Monday, 14 September 2015

Tussen 'n Rots en 'n "harde plek"

Ek en Layla by Pappa in die kliniek
Mens is nooit daarop voorberei wanneer iets gebeur wat voel asof dit jou hele lewe omdop en vir altyd verander nie. En alhoewel daar gebeure is wat stelselmatig daartoe aanleiding gee, voel dit altyd asof alles eensklaps gebeur: gister was alles nog normaal en voorspelbaar, en skielik is niks seker nie, en lyk die toekoms deurmekaar...

So het ek gevoel toe my pa 'n paar weke gelede geopereer moes word.

Hy sukkel al 'n hele paar maande met 'n seer voet, later 'n seer aan sy been. Sukkel om te loop. En dit word nie beter nie. Ons kinders is nie een naby nie, en kry maar telefoniese updates by ma ('n van Helsdingen- haar woorde!- wat nie maklik erken as dinge te veel raak nie).  Eers toe sy emosioneel en deurmekaar oor die telefoon begin klink, vermoed ons onraad. Fred en sy gesin kuier daar vir 'n naweek, en daarna ry Zelna en Ruan vir 'n dag Piet Retief toe om self te gaan kyk. Dan eers besef ons dat die situasie baie ernstig is, en toe 'n tweede dokter na Pappa se been kyk, is sy diagnose: amputasie is nou al uitweg!

En daar begin 'n roller-coaster rit wat ons almal by tye uitasem en plat geslaan laat, ander kere weer dankbaar vir "small mercies", uiteindelik verwonderd oor die Here se vooruitbeplanning, ingryping, versorging en wonderwerkende krag. En altyd Sy liefde! Weereens besef ek ook hoe God se "Rhythms of Grace" altyd daar is vir en met ons. Al gaan ons deur donker dale van wanhoop, of ry ons op kruine van geluk - Sy genade kry ons waar ons ook al is op die lewensreis.

Ek glo dat elkeen van ons in die familie verskillende ervarings, gewaarwordings en gevoellens gehad het, daarom is hierdie stukkie suiwer op MY ervaring gegrond, en kan ek nie waarborg dat die ander lede van my familie dieselfde dinge as ek ervaar het, of dieselfde voel oor die gebeure nie. Mamma, Zelna, Ruan en Fred  het die slegste deel van die paar weke deurgemaak (die diagnose, besluite neem oor behandeling, Pretoria toe gaan en Ongevalle trotseer) terwyl ek nog in George was en ek glo ons maak elkeen op sy eie manier sin van die gebeure.

Vir my begin die nagmerrie gevoel toe Zelna bel om te sê van die amputasie diagnose: Dit het gevoel asof 'n swaar klip op my hart kom lê, en niks kon dit lig nie. Ek het nag-lank met die Here gepraat, gevra vir rigting en antwoorde, maar die klip het bly druk. Vandat ons in George is het Hy 'n lang steil pad met my gestap oor vrees, vertroue, oorgawe... en ek kry dit nou al geruime tyd reg om Hom volkome te vertrou vir die toekoms, finansies etc. Maar eensklaps het daardie vrees-rots weer homself op my hart neergeplonk, en niks kon dit beweeg nie. Ek weet ek moenie, hoef nie bang te wees nie, weet dat Hy altyd in beheer is en SAL SORG, maar steeds het daardie klip geSIT! Deur die tweede nag vra ek Hom vir iets waaraan ek kan vashou, wat vir my 'n anker sal wees in die tyd wat voorlê.

Die volgende oggend ontvang ek die gereelde Kruispad e-pos. Die opskrif trek my aandag: GLO. En dit is wat ek lees:
Ons moet soos Abraham, te midde van alle omstandighede, bly glo. Ons moet met alles in ons bly glo dat God vir ons sal deurkom. Al lyk die realiteite om ons anders. Al skree selfs die wetenskap teen ons, moet ons aanhou glo. Selfs al het ons ’n paar keer buite die wil van God opgetree moet ons aanhou glo. Ons moet glo in ’n liefdevolle God. Ons moet glo dat God alles sal omkeer en vir ons op die regte tyd sal deurkom – soos Hy vir Abraham en Sara deurgekom het.
 Glo in God en hou met alles daaraan vas. Sorg dat jou verhouding met God in plek en gesond is. God se seën sal op jou neerdaal en wanneer God seën, seën Hy mildelik, sodat van die seën ook op die mense rondom jou sal val. 
Die donker gedrukte dele het vir my uitgestaan, en ek het die stukkie op my selfoon ingetik om oor en oor te lees as ek onseker voel. Skielik het die rots gelig, en was ek rustiger. Daardie onverklaarbare vrede waarvan Fil 4:7 van praat het my gevul. Toe ek die aand Psalm 91 lees, het ek ook geweet dat ek dit een of ander tyd vir Pappa moet lees. Joe Niemand se lied "Ek sal nie bang wees nie" gegrond op Psalm 91 was my anthem vir die volgende paar dae.

Intussen moes daar baie besluite geneem word en Pappa so gou as moontlik by 'n vaskulêre sjirurg kom. Volgens die dokter was tyd 'n faktor: hoe langer gewag word, hoe verder versprei die infeksie, en hoe minder sal die sjirurge vir my pa kon doen. My Pa-hulle het nie 'n mediese fonds nie, en Steve Biko hospitaal in Pta was die enigste uitweg. Ons weet almal van al die "horror"-stories wat oor staatshospitale vertel word, en dit het bygedra tot baie spanning en bekommernis. Zelna het saam met Pappa en Hennie Pta toe gery, terwyl Fred agterna gekom het met Mamma. In Pretoria het hulle (soos verwag is) nie juis 'n vriendelike ontvangs gehad nie. Na ure se sukkel, heen-en-weer ry, rondgestuurdery en dreigemente, is my pa uiteindelik by Ongevalle opgeneem.

Hoe die personeel gekeur word wat by Ongevalle werk, weet ek nie, maar ek vermoed daar is 'n lang lys van negatiewe karakter-eienskappe waaraan hulle moet voldoen! Die susters was onbeholpe, beslis nie lus om te help nie, ongeskik en het nog nooit gehoor van empatie of omgee nie. In die 3 dae wat my pa daar gelê het, is sy wond nie een keer versorg nie, het ons pille tussen sy beddegoed opgetel en is sy (eie) kussings onder sy kop uitgesteel. Hy was baie deurmekaar, swak en in pyn, tog sou die personeel net sy medikasie en kos daar neersit, en as een van ons hom daarmee wou help, is ons uitgejaag. Sy beddegoed is nie omgeruil nie, en hy het ook geen hulp ontvang as hy 'n nood gehad het nie. En werksdruk was NIE die oorsaak nie! Alhoewel daar baie pasiënte was het die susters (en soms selfs die dokters) meestal rustig rondgestaan en geselsies maak, in groepies tee gedrink, op hulle selfone gepraat en speel en so nou en dan saam-saam 'n pasiënt bekyk - maar min gedoen... En tussen deur sou die sekuriteitsman (wat beslis bo aan die hierargie lys by die hospitaal is), breëbors deur die kamer loop en kliphard mediese raad uitdeel (soos dat ons net my pa se voet in Jeyes Fluid moet was en sommer 'n paar lepels daarvan moet drink ook, dan sal alles regkom...!!) Wat my pa (en die ander pasiente) daar moes deurmaak verdien geen mens nie! (Na die operasie was ons baie verlig toe my pa se dat hy niks van daardie 3 dae kan onthou nie!)

Layla probeer Oupa opbeur voor die operasie
 Saterdagaand na 8 uur het daar uiteindelik vir hom 'n bed in die vaskulêre saal oopgegaan, en is hy daarheen gestoot. Wat 'n verskil! Die verpleegsters het onmiddelik vir hom skoon klere aangetrek, die wond versorg, sy leêr sorgvuldig gelees en ons breedvoerig uitgevra oor sy toestand. Toe ons in die gang afstap, en hulle Pappa in 'n enkelkamer instoot, het ek besef dat die Here hom hiermee 'n baie spesiale stukkie seën gegee het: sy eie kamer, privaatheid en tog regoor die "nurses station" sodat hulle dadelik kon sien as hy hulp nodig het. Ek het vir 'n oomblik gewonder wie dan die "ander mense" gaan wees wat God deur ons wil seën, maar Pappa was nou ons prioriteit en ek het die gedagtes eenkant toe gestoot.

Hy is ook op die "spoedlys" vir teater geplaas, wat sou beteken dat hy 'n prioriteitsgeval is sodra daar 'n teater-opening  is. Van Sondagoggend af het hy dus geen kos gekry nie, sodat hy enige tyd gereed sou wees vir die operasie. Die volgende 2 dae het gewentel om besoektye en ons het baie koppies koffie in die hospitaal kafeteria afgesluk, wagtend op die oproep dat Pappa oppad is teater toe. Sondag en Maandagmiddag het verby gegaan, maar ons was steeds hoopvol.

Toe ons Maandag aand 7uur by pappa se kamer instap wag die sjirurg vir ons met die nuus: Pappa sal Dinsdag oggend 8uur ontslaan word! Sy voorsien nie dat hy nog in die week geopereer sal word nie, en dit beteken dat hy 'n bed opeis wat iemand anders kan gebruik! Ook hoort hy nie in hierdie hospitaal nie, omdat hy van Mpumalanga af kom, en ons moet hom Nelspruit of Witbank toe vat. Geen mooipraat of redenasie kon haar van besluit laat verander nie. Ons het ook opgelet dat hy reeds aandete ontvang het en dat sy drup ontkoppel is - 'n duidelike teken dat die besluite reeds geneem is. Ons het toe al met medici in Nelpsruit gepraat wat self vir ons gesê het dat ons net asb NIE daarheen moet kom nie (gebrek aan medikasie etc etc). Die vrees-rots het begin nader rol... Ek het vir die dokter gesê: "So all we can do is pray that he will be operated on during the night?" En sy het geantwoord: "rather pray that you find the best help for your dad" Na sy uit is het ons moedeloos om my pa se bed gaan staan, hande gevat en vir 'n wonderwerk gevra. Gevra dat die Here sou ingryp en iets laat gebeur en om vir ons te wys wat om te doen.

Oppad terug na Cari se huis toe was ek en Mamma tjoepstil, te verslae om eers te gesels. Die res van die aand het ons almal rond gebel, planne beraam en opinies gevra. Ruan het kontaknommers gekry van die MEC, die Supt van die hospitaal, radiostasies en koerante, . Ons het die hospitaal se beleide en Code of Conduct gefynkam en skietgoed bymekaar gemaak. Ons sou nie sommer net aanvaar dat pappa ontslaan word sonder dat iets gedoen is nie!

Oor en oor het ek met die Here gepraat, gesmeek vir uitkoms. Ek weet Hy is in beheer, weet altyd die beste en dat Sy tydsberekening altyd perfek is. Ek moes nou daaraan vashou. Ek het onthou dat Werner die vorige dag vir my skrif gestuur het wat ek nog nie gelees het nie, en het dit gaan opsoek.

Psalm 18:29-33: Met U loop ek 'n leer storm, met my God spring ek oor 'n muur... Hy beskerm die wat by Hom skuil. Want wie anders as die Here is God? Wie anders as God is 'n rots? God rus my toe met krag: Hy maak my pad veilig...
Ek kon voel hoe die vrees-rots wegrol voor Die Rots! Ons het gaan slaap, onseker oor wat die volgende dag vir ons inhou, maar ek was rustig.

Toe my ma se telefoon die volgende oggend 5 uur lui was ons albei amper te bang om te antwoord... dit was suster Themba van die nagpersoneel. Daar was 'n teater opening en hulle is oppad om my pa teater toe te vat!!!!  Die vreugde!! Ons het geweet dat die Here ons gebed gehoor het, en dat Hy ingegryp het!

Die res van die dag het te stadig beweeg. Alhoewel ons al 9 uur by die hospitaal was, kon ons eers teen besoektyd (half drie) ingaan en my pa sien. Toe ons almal daar inbondel staan die sjirurg ook daar vir ons en wag. My ma het haar omhels en bedank, maar sy het my ma se hande gevat en gesê: "Wait, I want to ask you a favour. Will you and your family please pray for us? For us doctors, our hands for the work we do, our minds for the decisions we must take, for this hospital, its staff... Please pray for us. Because today I saw that prayer works! I could not believe it when they phoned me this morning to say that there was an opening in theatre" Vir Zelna het sy later gesê: "I saw your family praying over your dad last night"

Hoe kan ons ooit God se plan en "timing" in twyfel trek?!? As die situasie nie so hopeloos was nie, sou die dokter nie die uitkoms as 'n wonderwerk raak gesien het nie (ons seker ook nie!), en sou sy ook nie so diep onder die indruk van God se ingryping gekom het nie. En ja, deur my pa se situasie en lyding is daar tog iemand anders mildelik geseën, en ek glo dat daardie seën deur dr M nog wyer gaan uitkring na ander mense toe.
Debbie en Reuben by Oupa

Daar is nog 'n lang pad wat vir my pa en ons almal voorlê. Hy moet leer hoe om met net een been oor die weg te kom, My ma moet hom nou versorg en help, terwyl sy ook haar ander take moet doen. Ons moet gewoond raak daaraan dat my pa anders lyk, en dat dinge dalk anders gedoen moet word van nou af. Maar ten minste weet ons een ding vas: die Here loop hierdie pad saam met my pa - all the way!

As ek terugkyk is daar baie mense dwarsdeur die 2 weke wat nie hulle werk gedoen het nie, ongeskik was, diskriminerend opgetree het en onbekwaam was - hulle moet daarmee en met hulself saamleef. Wat vir my uitgestaan het was die mense wat MEER as hul werk gedoen het, wat uit hul pad gegaan het om in moeilike omstandighede vriendelik en met empatie op te tree. Die wat nie net met mooi woorde getroos het nie (dis ook nodig!), maar met hul dade die gewig bietjie van ons skouers afgehaal het: Hannelie by die ouetehuis wat Pappa met soveel omgee en liefde versorg het, Hennie wat 'n dag afvat om my pa Pta toe te ry en my ma hulle by te staan totdat my pa opgeneem is, oom Danie Rudolph wat gereeld gaan kyk het dat alles by die huis reg is, Wimpie wat my pa hulle se hond ingeneem (en gruwelik bederf ) het, Cari wat haar huis vir ons oopgemaak het sodat ons kon kom en gaan soos dit nodig was, gee nie om wat die ure was nie (dit terwyl sy self behandeling ontvang en 'n hele paar van haar eie bulte het om te klim!), Dr Jana wat Pa gaan besoek het en vir ons op hoogte gebring het met wat aangaan en wat ons kan verwag, al was hy nie haar verantwoordelikheid nie. Sy was ook bereid om te luister wanneer ek ontsteld was en het perspektief na die situasie gebring. Al die mense in George wat ingespring het om my mense rond te karwei en te sorg dat hulle lewens normaal kon voortgaan - veral Ouma Marie en Yvonne, julle is engele!! Pim, Oom Jack hulle, Oom Louis, Tannie Yda en Lindi wat moeite gedoen het om te kom kuier - familie bly maar altyd dié wat ons naby wil he as dit swaar gaan. Suster Themba van die nagskof wat altyd vriendelik en hulpvaardig was. Die sekuriteitsvrou, Anna, by die hoofingang wat ons elke dag met 'n breë glimlag en vriendelike woorde begroet het (glo my, dit is NIE die norm daar nie!). En toe ek haar eendag vra "what vitamins do you use, cause you are always on the go and friendly?" Antwoord sy "No vitamins, only the power of God!" Soos Zelna gesê het: "In die donker skyn die Lig uitsonderlik helder!!

3 comments:

  1. Thank you for sharing this Suna...the tears are just flowing as i read about Gods goodness and how He once again has taken such wonderful care of your family...i am so deeply encouraged and grateful to you for sharing this and reminding me that He cares about the smallest detail and that He holds us in the very palm of HIs hands and even when we cant see or know the outcome of a situation to trust Him because He does...thank you ..love and hugs Heidi Berndt ( friend of Zelna)

    ReplyDelete
    Replies
    1. Thank you Heidi. God really is good to us, all the time, even when we don't experience it that way. During this time He has showed us over and over again that He had everything in control, to the smallest detail. Looking back, we saw lots of little things that he got in place for us, even before we new that my dad was going to have the op. Praise to Him always!! Love Suna NS Thank you also for being such a good friend to Zelna. She really had (still have) the hardest part of all our kids, in this journey. xxx

      Delete
  2. Man - kry ek nou trane in my oe. Awesome!

    ReplyDelete