Saturday, 14 March 2015

Desember op 'n drafstap

Net soos wat ek nie 'n oggendmens is nie, is ek ook nie 'n begin-van-die-jaar mens nie. Dit voel altyd vir my asof ek van 'n bewegende voertuig afgelaai word en al hardlopende grondvat. Die dat ek eers teen einde Februarie sover kom om my Desember-vakansie ervarings neer te pen. Mosterd na die maal - ek weet!

As die lewe uit ritmes bestaan, is Desember in die Tuinroete beslis 'n allegro. Van einde November af is die verandering al duidelik sigbaar: al hoe meer "uitlandse" nommerplate op die pad, langer toue in die mall, minder parkering by die strand en geen versekering van 'n tafel by jou gunsteling koffie-plek nie.

Ons het al almal die briewe in die Huisgenoot gesien van die tannies wat elke Januarie so kla oor die Desember kuiergaste. Hulle vat jou huis oor, maak jou yskas leeg, en dop jou beursie heeltemal om! Hulle soek goedkoop verblyf en laat 'n handoek- en skottelgoedspoor! Hierdie Desember het ek so bietjie 'n idee gekry waaroor hulle skryf: van die 28e November tot 21 Januarie, het ons gesin net 5 aande alleen in ons huis geslaap.

Maar daar was 'n paar groot verskille tussen my gaste en dié van die Huisgenoot-tannies! Die gaste wat oorgeslaap het, het meer as hul kant gebring, gehelp kosmaak en skoonmaak, en soms die yskas voller agtergelaat as wat hulle dit gekry het (veral die Kersfees slaaie  ) Ons huis is gevul met harts-geselsies, uit-die-maag-lag-buie en sommer-net-saamwees-tye. Ons het saam op die strand gebak, boot gery en waterspeletjies gespeel, bos toe gegaan (en BOS gegaan!), markies besoek, nuwe plekke ontdek en baie koppies koffie en lang glase wyn geniet.

Dit was so spesiaal om vir ons hartsmense ons nuwe wêreld te wys, om te sien hoe hulle ontspan en die tyd geniet, die mooi wêreld waardeer. As almal wat vir die eerste keer hier was, hulle beloftes van gereelde kuiers gaan nakom, oorweeg ek dit om die George Toerisme Raad vir kommissie te vra!
Iemand het eendag gespot dat een stel gaste skaars regs om die draai weg is, dan kom die volgende kar al links om die hoek en hulle was nie ver van verkeerd af nie! Daar was tye wat ons poot-uit was en kon doen met 'n dag se rus of meer slaap-ure, maar onder geen omstandighede wou ons enige kuiertyd inboet nie! Met elke stel gaste wat vertrek het, het ons 'n paar trane gestort en gewens dat ons die kuiertyd bietjie langer kon rek. 

Dankie vir elkeen van ons vriende wat 'n stukkie van julle vakansie met ons kom deel het. Ons besef dat hier so baie is om te doen en sien en waardeer daarom elke kuier, hoe kort of lank dit ookal was. Soms was daar net tyd vir 'n vinnige koffie (of 'n lekker Kaapse wyntjie!) en ander kere kon ons darem saambraai en om die tafel kuier. Soms moes ons na buurdorpe ry of mekaar "halfpad" tussen bestemmings kry om darem nie uit te mis kontak-maak nie. Ma het saamgewerk deur 'n paar keer pakkies saam te stuur, wat mense gedwing het om 'n draai by ons te maak  Eerste prys was die oorbly-kuiers wanneer ons kon gesels tot die eerste een se oë in die geselskap toe geval het. Ons tent het as gastekamer diens gedoen, en soms het die matrasse tot by die voordeur gelê. Elke keer wanneer ek dan in die oggend uit my kamer kom en die laslappie-beddens in die woonarea sien, het my hart sommer gejubel van dankbaarheid dat ek spasie het en KAN sê: slaap asb oor!

Een van die grootste voorregte was natuurlik om my Pa en Ma vir 2 weke by ons te hê. Om sommer net te kan gesels en rondry en saamwees, asof daar nie 6 maande se wegwees tussen in gelê het nie. En die kans om ons nuwe kleine niggie te ontmoet! Klein Layla is lag-lag die soetste baba wat ek al ooit tee gekom het. Ruan, Neelandrie en Layla het in die kamer langs ons geslaap en ek het haar nie een aand hoor huil nie! Werner het haar die laaste oggend gesmeek om tog net een keer te huil sodat ons kan hoor of sy kan. Haar reaksie: 'n gebabbel en 'n oopmond lag! Sy het met haar glimlaggies en geselsies vinnig in ons harte ingekruip.

Ek kyk deur die vakansie foto's en besef daar is ten minste 7 stelle vriende wat nie eers erens op fotos is nie! So in die toekoms neem ek nog meer fotos - al het ons min tyd vir kuier. Om later deur die fotos te kyk en die geselsies te herleef, is vir my deel van die lekker!

Nou het ek 9 maande oor voor die volgende Desember vakansie: net genoeg tyd om energie en stamina op te bou vir die volgende kuiersessies...

O ja, daar was ongelukkig een stel gaste wie se maniere en vriendelikheid bietjie ontstellend was: Adoons en Kesie van Riebeeck het ons een middag in ons afwesigheid besoek en die hele kombuis omgekeer, die yskas en koskas leeg gemaak en verseker NIE agter hulle sterte skoon gemaak toe hulle uit is nie (ons vermoed hulle is van Riebeecks, want dit het mos nou uitgekom dat die betrokke familie vir al ons probleme in SA verantwoordelik is!) So ons het ten minste EEN sappige brokkie vir die Huisgenoot! Gelukkig kon ons alles binne 2 ure skoonkry en het ons nie enige groot breekskade gehad nie. Bobbejane is beslis die slang in ons paradys.