Nou, enigiemand wat my goed ken, sal weet dat vroeg opstaan en oefen 2 van die dinge is wat regtig baie inspanning en motivering aan my kant benodig! Die gees is gewillig, maar die vlees.... julle ken daardie versie? Maar die volgende oggend was ek 5uur op en toe ek weer sien het ons oor die 4 km kafgedraf. Somtyds was my uitasem meer te danke aan lagbuie as aan opdraandes want dis 'n borrelende, skerp klomp vriendinne wat ek het :-) In die donker het ons gesweet en gekla (ek meer as die ander) maar teen die tyd dat ons klaar gemaak het, het die sonlig oor die berg begin loer en kon ons almal verwonderd sê: Yes, ons het dit gedoen!
Die pragtige Outeniqua berg waarin ek elke dag vaskyk |
Toe ek nou die dag weer na die stap onder die stort staan wonder ek hoekom kan ek nie maar VOOR die stap ook so lus daarvoor voel soos na die tyd nie!? Ek besef dat die lewe ook dikwels so werk. Goeie veranderinge en resultate vra dikwels inspanning en seer "spiere" waarvoor ons nie juis lus is nie, selfs al is daar die belofte van groei en vooruitgang. Ek kyk terug op die afgelope jaar en sien 'n klomp situasies en gebeure wat ons spiere behoorlik gerek en strek het. Die berg lê steil agter ons...
Die huis waarin ons gewoon het (en waaroor ek al vantevore geskryf het), is einde verlede jaar verkoop, en ons moes nuwe blyplek soek. Enigiemand wat onlangs in George blyplek moes huur, sal weet dat dit makliker is om 'n naald in 'n hooimied op te spoor, as 'n ordentlike huis teen 'n bekostigbare prys! Daarby het Werner binne 'n maand nadat ons uit die huis getrek het, kennis gekry by die perseel waar sy werkswinkel was, en ons moes nuwe werkswinkel ook begin soek. Ons het ure (als te saam seker weke!) spandeer agter huise en persele aanry, agente bel, advertensies opvolg ens ens. Intussen het ons weer by Vic baai se vakansie eenhede ingetrek (soos aan die begin) en WEER 4 maande daar gebly terwyl al ons goed gestoor is.
Saam met dit alles het daar allerhande familie-bomme gebars, emosionele issues aangeklop om uitgesorteer te word, ousus se aanpassing in die "bose" Kaap ons hartspiere laat saamtrek en sommer die daaglikse leef en oorleef ons vir elke greintjie asem laat werk.
Daar was tye dat ons God se beloftes en woorde in twyfel wou begin trek. As Hy dit alles beloof het, hoekom gebeur dit nie?? Hoekom vat alles so lank voor dit uitwerk? Ek onthou 'n paar keer dat ek huilend (hygend?) vir Hom gesê het dat ek nou OP is, dat ek vertrou en vertrou het, maar niks werk uit nie! En elke keer herinner Hy my aan 'n ander keer wat ons wag beloon is met iets groters as wat ons voor kon hoop. Dan vertrou en glo ek maar weer, tot die volgende dag/week/maand...
Is alles nou reg en in plek? Nee, nog lank nie! Maar ons HET 'n huis gekry wat ons dadelik geweet het reg uit God se hand is (en wat weereens 'n berg-uitsig het!). En vandag trek Werner in 'n tydelike werkswinkel in. Ou-ou seerplekke is besig om te genees en nuwe grense gestel... Stadig maar seker is daar goed wat in plek val.
Wat is my punt? Dat ek WEET daar wag 'n blink en betekenisvolle toekoms op ons! Maar net soos wat die "lekkervoel-na-die-stap" my nie noodwendig more-oggend makliker laat opstaan nie, net so maak daardie wete nie altyd die lewensbulte wat ek moet klim, platter of meer genotvol nie.
Spiere word nog steeds seer van die inspanning, en ons asems hyg nog steeds soos wat ons besig is om hierdie bult uit te beur.
Maar stukkie vir stukkie breek daar stukkies lig deur, raak die afstande wat ons kan aanpak langer. Die bult wat ek die eerste week stap-stop-stap geloop het, kan ek nou al teen 'n vaste pas (hygend maar darem) klaarmaak.
Midde in die stryd lyk alles soms donker en tevergeefs, raak die moedeloosheid dalk meer as wat jy dink jy kan hanteer, en voel dit asof jy heeltyd op een plek bly, selfs agteruit gly. Maar skielik, wanneer jy dit die minste verwag kom die eerste ligstraal oor die berg en sien jy met verbasing hoe ver jy regtig al gevorder het. Soms duik daar 'n bult op wat mens wil-wil moedeloos maak, totdat jy onthou: maar ek het al 'n soortgelyke een uitgeklim en oorwin, so ek KAN hierdie een ook kafdraf!
Ek leer om vas te hou aan beloftes, Om te glo ten spyte van wat my emosies en my kop my wil wysmaak. Ek kyk terug op ons journey en ek sien bakens duidelik langs die berg af: mense wat op die regte tye langs ons ingeval het vir saamstap, hier en daar 'n pyltjie wat 'n rigtingverandering aangedui het, die plekke waar ons moes stop om iemand anders op te help, ook afgronde waar ons moes kies om nie teen afgetrek te word nie, gelyktes waar ons net rustig kon stap en die mooi om ons bewonder...
In hierdie afgelope jaar het die Here ons op soveel maniere kom sterkter maak. Kom leer wat dit beteken om regtig op Hom, en Hom alleen, te vertrou. Ons verstaan van Hom kom strek en ons kom uitdaag om sekere idees wat ons van Hom gehad het, te toets en te verander. Om Hom te leer aanbid en lief hê net vir Wie Hy is, en nie vir wat Hy vir ons doen nie. Ek moes op 'n plek van "geen uitkoms" wees voordat ek sou weet of ek regtig kan "jubel, al is daar geen druiwe aan die wingerd nie" (Habakuk 3)
Ek weet een ding verseker: Die dinge wat ons nog nie kan sien nie, sal waar word, en dit waarna ons uitsien, sal inderdaad gebeur! (Hebr 11:1) Hoe weet ek dit? God het dit gesê en wat Hy sê gebeur altyd. Tot dan hou ek aan stap en klim (hygend en met seer spiere) en sien met verwagting uit na wat Hy alles gaan doen (Miga 7:7)