“Hoe weet mens wanneer ‘n slegte jaar uiteindelik verby is?
Is dit ‘n kalender jaar, ‘n finansiële jaar… hoe meet mens dit?” Dit was
my broer se vraag so ‘n paar weke gelede toe daar nogmaals iets slegs met ‘n
nabye familielid gebeur het. Iemand
anders in die geselskap het laat hoor “
ek het al begin wonder of iemand een of ander vloek oor ons familie uitgespreek
het! Wat kan nou NOG gebeur?”
Hierdie vrae het Donderdagoggend in my gedagtes weerklink
toe ek na ‘n lang slaaplose nag, in die gang afstap om te gaan koffie
maak. Werner se ma is die vorige aand
oorlede en hy het die hele nag by sy pa deurgebring om te help met al die
praktiese dinge: dokter en polisie bel, begrafnis ondernemers om die liggaam te
verwyder etc. Ek het ook begin dink “nou wat NOG?”
Ons familie se “annus horribilis” (soos die Queen sou sê ☺)
het verlede jaar in Oktober begin toe my broer se dogtertjie tydens haar ses
weke ondersoek met Craniosynostosis gediagnoseer
is en op 7 weke ‘n skedeloperasie moes ondergaan. Alles het goed afgeloop en sy
is vandag blakend gesond, maar dit was tog ‘n skok vir ons almal. Rondom
Nuwejaar is my liefling-niggie met aggresiewe borskanker gediagnoseer en was
dit die begin van baie maande se chemo en bestraling vir haar. My tannie het
tydens ‘n knie operasie hart- komplikasies ontwikkel en by die dood omgedraai. Onlangs
het sy weer daarmee in die hospitaal beland. My sussie het weereens gewasse in
haar ingewande ontdek en het na die chirurgie vir ‘n hele paar benoude oomblikke gesorg.
My pa se been is na baie pyn en lyding
geamputeer en hy en my ma moes amper 3 maande in Jhb deurbring voor hulle kon
teruggaan huis toe. My oom van oor die 80 is op sy plaas in Limpopo aangeval en
moes ‘n week in ICU deurbring. Swaer
Llyll het erge infeksie in sy groottoon opgedoen (gevolg van besering
gekombineer met diabetes) en sy toon in geamputeer. Ons is steeds nie seker of
hulle die res van sy voet gaan kan red nie.
Werksgewys het my broer ‘n groot kontrak verloor, ‘n neef sy werk
verloor en ‘n paar ander familielede sukkel om kop bo water te hou. En nou is ma Annetjie oorlede en my man het
SEER.
Skielik is dit asof die Here my ‘n ander sy van die saak
wys. Wat as dit nie ‘n “vloek” is nie, maar eerder ‘n proses van groei. Ek dink
aan een van my gunsteling preke van ds Roelf, jare gelede. Van sekere krewe wat
hul doppe vir ‘n tyd moet afskud sodat hulle kan groei. In hierdie tyd is hul
sonder beskerming , baie weerloos en oop
vir seerkry. Maar as hul die doppe ophou, kan hulle nie groei nie. Wat as hierdie dinge hierdie jaar oor ons pad
gekom het sodat ons kan groei? Ons het almal die afgelope jaar by tye baie
weerloos en uitgelewer gevoel, maar ek weet verseker dat nie een van ons meer
dieselfde is as verlede jaar hierdie tyd nie… Ek word ook herinner aan die
verhaal van Job: dat die Here hom sterk genoeg geag het om slegte dinge oor
te kom, omdat Hy geweet het dat Job nie sal opgee en oorgee nie. En dat Job
daarna geseën
is met meer as wat hy vantevore gehad het.
Wat as die Here ons as familie sterk genoeg geag het om hierdie dinge
deur tegaan omdat ons beter en sterker anderkant KAN uitkom? Beter toegerus om
vir Hom ‘n verskil te maak…?
Ek sê
nie dit IS hoe dit werk nie…. Maar WAT AS…?
Skielik voel ek minder uitgelewer en amper “uitgekies”. En
ek wil Ruan se vraag van nou die dag antwoord: “Ek dink ‘n slegte jaar is verby
wanneer die nodige groei plaasgevind
het, wanneer ons oorgegee het en die Here toegelaat het om ons te verander soos
Hy wou. Daarna sal ons beskermingsdoppe weer vorm en ons ‘n nuwe lewensfase
ingaan. Reg vir nuwe avonture en seëninge!” Ons kan nie die getal maande bepaal nie, maar
die uitkoms wel.
" We can rejoice, too, when we run into problems and trials, for we know that they help us develop endurance. And endurance develops strength of character, and character strengthens our confident hope of salvation. And this hope will not lead to dissapointment. For we know how dearly God loves us..." Romans 5:3-5
Baie dankie Suna vir opbouende stuk
ReplyDeleteJohn en Yda
Dankie Suna! Die Here is met julle en julle SAL terug kyk en 'groei' sien! Lief julle!
ReplyDeleteSjoe Suna, hierdie was net weereens 'n groot eye-opener vir my! Dankie vir die deel daarvan. Baie opbouend! En julle bly in my gebede. Lief vir jou! Sonia
ReplyDelete