Daar is nou al so baie geskryf rondom die It’s Time
gebedsbyeenkoms van Saterdag 22 April, dat NOG ‘n skryfsel seker onnodig is.
Maar ek gaan tog my stuiwer ook in die armbeurs gooi.
Ek was vooraf eintlik glad nie lus vir die groot trek (800km
x 2, tente, kos, bagasie) idee van koud slaap, toue mense en Vrystaatse stof
nie. Maar diep binne het ek geweet dat ek dit NIE wil mis nie, dat ek oortuig
is dat hierdie geleentheid deur God self beplan is en dus besonders gaan wees. Gelukkig het ons ook vriende soos Braam en Rentia wat nie "nee" vir 'n antwoord vat nie.
Ek het vooraf vermoed dat daar weer baie kritiek en polemiek
rondom die dag gaan wees, maar is uitgeboul deur die venyn in sommige mense se
opmerkings. Ander weer wat tot op die letter
wil weet wat presies het Angus gesê, hoe het hy dit gesê, wanneer het hy dit gesê …..
Al gehoor van die beginsel dat die geheel groter is as die
som van die dele? Nou dit is wat
Saterdag vir my was: iets baie groter as die liedere wat gesing is, die woorde
wat gesê is, die gebede wat gebid is. Groter as die kilometers karre wat
geduldig tou gestaan het, die massas mense (duisende of miljoene, wat maak dit nou
eintlik saak presies hoeveel dit was! BAIE is BAIE!!) wat saam
geduldig in die warm son gewag het, die duisende kampeerders wat die koue
Vrystaatse naglug trotseer het.
Ja, ek het ook gedink dat hierdie nou darem die ideale kans
vir die Here is om ordentlik te wys wie Hy is. Om iets “mind-blowing” te doen
wat sou verseker dat niemand meer sou twyfel in of aan Hom nie. Ek het selfs ‘n
paar keer vir Hom gevra of Hy nie asb my oë wil oopmaak om die leërskare engele
rondom ons te sien nie, want ek WEET hulle was daar! (seker ook maar goed Hy
het nie, ek sou my heel moontlik boeglam geskrik het J)
Wat my bybly is ‘n magdom klein dingetjies, goed wat my hart
aangeraak het en laat besef het dat God HIER is:
- · Die spontane lofsang deur ‘n groep Samoaanse sendelinge Vrydagaand in die kamp. Ons het ingeval saam met baie ander kampeerders en ‘n hemelse tyd van saam loof beleef. Daar is gesing in Engels, Samoaans, Afrikaans en Zoeloe… en die liefde tussen mense wat volslae vreemdelinge vir mekaar is, was tasbaar.
- · Die wakker word Saterdagoggend met die geluid van ramshorings oral om ons… en die dowwe “hum” van duisende karre wat tou staan om in te kom.
- · Die bejaarde Franse tannie wat al vroeg met haar kombers en koffiefles regsit by die agterste toring, om vir hierdie land waar sy nou woon, te kom bid
- · Die getuienisse rondom die organisasie… reelings wat in plek geval het selfs voor mense besef het daar is ‘n behoefte aan iets spesifiek. Terloops, dit alleen tel al as ‘n wonderwerk: om in 6-8 weke ‘n geleentheid van hierdie skaal te beplan EN laat werk, nie in ‘n stadion of ander plek met die nodige geriewe nie, maar op ‘n oop Vrystaatse plaas sonder enige infrastruktuur, kan net bonatuurlik wees.
- · Die 12-jarige seuntjie wat die shofar blaas met krag en outoriteit (en daarmee saam ‘n klomp bose magte die vlaktes injaag!)
- · Die verskeidenheid mense: gesinne met klein kindertjies, oupas en oumas. Groepe jongmense, groepe vrouens, groepe mans. Jong getroudes en ou ooms en tannies wat hande vas hou. Werkendes en werkloses, mense met hoop vir die land en die wat al hoop opgegee het. Verskillende tale, kulture, kleure, selfs nasionaliteite. Tannies met sykouse en jongmans met tatoes…almal soekend na ingryping deur die een ware God
- · Die rippel van die Amen uitroepe wat agter ons net aan en aan spoel soos golwe op ‘n strand. AMEN…AMen…Amen….amen….
- · Die baldadige dans van sambrele en hoedens toe die warrelwind dit gryp en saamneem op sy pad deur die skare.
- · Die sagte briesie daarna wat voor van die verhoog se kant af oor ons spoel.
- · Die beeld van ‘n miljoen mense (tot iemand anders kan bewys is dit die syfer waarop ek staan J) wat op hul knieë gaan om God te smeek vir vergifnis en hulp vir ons land… dit sal seker vir altyd in my hart en geheue ingegrafeer wees!
- · Die wete dat ek hier sit saam met so baie ander, met die gesamentlike versugting: Here, kom maak ons land en haar mense gesond!
- · Die besef dat daar mense soos Mamma Johanna is wat al vir donkiejare bid vir hul dorpe en ons land, wat vandag êrens in hierdie skare sit en kan ervaar dat die Here hulle gehoor het.
- · Die gevoel van bekendheid ….dit het gevoel asof ek elke persoon wat by my verbyloop op een of ander manier KEN (soveel so dat ek onnadenkend ‘n bekende gesig nader gewink het om te groet…net om te besef sy is eintlik ‘n “celebrity” en sal my nie ken nie!! J Dankie Hettie, jou vriendelikheid was deel van God se aanraking daardie dag )
- · En toe alles verby is die strome mense wat net aanhou en aanhou. Selfs al staan ek op ‘n hopie grond vir beter sig, kon ek nie die einde van die skare sien nie. Ek het dadelik gewonder of DIT is hoe dit gelyk het toe die Israeliete uit Egipte getrek het…. en besef daardie see het nie net op ‘n skrefie oopgetrek nie, dit moes ‘n HOOFWEG gewees het!
As mens al hierdie individuele stories en oomblikke bymekaar
tel, is die antwoord iets groter as wat enigeen van ons in woorde kan saamvat….
Dan word die geheel iets Goddeliks, en dit is wat It’s Time vir my was: die dag wat God vir my (en moontlik 'n miljoen ander mense) kom wys en sê het dat Hy soveel groter is as dit wat ons kan sien of hoor of beskryf. HY IS... en dis dit!
Wat 'n voorreg om te kan deel in jou ervaring. Baie besonderse raakvat van julle belewing. Dankie. Dit is baie spesiaal.
ReplyDeleteWow! Jy het 'n slag met woorde, maar hierdie is net ongelooflik! Hoendervleis mooi! Dankie! Sonia
ReplyDeleteDankie Suna. Daniël 9:20-23
ReplyDelete