Saturday, 14 November 2015

Job, krewe en ‘n Annus Horribilis

“Hoe weet mens wanneer ‘n slegte jaar uiteindelik verby is? Is dit ‘n kalender jaar, ‘n finansiële jaar… hoe meet mens dit?” Dit was my broer se vraag so ‘n paar weke gelede toe daar nogmaals iets slegs met ‘n nabye familielid gebeur het.  Iemand anders in die geselskap het laat hoor  “ ek het al begin wonder of iemand een of ander vloek oor ons familie uitgespreek het! Wat kan nou NOG gebeur?”

Hierdie vrae het Donderdagoggend in my gedagtes weerklink toe ek na ‘n lang slaaplose nag, in die gang afstap om te gaan koffie maak.  Werner se ma is die vorige aand oorlede en hy het die hele nag by sy pa deurgebring om te help met al die praktiese dinge: dokter en polisie bel, begrafnis ondernemers om die liggaam te verwyder etc. Ek het ook begin dink “nou wat NOG?”

Ons familie se “annus horribilis” (soos die Queen sou sê ) het verlede jaar in Oktober begin toe my broer se dogtertjie tydens haar ses weke ondersoek met   Craniosynostosis  gediagnoseer is en op 7 weke ‘n skedeloperasie moes ondergaan. Alles het goed afgeloop en sy is vandag blakend gesond, maar dit was tog ‘n skok vir ons almal. Rondom Nuwejaar is my liefling-niggie met aggresiewe borskanker gediagnoseer en was dit die begin van baie maande se chemo en bestraling vir haar. My tannie het tydens ‘n knie operasie hart- komplikasies ontwikkel en by die dood omgedraai. Onlangs het sy weer daarmee in die hospitaal beland. My sussie het weereens gewasse in haar ingewande ontdek en het na die chirurgie  vir ‘n hele paar benoude oomblikke gesorg.  My pa se been is na baie pyn en lyding geamputeer en hy en my ma moes amper 3 maande in Jhb deurbring voor hulle kon teruggaan huis toe. My oom van oor die 80 is op sy plaas in Limpopo aangeval en moes ‘n week in ICU deurbring.  Swaer Llyll het erge infeksie in sy groottoon opgedoen (gevolg van besering gekombineer met diabetes) en sy toon in geamputeer. Ons is steeds nie seker of hulle die res van sy voet gaan kan red nie.  Werksgewys het my broer ‘n groot kontrak verloor, ‘n neef sy werk verloor en ‘n paar ander familielede sukkel om kop bo water te hou.  En nou is ma Annetjie oorlede en my man het SEER.

Skielik is dit asof die Here my ‘n ander sy van die saak wys. Wat as dit nie ‘n “vloek” is nie, maar eerder ‘n proses van groei. Ek dink aan een van my gunsteling preke van ds Roelf, jare gelede. Van sekere krewe wat hul doppe vir ‘n tyd moet afskud sodat hulle kan groei. In hierdie tyd is hul sonder beskerming , baie weerloos en oop vir seerkry. Maar as hul die doppe ophou, kan hulle nie groei nie.  Wat as hierdie dinge hierdie jaar oor ons pad gekom het sodat ons kan groei? Ons het almal die afgelope jaar by tye baie weerloos en uitgelewer gevoel, maar ek weet verseker dat nie een van ons meer dieselfde is as verlede jaar hierdie tyd nie… Ek word ook herinner aan die verhaal van Job: dat die Here hom sterk genoeg geag het om slegte dinge oor te kom, omdat Hy geweet het dat Job nie sal opgee en oorgee nie. En dat Job daarna geseën is met meer as wat hy vantevore gehad het.  Wat as die Here ons as familie sterk genoeg geag het om hierdie dinge deur tegaan omdat ons beter en sterker anderkant KAN uitkom? Beter toegerus om vir Hom ‘n verskil te maak…?

 Ek sê nie dit IS hoe dit werk nie…. Maar WAT AS…?


Skielik voel ek minder uitgelewer en amper “uitgekies”. En ek wil Ruan se vraag van nou die dag antwoord: “Ek dink ‘n slegte jaar is verby wanneer die nodige groei  plaasgevind het, wanneer ons oorgegee het en die Here toegelaat het om ons te verander soos Hy wou. Daarna sal ons beskermingsdoppe weer vorm en ons ‘n nuwe lewensfase ingaan.  Reg vir nuwe avonture en seëninge!”  Ons kan nie die getal maande bepaal nie, maar die uitkoms wel.
" We can rejoice, too, when we run into problems and trials, for we know that they help us develop endurance. And endurance develops strength of character, and character strengthens our confident hope of salvation. And this hope will not lead to dissapointment. For we know how dearly God loves us..." Romans 5:3-5