien nog altyd ons lewens as stukkies van n groot legkaart - dikwels verstaan ons nie hoe gebeure en mense inpas in die groter prentjie nie, maar dan soms, net soms, gun die Here ons 'n kykie en sien ons hoe sekere dinge bymekaar inpas en hoe stukkies wat op hul eie dalk nie sin maak nie, eintlik deel uitmaak van die mooier, groter prentjie.
Baie van die dinge wat ons tot dusver beleef het, val nog vir my in die "weet-nie-waar-dit-inpas-nie" kategorie. Maar hier en daar sien ek al 'n stukkie wat op"link" met 'n ander prentjie (jy weet mos as jy puzzles bou en jy kry so 7 of 8 stukkies wat bymekaar pas, maar nog nie 'n plek in die groter prentjie kry nie).
Een daarvan is die klein woonstelletjie waarin ons tans woon. Ek was eintlik bietjie opstandig toe Werner besluit om die 2 slaapkamer woonstel te vat: ons is 4 mense, en die dogters het elkeen spasie nodig- het al jare lank elkeen hul eie kamer. En tog was dit presies wat nodig was in hierdie tydstip van ons reis. Ons is heeltyd in mekaar se geselskap- so plek vir eenkant sit en "sulk" is daar nie (behalwe as ek nou my depro slaan as almal weg is soos verlede week ☺)
En so, sonder dat ons dit regtig agterkom, is ons besig om te bond, meer te lag, memories te maak wat heel moontlik nie sou gebeur het as ons direk in 'n gemaklike, groter huis ingetrek het nie.

Ons staan ook verstom hoe die Here mense oor ons pad stuur, soms met 'n boodskap, soms as 'n kontak, soms om te bemoedig... maar nooit toevallig nie! Sal 2 vrouens wat ek nog nooit van te vore ontmoet het nie, verlede week vir my hul stories van "huis-soek" vertel en albei se stories getuig van bo-natuurlike voorsiening. En 'n man wat vandag vir Werner foto's van sy visvangste van die naweek wys, en dan terloops sê: "O, ek moet DIT ook vir jou wys.." en dan vir Werner 'n "quote" van sy mentor-omie wys wat sê: "As jy geloof het sal jy nie haastig wees nie!" Toevallig.... beslis nie. Sonder dat hulle dit weet was al hierdie mense legkaartstukkies in ons groter prentjie. Na baie vrugtelose soektogte en besoeke aan agente om werkswinkelspasie te bekom, het Werner 'n vriend van 'n vriend by die kerk se mannebediening raakgeloop, en na 'n rukkie se gesels vind hulle uit hulle is in dieselfde bedryf. En daar nooi die ou Werner om saam met hom sy werkswinkel te gebruik! Sommer so! So van vandag af het Werner werkplek en kan hy weer begin om te skep en te saag en te skuur...  Intussen wag ons (by tye geduldig) op die huis wat die Here vir ons in gedagte het.


O ja, voor ek vergeet: Werner het 'n nuwe vrou in sy lewe! Sy het kurwes op die regte plekke, regte "come-to-bed-eyes" en is 4 jaar ouer as ek! Hy spandeer nogal heelwat tyd met haar.... maar dis OK, ek hou ook nogal van haar. Haar naam is Daisy (altans ek dink dit is die finale keuse) en sy is 'n 1964 VW Kewer Kyk net hoe fraai! (en sy laat ons ook nogal oulik lyk as ons vir rustige Sondagmiddag "drives" in die omgewing gaan).

Ek groet met hierdie aanhaling en 'n link na 'n videoclip wat vreugde binne-in my laat opborrel het:

“For last year's words belong to last year's language
And next year's words await another voice.
And to make an end is to make a beginning."
~ T.S. Eliot


https://www.youtube.com/watch?v=kbJcQYVtZMo

Monday 11 August 2014

I am... I said...


Ek kan nie glo dat ‘n mens se emosies so vinnig kan verander- sonder enige noemenswaardige gebeure wat dit omswaai nie: ek het vanoggend opgestaan soos elke ander oggend (of te wel bietjie vroeër want ek moes vandag kinders skool toe vat). Terug gekom, koffie saam met Werner gedrink, gesels, hy het gery, ek het rustig gesit en my gedagtes het wye draaie begin loop … en 15 minute later sit ek en huil krokodiltrane oor alles waarop ek uitmis.

Ek is in ROU!!

Daar is dinge waarna ek al vir jare uitgesien het om van deel te wees, soos matriekafskeidreëlings saam met mede-ma's as my kinders in gr 11 is en om saam met hulle hul matriekjaar te beleef in dieselfde skool waar EK matriek gemaak het. As ek dit skryf klink dit bietjie “trivial”, maar dis prentjies wat al in my gedagtes begin vorm aanneem het, wat ek nou moet uitvee… 

Ek sien vriendin Sirita se foto op Facebook van Henno-lief wat saam met pa Hennie op die treadmill oefen, en my hart pyn letterlik in my bors, want ek wou nou DAAR gewees het vir hulle, wou saam met hulle die hartseer en oorwinnings van Henno se herstel beleef het. Ek wil vinnig by my ma inhardloop net om hallo te sê en omdat ek 10 minute beskikbaar het. Ek wil by my kombuis instap en sien Susan, my vriendin van amper 40 jaar, het klaar die ketel aangesit en die koppies uitgehaal terwyl sy vir my gewag het. Ek wil saam met 'n vriendin bly-opgewonde wees oor haar dogter se telefoonoproep. Ek wil vir nie net stemme oor telefone hoor nie- ek wil arms VOEL wat drukkies uitdeel.  Ek wil my hartsmense se gesigte SIEN as ek met hulle praat! Ek wil by Pick&Pay inloop vir n brood en eers ‘n halfuur later daar uitloop want ek het te veel mense raakgeloop wat ek ken. Ek wil by die skoolsport staan en mense KEN- die kinders, die ouers, die onderwysers (selfs die geboue is bekend). Hier is alles vreemd. Ek wil dorp toe ry en elke paar minute vir iemand wat verby ry, waai.  En ek wil weet as ek nounou hier uitloop, gaan iemand wat ek ken my êrens voorkeer en vra “Is jy OK, jy lyk af vandag?” Hier weet niemand eers wat is my normale manier van “lyk” nie.

Vanoggend is ek lus vir my eie “pity-party”! Twee ure gelede het ek nog met opgewondenheid gedink oor waar ek kan of wil inskakel by die skool en kerk. Nou sit ek hier en dink: “Ek WIL NIE inskakel nie, ek soek my ou skool, my ou vriende, my ou kerk… Ek soek my MA!!! (klink dit vir julle ook soos n 5 jarige - as ek dit oor lees, hoor ek sommer daardie temerige stemmetjie ☺) Ek hoor Neil Diamond sing in I am I said:  "L.A.'s fine, but it ain't home
                                                       New York's home,
                                                       But it ain't mine no more"  
.... en ek weet presies hoe hy voel.

Ek is eintlik verbaas oor die intensiteit van hierdie emosies. Ek sit hier en snik soos iemand wat ‘n doodstyding ontvang het. Maar eintlik het ek! Vanoggend het ek besef dat sekere ervarings vir altyd verby is, en ek moet afskeid neem daarvan en aangaan. Ek het besef dat sekere dinge waarna ek uitgesien het nooit gaan gebeur nie (of ten minste nie soos ek my dit voorgestel het nie) En ek moet die realiteit in die oë staar dat ander mense nou my plek sal inneem by die skool, by die kerk, in my vriendekring… en dat dit reg is so! EN dat ons almal OK sal wees met hierdie veranderings.

Die natuur het seisoene en ons lewens het seisoene. Hierdie is my nuwe seisoen. Dit is die oorgang tussen winter (afskeid) en  lente: tyd om nuwe wortels uit te stoot en vastrapplek te soek tussen die versteekte klippies onder die grond. En net soos ‘n nuutgeplante plantjie maar teer is, maklik kan seerkry, omwaai of uitdroog, besef ek dat ek ook tye gaan hê waar ek uitgelewer, onseker en ontuis gaan voel.

Gelukkig het ek dié versekering: ek is nie alleen nie! Ek het DIE God van hemel en aarde by my! Die Een wat my gevorm het, dra my ook. En Hy het mos reeds vir my gesê:
 
“Moenie vassteek by die verlede nie. Moenie net dink aan die dinge wat verby is nie. Let op! Ek gaan iets nuuts laat gebeur! Dit het alreeds begin, kom jy dit nie agter nie?” (Jes 43:18-19)


Ek sien met hoeveel oorgawe my dogters die nuwe skoollewe ingaan, deel word. Ek sien hulle glimlagte en blink oë (en nee, hulle oë blink nie van trane nie, maar van vreugde) En ek besef: die nuwe dinge het reeds begin gebeur! Hy het ook nuwe ervarings vir my ingedagte. So dit is tyd om my rouklere uit te trek, my feesklere aan te trek (Ps 30:12)

Dus: ek gaan opstaan, opkyk en begin soek na die nuwe fees-geleenthede om my (en 'n nuwe boks tissues koop!!) Watchout George, here I come!

Monday 4 August 2014

'n Nuwe Lente in Julie


Vandag is dit presies 'n maand sedert ons ons bagasie in Hartenbos afgelaai het, en hierdie nuwe seisoen in ons gesin se lewe begin het.

Ek onthou die dag toe Werner my bel om te se dat die huis verkoop is. Ek het soortvan begin aanvaar dat ons TOG maar die volgende paar jaar in Piet Retief gaan deurbring- en ek sou beslis nie omgee nie. Ek het die eerste 18 jaar van my lewe hier deurgebring, en na 11 jaar in Johannesburg saam met my gesin teruggekom en weer 15 jaar lank hier gewoon en gewerk. Hier het ons goeie en slegte tye beleef, baie gelag en baie gehuil, vriendskappe gevorm en mense leer ken, soms ge"suffer", baie gegroei, verhoudings gebou, kinders groot gemaak, huis gebou. Kortom: hier het ons gesin vir 15+ jaar geLEEF! En met daardie oproep het my afskeid neem begin.

'n Dol paar maande het gevolg met 'n paar onverwagte gebeurtenisse wat ons beplanning deurmekaar gekrap het. Laaste kuiers met goeie vriende, beloftes van weersiens, baie trane en die stille wete dat alles tog gaan verander... En voor ons ons oë kon uitvee was die karre gepak, het ons vir Pappa en Mamma gegroet en met oë wat al die laaste beelde wil opslurp, stadig uit Piet Retief gery. Ek soek woorde om daardie gevoel te beskryf... en ek kry niks...

Baie teenstrydige emosies het in my gewoel vir aandag: opgewondenheid oor nuwe geleenthede, vrees vir die onbekende, hartseer oor almal wat ek moet agterlaat, dankbaarheid oor so baie spesiale vriende wat ek gemaak het, twyfel of ons die regte ding doen, sekerheid dat ek reg is hiervoor, angstigheid oor hoe alles sal uitwerk, vertroue dat God in beheer is....

En nou is dit 'n volle maand later. Die dogters is al 2 weke in hul nuwe skool. Ons soek nog steeds huis en bly solank in n klein woonstelletjie. Ons het nuwe plekke ontdek en nuwe mense leer ken. Ons het heerlike kuiers met ou vriende ingewerk. Ons het onverwagse en spesiale ontmoetings met die Here gehad en 'n nuwe geestelike tuiste gekry. Ons het op die strand gaan stap en die nuwe omgewing verken.

Ek het al moedeloos en verlate gevoel, dan weer dankbaar en opgewonde. Ek moet leer om wasgoed droog te kry in 'n anderste klimaat en die weer leer "lees". Ek moet 'n nuwe haarkapper, apteek, dokter soek. 'n Nuwe week-roetine vestig met veranderde skooltye en afstande. Ek moet soms my "pose" hou as ek eintlik net myself wil jammer kry en verlang. Ek moet myself herinner dat hierdie NIE vakansie is nie, dat dit nou huis is. En oor en oor moet ek myself weer totaal oorgee in God se hande. Herinner word dat hierdie seisoen deel is van Sy reis met ons, met my.

Die eerste Sondag hier, het ons saam met Braam & Rentia hul gemeente in Mosselbaai besoek. Die predikant se boodskap het uit Mattheus 11 gekom: "kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is" (ook emosioneel) en hy het dit ook uit die Message gelees waar daar staan: "Learn the unforced rhythms of grace" Dit was vir my SO mooi. Gisteraand tydens ons aanbiddingsdiens by Eden flits hierdie woorde weer oor die skerm. En ek besef: dit is presies wat ons ervaar - unforced rhythms of grace!! Kom dus saam met my op hierdie reis van oppe en affe, van wisselende emosies. Soos die see se eb en vloed, die seisoene wat mekaar jaar na jaar volg; so het die lewe 'n bepaalde ritme. Ons gaan dit ervaar en geniet!