Vandag presies 3 jaar gelede, op 'n koue Vrydagmiddag, het ons ons voete in die
Suid-Kaap geplant. Onseker oor die wat
en waar van ons toekoms. 3 jaar!! Aan die
een kant voel dit soos nou die dag, en aan die ander kant soos ‘n leeftyd
gelede.
Vandag kan ons terugkyk na 3 jaar van seën, geluk,
voorsiening, harde klippe kou, alleen tye, nuwe vriendskappe, onsekerheid,
wonderwerke, uitdagings, oorwinnings ....kortom LEWE.
Die aanpassing was by tye moeilik, en ek het in die begin
gesukkel om in te skakel by my nuwe gemeenskap.
Met goeie raad van vriendinne wat al self moes ontwortel en verplant,
het ek gedink ek weet wat vir my voorlê.
Tog het die intensiteit van my emosies my soms totaal verras. Ook die
feit dat ek nie regtig beheer gehad het oor wat wanneer sou gebeur nie. Ek besef vandag dat ons so graag wil hê dinge
moet gebeur soos ONS dit wil laat gebeur, op maniere wat ons glo die beste
is. Ek was in die eerste paar maande
intens alleen, en het alles probeer om dit te verander: probeer inskakel by skool, kerk, selfs ‘n “volunteer”
werkie of twee. Tog was alles tydelik en het dit nooit gelei na meer
standhoudende verhoudings nie. Eers toe
ek die gedagte dat ek dalk nou alleen MOET wees, kans gegee het om in my te
groei, het ek ‘n rustigheid en “contentment” begin ervaar. Ek het besef dat die Here my dalk nou alleen
WIL hê, dat hierdie die ideale geleentheid is om my verhouding met die Hom
groeikans te gee (ons sê mos graag ons is SO besig, en wens vir meer tyd om by
Hom uit te kom). Terwyl ek nie iemand
anders gehad het om mee te gesels en my onsekerhede en vreugdes te deel nie,
was Hy die gewillige luisteraar, die Een met die antwoorde en trooswoorde. Geleidelik het ek agtergekom dat ek nie meer
mense mis nie, dat ek heel gelukkig is so op my eie met net die Here (en darem
my gesin ☺) as
geselskap.
Toe eers het my vriendskappe begin blom. En hoe het dit nie
toe gefloreer nie! Ek het gespeel met
die idee om ‘n “celebration” ete te hou om ons 3 jaar van Suid-Kapers wees, te vier. Maar na ‘n rukkie
van lysies opstel het ek besef dat my lysie van mense wat ek daar wil hê net
te lank is om prakties te wees!! Die
Here het ons geseën met vriende wat vir
ons en vir mekaar omgee, wat ons kom leer het wat dit beteken om mekaar te dra,
wat saam met ons kan lag tot die trane loop, en saam kan huil tot ons uitbars van die lag, wat ons geloof kom
versterk het en ons uitgedaag het om meer te vertrou, wat vir ons gebid het
wanneer ons nie self kon nie.
Ek het kort na ons hier aangeland het begin blog; deels om
vriende op datum te hou met ons doen en late, en andersins as terapie vir
myself. Ek het die naam Rhythms of Grace gekies ogv die skrif gedeelte in Matt
11:28-30 (Message).
Dit was die
skrifgedeelte in die Mosselbaai-diens
die Sondagoggend net na ons hier aangekom het, en weereens die eerste
Sondag wat ons in George kerk bygewoon
het. Daarna het dit soortvan my rigtingwyser geword wanneer die onsekerheid of
verlange my oorval het. Vandag kyk ek
terug en staan verbaas oor hoe van toepassing die woorde op ons lewens is. Ek het besef dat daar werklik ritmes in ons
lewens is. Dat daar vir alles ‘n tyd is, dat daar altyd goeie tye volg op
moeilike tye. Ons wil so graag ons lewens sien as die een hoogtepunt op die
volgende, maar hoogtepunte kan slegs hoogtepunte wees, as daar laagtes tussen
is. Anders is dit een lang gelykte. Soos
getye wat verander en golwe wat uitspoel en weer terugtrek, so is ons lewens
ook ‘n permanente opeenvolging van ritmes: op en af, geluk en hartseer,
teleurstelling en opgewondenheid....
Maar oor dit alles, soos ‘n banier of ‘n koepel, span God se genade. Die
“Grace” wat ons nodig het om heelhuids deur die swaarder tye te kom.
Was alles maanskyn en rose in die afgelope 3 jaar?
Allesbehalwe!! Emosioneel is ons deur
seker van die moeilikste tye van ons lewe saam: My pa se siekte en
amputasie, Werner se ma wat oorlede is, sy pa se dementia wat gelei het tot
allerhande lelike familie-struwelinge en aantygings, besigheidsuitdagings, finansiële
struggles, ons oudste wat in die Kaap gaan studeer, my onvermoë om my ma hulle
by te staan met hulle trek. Die feit dat
ek my ouers so min gesien het, was beslis vir my moeilik.
Tog is my grootste
emosie as ek terugkyk een van allesoorheersende dankbaarheid. Dankbaarheid vir
die Here se voorsiening wanneer ons dit nodig gehad het, vir die mense wat Hy
oor ons pad gestuur het, die gemeenskap waarin Hy ons geplaas het, die selgroepe waarvan ons deel is, die
geleenthede wat Hy vir ons oopgemaak het, die groei wat ons persoonlik en
geestelik ervaar het, die pragtige omgewing waarin ons woon, die nuwe vriendskappe
wat ons gesmee het, vir ou vriendskappe wat behoue gebly het, die geleenthede en groei wat ons dogters hier beleef het, selfs dankbaarheid vir ‘n paar van die moeilike tye, want
daaruit is verseker geloof en vertroue gebore wat ons andersins nie sou gehad
het nie.
Sou ek dit alles weer doen as ek geweet het wat voorlê? Ja,
ja en JA. Selfs met al die verlange en sukkel tye in ag geneem, is die afgelope
3 jaar beslis van die beste 3 jaar van my lewe. En kan ek met Miga 7:7 saamstem:
7Ek, daarenteen,
sien met verwagting uit
na wat die Here gaan doen.