Tuesday, 9 September 2014

Doodgewoon uitsonderlik

So 'n week gelede op 'n Sondagmiddag besluit ek en Werner om so bietjie op Wildernis se strand te gaan stap. Glo dit of nie, ek was nog nooit daar nie! En vir meer as 20 jaar al is hierdie omgewing ons gereelde vakansie plek! Ter versagting: ek het sedert my eerste besoek aan die Tuinroete al gesê hier is net TE veel mooi plekke in hierdie Eden om dit in 'n paar vakansies alles te kan sien!

In elk geval, terug by ons uitstappie. Dit was een van daardie dae waar juis die gewoonheid daarvan, dit uitsonderlik gemaak het.

Wildernis strand is ideaal vir stap: dit hou net aan en aan! Soos gewoonlik is my kamera byderhand. Ek het heel moontlik soos 'n lid van een van daardie busvragte Chinese toeriste gelyk: kliek-kliek alles wat ek sien  Dis een van my grootste wense - om alledaagse dinge met my lens te kan vaslê in foto's wat werklik die "mood" kan oordra. (Niggie Madi se foto's is vir my so 'n inspirasie- dis wat ek wil kan doen!)
  • die familie wat by Leentjies-klip van mekaar foto's neem terwyl die kleintjies vir die branders weghardloop
  • 'n gesin wat diep in gesprek al langs die waterrand stap
  • 'n jong rifrug wat vir die eerste keer by die see kom: storm opgewonde die water in oppad na 2 spelende kinders toe, net om vervaard om te spring en terug te hardloop toe die water ewe skielik "terug storm"
  • die blink klippies as die see terug trek
  • mense wat rustig op 'n strandhuis se balkon sit en lees

Ons raak aan die gesels met 'n ou omie wat wag dat sy seun witmossels uit die sand grawe vir aas. Hy gesels laaaang vis praatjies met Werner en vertel baie grappies oor vissermanne en hul vrouens! En lag dan heerlik uit sy maag vir sy eie grappe!!

Later ry ons met Milly (o ja, Daisy het toe Milly Vanilly geword) in Wildernis rond. Ek verlekker my in 'n houtheining wat gebou is om 'n ou Melkhoutboom se tak te akkomodeer. Verbeel my altyd bome wat afgesaag word moet iets kan voel (wie onthou Het van Verlangekraal?)



Ons kry 'n lang strook spoorlyn waar ons opsluit stop en (nog!) foto's neem. Met die afklouter teen die skuinste af sny 'n skerp klip my groottoon aan die onderkant oop. Die sny lyk diep, dit bloei erg en 'n stuk vel hang sommer los. Nou kyk, ek het myself nog nooit as 'n "drama queen" beskou nie, maar dalk is dit tyd om myself te herevalueer!! Met 'n sakdoek om my toon gestrik jaag ons huis toe (as jy Milly se 50 myl p/h jaag kan noem!)


Ek sien alweer hospitaalsake in my gedagtes: ongevalle, steke... dalk selfs amputasie! Dit bloei erg, is vrekseer en ek kry myself vreeslik jammer. Nodeloos om te sê is dit toe NIE so erg nie (dankie tog vir dikvellige plaasvoete). Werner moes 'n stuk vel afsny (grillerig!!), ontsmet en verbind en toe is ek weer mobiel. Loop nou wel met my regter tone in die lug, maar ek kan loop.

En so ongemerk word 'n rustige Sondagmiddag in my herinneringe ge"file" as spesiaal - juis omdat dit doodgewoon was (toon besering uitgesluit). Ek onthou die gesegde teen die muur van Pomodoro, 'n Italiaanse restaurantjie in Wildernis:
We don't remember days, we remember moments
 
En selfs in die Bybel lees ons iets soortgelyks: Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie (Sag 4:10) Dis juis die klein momente aanmekaar gestring wat 'n dag skep wat in ons geheues vasgelê word as spesiaal.

No comments:

Post a Comment