Saturday, 14 November 2015

Job, krewe en ‘n Annus Horribilis

“Hoe weet mens wanneer ‘n slegte jaar uiteindelik verby is? Is dit ‘n kalender jaar, ‘n finansiële jaar… hoe meet mens dit?” Dit was my broer se vraag so ‘n paar weke gelede toe daar nogmaals iets slegs met ‘n nabye familielid gebeur het.  Iemand anders in die geselskap het laat hoor  “ ek het al begin wonder of iemand een of ander vloek oor ons familie uitgespreek het! Wat kan nou NOG gebeur?”

Hierdie vrae het Donderdagoggend in my gedagtes weerklink toe ek na ‘n lang slaaplose nag, in die gang afstap om te gaan koffie maak.  Werner se ma is die vorige aand oorlede en hy het die hele nag by sy pa deurgebring om te help met al die praktiese dinge: dokter en polisie bel, begrafnis ondernemers om die liggaam te verwyder etc. Ek het ook begin dink “nou wat NOG?”

Ons familie se “annus horribilis” (soos die Queen sou sê ☺) het verlede jaar in Oktober begin toe my broer se dogtertjie tydens haar ses weke ondersoek met   Craniosynostosis  gediagnoseer is en op 7 weke ‘n skedeloperasie moes ondergaan. Alles het goed afgeloop en sy is vandag blakend gesond, maar dit was tog ‘n skok vir ons almal. Rondom Nuwejaar is my liefling-niggie met aggresiewe borskanker gediagnoseer en was dit die begin van baie maande se chemo en bestraling vir haar. My tannie het tydens ‘n knie operasie hart- komplikasies ontwikkel en by die dood omgedraai. Onlangs het sy weer daarmee in die hospitaal beland. My sussie het weereens gewasse in haar ingewande ontdek en het na die chirurgie  vir ‘n hele paar benoude oomblikke gesorg.  My pa se been is na baie pyn en lyding geamputeer en hy en my ma moes amper 3 maande in Jhb deurbring voor hulle kon teruggaan huis toe. My oom van oor die 80 is op sy plaas in Limpopo aangeval en moes ‘n week in ICU deurbring.  Swaer Llyll het erge infeksie in sy groottoon opgedoen (gevolg van besering gekombineer met diabetes) en sy toon in geamputeer. Ons is steeds nie seker of hulle die res van sy voet gaan kan red nie.  Werksgewys het my broer ‘n groot kontrak verloor, ‘n neef sy werk verloor en ‘n paar ander familielede sukkel om kop bo water te hou.  En nou is ma Annetjie oorlede en my man het SEER.

Skielik is dit asof die Here my ‘n ander sy van die saak wys. Wat as dit nie ‘n “vloek” is nie, maar eerder ‘n proses van groei. Ek dink aan een van my gunsteling preke van ds Roelf, jare gelede. Van sekere krewe wat hul doppe vir ‘n tyd moet afskud sodat hulle kan groei. In hierdie tyd is hul sonder beskerming , baie weerloos en oop vir seerkry. Maar as hul die doppe ophou, kan hulle nie groei nie.  Wat as hierdie dinge hierdie jaar oor ons pad gekom het sodat ons kan groei? Ons het almal die afgelope jaar by tye baie weerloos en uitgelewer gevoel, maar ek weet verseker dat nie een van ons meer dieselfde is as verlede jaar hierdie tyd nie… Ek word ook herinner aan die verhaal van Job: dat die Here hom sterk genoeg geag het om slegte dinge oor te kom, omdat Hy geweet het dat Job nie sal opgee en oorgee nie. En dat Job daarna geseën is met meer as wat hy vantevore gehad het.  Wat as die Here ons as familie sterk genoeg geag het om hierdie dinge deur tegaan omdat ons beter en sterker anderkant KAN uitkom? Beter toegerus om vir Hom ‘n verskil te maak…?

 Ek sê nie dit IS hoe dit werk nie…. Maar WAT AS…?


Skielik voel ek minder uitgelewer en amper “uitgekies”. En ek wil Ruan se vraag van nou die dag antwoord: “Ek dink ‘n slegte jaar is verby wanneer die nodige groei  plaasgevind het, wanneer ons oorgegee het en die Here toegelaat het om ons te verander soos Hy wou. Daarna sal ons beskermingsdoppe weer vorm en ons ‘n nuwe lewensfase ingaan.  Reg vir nuwe avonture en seëninge!”  Ons kan nie die getal maande bepaal nie, maar die uitkoms wel.
" We can rejoice, too, when we run into problems and trials, for we know that they help us develop endurance. And endurance develops strength of character, and character strengthens our confident hope of salvation. And this hope will not lead to dissapointment. For we know how dearly God loves us..." Romans 5:3-5

Monday, 14 September 2015

Tussen 'n Rots en 'n "harde plek"

Ek en Layla by Pappa in die kliniek
Mens is nooit daarop voorberei wanneer iets gebeur wat voel asof dit jou hele lewe omdop en vir altyd verander nie. En alhoewel daar gebeure is wat stelselmatig daartoe aanleiding gee, voel dit altyd asof alles eensklaps gebeur: gister was alles nog normaal en voorspelbaar, en skielik is niks seker nie, en lyk die toekoms deurmekaar...

So het ek gevoel toe my pa 'n paar weke gelede geopereer moes word.

Hy sukkel al 'n hele paar maande met 'n seer voet, later 'n seer aan sy been. Sukkel om te loop. En dit word nie beter nie. Ons kinders is nie een naby nie, en kry maar telefoniese updates by ma ('n van Helsdingen- haar woorde!- wat nie maklik erken as dinge te veel raak nie).  Eers toe sy emosioneel en deurmekaar oor die telefoon begin klink, vermoed ons onraad. Fred en sy gesin kuier daar vir 'n naweek, en daarna ry Zelna en Ruan vir 'n dag Piet Retief toe om self te gaan kyk. Dan eers besef ons dat die situasie baie ernstig is, en toe 'n tweede dokter na Pappa se been kyk, is sy diagnose: amputasie is nou al uitweg!

En daar begin 'n roller-coaster rit wat ons almal by tye uitasem en plat geslaan laat, ander kere weer dankbaar vir "small mercies", uiteindelik verwonderd oor die Here se vooruitbeplanning, ingryping, versorging en wonderwerkende krag. En altyd Sy liefde! Weereens besef ek ook hoe God se "Rhythms of Grace" altyd daar is vir en met ons. Al gaan ons deur donker dale van wanhoop, of ry ons op kruine van geluk - Sy genade kry ons waar ons ook al is op die lewensreis.

Ek glo dat elkeen van ons in die familie verskillende ervarings, gewaarwordings en gevoellens gehad het, daarom is hierdie stukkie suiwer op MY ervaring gegrond, en kan ek nie waarborg dat die ander lede van my familie dieselfde dinge as ek ervaar het, of dieselfde voel oor die gebeure nie. Mamma, Zelna, Ruan en Fred  het die slegste deel van die paar weke deurgemaak (die diagnose, besluite neem oor behandeling, Pretoria toe gaan en Ongevalle trotseer) terwyl ek nog in George was en ek glo ons maak elkeen op sy eie manier sin van die gebeure.

Vir my begin die nagmerrie gevoel toe Zelna bel om te sê van die amputasie diagnose: Dit het gevoel asof 'n swaar klip op my hart kom lê, en niks kon dit lig nie. Ek het nag-lank met die Here gepraat, gevra vir rigting en antwoorde, maar die klip het bly druk. Vandat ons in George is het Hy 'n lang steil pad met my gestap oor vrees, vertroue, oorgawe... en ek kry dit nou al geruime tyd reg om Hom volkome te vertrou vir die toekoms, finansies etc. Maar eensklaps het daardie vrees-rots weer homself op my hart neergeplonk, en niks kon dit beweeg nie. Ek weet ek moenie, hoef nie bang te wees nie, weet dat Hy altyd in beheer is en SAL SORG, maar steeds het daardie klip geSIT! Deur die tweede nag vra ek Hom vir iets waaraan ek kan vashou, wat vir my 'n anker sal wees in die tyd wat voorlê.

Die volgende oggend ontvang ek die gereelde Kruispad e-pos. Die opskrif trek my aandag: GLO. En dit is wat ek lees:
Ons moet soos Abraham, te midde van alle omstandighede, bly glo. Ons moet met alles in ons bly glo dat God vir ons sal deurkom. Al lyk die realiteite om ons anders. Al skree selfs die wetenskap teen ons, moet ons aanhou glo. Selfs al het ons ’n paar keer buite die wil van God opgetree moet ons aanhou glo. Ons moet glo in ’n liefdevolle God. Ons moet glo dat God alles sal omkeer en vir ons op die regte tyd sal deurkom – soos Hy vir Abraham en Sara deurgekom het.
 Glo in God en hou met alles daaraan vas. Sorg dat jou verhouding met God in plek en gesond is. God se seën sal op jou neerdaal en wanneer God seën, seën Hy mildelik, sodat van die seën ook op die mense rondom jou sal val. 
Die donker gedrukte dele het vir my uitgestaan, en ek het die stukkie op my selfoon ingetik om oor en oor te lees as ek onseker voel. Skielik het die rots gelig, en was ek rustiger. Daardie onverklaarbare vrede waarvan Fil 4:7 van praat het my gevul. Toe ek die aand Psalm 91 lees, het ek ook geweet dat ek dit een of ander tyd vir Pappa moet lees. Joe Niemand se lied "Ek sal nie bang wees nie" gegrond op Psalm 91 was my anthem vir die volgende paar dae.

Intussen moes daar baie besluite geneem word en Pappa so gou as moontlik by 'n vaskulêre sjirurg kom. Volgens die dokter was tyd 'n faktor: hoe langer gewag word, hoe verder versprei die infeksie, en hoe minder sal die sjirurge vir my pa kon doen. My Pa-hulle het nie 'n mediese fonds nie, en Steve Biko hospitaal in Pta was die enigste uitweg. Ons weet almal van al die "horror"-stories wat oor staatshospitale vertel word, en dit het bygedra tot baie spanning en bekommernis. Zelna het saam met Pappa en Hennie Pta toe gery, terwyl Fred agterna gekom het met Mamma. In Pretoria het hulle (soos verwag is) nie juis 'n vriendelike ontvangs gehad nie. Na ure se sukkel, heen-en-weer ry, rondgestuurdery en dreigemente, is my pa uiteindelik by Ongevalle opgeneem.

Hoe die personeel gekeur word wat by Ongevalle werk, weet ek nie, maar ek vermoed daar is 'n lang lys van negatiewe karakter-eienskappe waaraan hulle moet voldoen! Die susters was onbeholpe, beslis nie lus om te help nie, ongeskik en het nog nooit gehoor van empatie of omgee nie. In die 3 dae wat my pa daar gelê het, is sy wond nie een keer versorg nie, het ons pille tussen sy beddegoed opgetel en is sy (eie) kussings onder sy kop uitgesteel. Hy was baie deurmekaar, swak en in pyn, tog sou die personeel net sy medikasie en kos daar neersit, en as een van ons hom daarmee wou help, is ons uitgejaag. Sy beddegoed is nie omgeruil nie, en hy het ook geen hulp ontvang as hy 'n nood gehad het nie. En werksdruk was NIE die oorsaak nie! Alhoewel daar baie pasiënte was het die susters (en soms selfs die dokters) meestal rustig rondgestaan en geselsies maak, in groepies tee gedrink, op hulle selfone gepraat en speel en so nou en dan saam-saam 'n pasiënt bekyk - maar min gedoen... En tussen deur sou die sekuriteitsman (wat beslis bo aan die hierargie lys by die hospitaal is), breëbors deur die kamer loop en kliphard mediese raad uitdeel (soos dat ons net my pa se voet in Jeyes Fluid moet was en sommer 'n paar lepels daarvan moet drink ook, dan sal alles regkom...!!) Wat my pa (en die ander pasiente) daar moes deurmaak verdien geen mens nie! (Na die operasie was ons baie verlig toe my pa se dat hy niks van daardie 3 dae kan onthou nie!)

Layla probeer Oupa opbeur voor die operasie
 Saterdagaand na 8 uur het daar uiteindelik vir hom 'n bed in die vaskulêre saal oopgegaan, en is hy daarheen gestoot. Wat 'n verskil! Die verpleegsters het onmiddelik vir hom skoon klere aangetrek, die wond versorg, sy leêr sorgvuldig gelees en ons breedvoerig uitgevra oor sy toestand. Toe ons in die gang afstap, en hulle Pappa in 'n enkelkamer instoot, het ek besef dat die Here hom hiermee 'n baie spesiale stukkie seën gegee het: sy eie kamer, privaatheid en tog regoor die "nurses station" sodat hulle dadelik kon sien as hy hulp nodig het. Ek het vir 'n oomblik gewonder wie dan die "ander mense" gaan wees wat God deur ons wil seën, maar Pappa was nou ons prioriteit en ek het die gedagtes eenkant toe gestoot.

Hy is ook op die "spoedlys" vir teater geplaas, wat sou beteken dat hy 'n prioriteitsgeval is sodra daar 'n teater-opening  is. Van Sondagoggend af het hy dus geen kos gekry nie, sodat hy enige tyd gereed sou wees vir die operasie. Die volgende 2 dae het gewentel om besoektye en ons het baie koppies koffie in die hospitaal kafeteria afgesluk, wagtend op die oproep dat Pappa oppad is teater toe. Sondag en Maandagmiddag het verby gegaan, maar ons was steeds hoopvol.

Toe ons Maandag aand 7uur by pappa se kamer instap wag die sjirurg vir ons met die nuus: Pappa sal Dinsdag oggend 8uur ontslaan word! Sy voorsien nie dat hy nog in die week geopereer sal word nie, en dit beteken dat hy 'n bed opeis wat iemand anders kan gebruik! Ook hoort hy nie in hierdie hospitaal nie, omdat hy van Mpumalanga af kom, en ons moet hom Nelspruit of Witbank toe vat. Geen mooipraat of redenasie kon haar van besluit laat verander nie. Ons het ook opgelet dat hy reeds aandete ontvang het en dat sy drup ontkoppel is - 'n duidelike teken dat die besluite reeds geneem is. Ons het toe al met medici in Nelpsruit gepraat wat self vir ons gesê het dat ons net asb NIE daarheen moet kom nie (gebrek aan medikasie etc etc). Die vrees-rots het begin nader rol... Ek het vir die dokter gesê: "So all we can do is pray that he will be operated on during the night?" En sy het geantwoord: "rather pray that you find the best help for your dad" Na sy uit is het ons moedeloos om my pa se bed gaan staan, hande gevat en vir 'n wonderwerk gevra. Gevra dat die Here sou ingryp en iets laat gebeur en om vir ons te wys wat om te doen.

Oppad terug na Cari se huis toe was ek en Mamma tjoepstil, te verslae om eers te gesels. Die res van die aand het ons almal rond gebel, planne beraam en opinies gevra. Ruan het kontaknommers gekry van die MEC, die Supt van die hospitaal, radiostasies en koerante, . Ons het die hospitaal se beleide en Code of Conduct gefynkam en skietgoed bymekaar gemaak. Ons sou nie sommer net aanvaar dat pappa ontslaan word sonder dat iets gedoen is nie!

Oor en oor het ek met die Here gepraat, gesmeek vir uitkoms. Ek weet Hy is in beheer, weet altyd die beste en dat Sy tydsberekening altyd perfek is. Ek moes nou daaraan vashou. Ek het onthou dat Werner die vorige dag vir my skrif gestuur het wat ek nog nie gelees het nie, en het dit gaan opsoek.

Psalm 18:29-33: Met U loop ek 'n leer storm, met my God spring ek oor 'n muur... Hy beskerm die wat by Hom skuil. Want wie anders as die Here is God? Wie anders as God is 'n rots? God rus my toe met krag: Hy maak my pad veilig...
Ek kon voel hoe die vrees-rots wegrol voor Die Rots! Ons het gaan slaap, onseker oor wat die volgende dag vir ons inhou, maar ek was rustig.

Toe my ma se telefoon die volgende oggend 5 uur lui was ons albei amper te bang om te antwoord... dit was suster Themba van die nagpersoneel. Daar was 'n teater opening en hulle is oppad om my pa teater toe te vat!!!!  Die vreugde!! Ons het geweet dat die Here ons gebed gehoor het, en dat Hy ingegryp het!

Die res van die dag het te stadig beweeg. Alhoewel ons al 9 uur by die hospitaal was, kon ons eers teen besoektyd (half drie) ingaan en my pa sien. Toe ons almal daar inbondel staan die sjirurg ook daar vir ons en wag. My ma het haar omhels en bedank, maar sy het my ma se hande gevat en gesê: "Wait, I want to ask you a favour. Will you and your family please pray for us? For us doctors, our hands for the work we do, our minds for the decisions we must take, for this hospital, its staff... Please pray for us. Because today I saw that prayer works! I could not believe it when they phoned me this morning to say that there was an opening in theatre" Vir Zelna het sy later gesê: "I saw your family praying over your dad last night"

Hoe kan ons ooit God se plan en "timing" in twyfel trek?!? As die situasie nie so hopeloos was nie, sou die dokter nie die uitkoms as 'n wonderwerk raak gesien het nie (ons seker ook nie!), en sou sy ook nie so diep onder die indruk van God se ingryping gekom het nie. En ja, deur my pa se situasie en lyding is daar tog iemand anders mildelik geseën, en ek glo dat daardie seën deur dr M nog wyer gaan uitkring na ander mense toe.
Debbie en Reuben by Oupa

Daar is nog 'n lang pad wat vir my pa en ons almal voorlê. Hy moet leer hoe om met net een been oor die weg te kom, My ma moet hom nou versorg en help, terwyl sy ook haar ander take moet doen. Ons moet gewoond raak daaraan dat my pa anders lyk, en dat dinge dalk anders gedoen moet word van nou af. Maar ten minste weet ons een ding vas: die Here loop hierdie pad saam met my pa - all the way!

As ek terugkyk is daar baie mense dwarsdeur die 2 weke wat nie hulle werk gedoen het nie, ongeskik was, diskriminerend opgetree het en onbekwaam was - hulle moet daarmee en met hulself saamleef. Wat vir my uitgestaan het was die mense wat MEER as hul werk gedoen het, wat uit hul pad gegaan het om in moeilike omstandighede vriendelik en met empatie op te tree. Die wat nie net met mooi woorde getroos het nie (dis ook nodig!), maar met hul dade die gewig bietjie van ons skouers afgehaal het: Hannelie by die ouetehuis wat Pappa met soveel omgee en liefde versorg het, Hennie wat 'n dag afvat om my pa Pta toe te ry en my ma hulle by te staan totdat my pa opgeneem is, oom Danie Rudolph wat gereeld gaan kyk het dat alles by die huis reg is, Wimpie wat my pa hulle se hond ingeneem (en gruwelik bederf ☺) het, Cari wat haar huis vir ons oopgemaak het sodat ons kon kom en gaan soos dit nodig was, gee nie om wat die ure was nie (dit terwyl sy self behandeling ontvang en 'n hele paar van haar eie bulte het om te klim!), Dr Jana wat Pa gaan besoek het en vir ons op hoogte gebring het met wat aangaan en wat ons kan verwag, al was hy nie haar verantwoordelikheid nie. Sy was ook bereid om te luister wanneer ek ontsteld was en het perspektief na die situasie gebring. Al die mense in George wat ingespring het om my mense rond te karwei en te sorg dat hulle lewens normaal kon voortgaan - veral Ouma Marie en Yvonne, julle is engele!! Pim, Oom Jack hulle, Oom Louis, Tannie Yda en Lindi wat moeite gedoen het om te kom kuier - familie bly maar altyd dié wat ons naby wil he as dit swaar gaan. Suster Themba van die nagskof wat altyd vriendelik en hulpvaardig was. Die sekuriteitsvrou, Anna, by die hoofingang wat ons elke dag met 'n breë glimlag en vriendelike woorde begroet het (glo my, dit is NIE die norm daar nie!). En toe ek haar eendag vra "what vitamins do you use, cause you are always on the go and friendly?" Antwoord sy "No vitamins, only the power of God!" Soos Zelna gesê het: "In die donker skyn die Lig uitsonderlik helder!!

Wednesday, 8 July 2015

'n Jaar van seën

Vandag (4 Julie) is dit presies 'n jaar gelede wat ons George binne gery het; die begin van ons nuwe lewe as Suid-Kapenaars. En wat 'n jaar was dit nie! Dit was 'n reis wat ons beslis op onbekende paaie geneem het: draaie in die pad waar ons nie 'n idee gehad het wat vir ons wag nie, opdraandes wat ons steun-steun uitgeklouter het maar ook afdraandes waar ons verbaas gestaan het oor die gemaklikheid waarmee sekere aanpassings gebeur het.

Maar hoofsaaklik kyk ons terug op 12 maande van onverdiende en dikwels onverwagse seën:
  • Gert en Tessa se woonstel in Hartenbos wat vir ons 'n hawe, skuilplek, en rusplek was waar ons tot verhaal kon kom terwyl ons die fynere detail van ons "nuwe lewe" moes uitwerk.
  • Braam en Rentia se vriendskap en verwelkoming het die wêreld se verskil gemaak tussen uithou en opgee! Wat 'n voorreg om sulke vriende te hê. Ook Maryke en Albert wat ons dadelik genooi het om te kuier en ons daarmee saam aan ons heel eerste "nuwe" vriende bekendgestel het. Hannes en Charlotte het ons mede inkommer-vriende geword wat presies deur dieselfde aanpassings en onsekerhede as ons moes gaan - 'n goeie fondasie vir 'n lang vriendskap!
  • Die eerste maand se in die bed bly in die koue, terwyl Werner die dogters by die skool aflaai: 'n eerste vir my! In die begin kon ek die skuld gevoel van lê -terwyl-ander-al-werk, skaars afskud. Tot ek besef het hierdie is 'n baie spesiale bederf van God af, wat ek moet geniet terwyl ek kan EN terwyl dit hou (wat toe nie so lank was nie☺)
  • Die kans om so baie kwaliteit-tyd met my gesinsmense te kan hê. Geen take of vergaderings of reëlings wat getref moet word vir skool of werk of kerk nie - net hulle en hulle behoeftes. 
Die kans om boeke te lees! En baie daarvan!! Daarmee saam 'n biblioteek wat uit sy nate bars met boeke wat ek nog wil lees, hope tweedehandse boekwinkels en CUM op my voorstoep EN 'n wonderlike "landlady" wat stapels boeke aandra vandat sy gehoor het ek is ook 'n leesvraat.
  • Die luukse van onbetrokkenheid! Ek weet dit klink selfsugtig, maar ek het besef dat dit in hierdie seisoen van my lewe 'n geskenk reg uit die Here se hand was. Ek het met die intrapslag myself by skool, kerk en gemeenskapsorganisasies aangemeld as vrywilliger, maar niemand het my regtig "nodig" gehad nie. Nou sien ek dit as deel van God se plan om my nie van een gejaag na die volgende te verplaas nie, maar om my tyd te gee om stil te raak, te hoor, te sien en te ervaar. En om Hom en my gesin van voor af te leer ken. Luuks voorwaar!!
  • Die vriendelike mense van George!! Daar is nie nog 'n plek met sulke vriendelikheid nie. Op die pad, agter die kasregister, in toue by winkels en staatsinstansies, by die petrolpomp, op die sypaadjie.... vreemdelinge groet jou vriendelik, loop jou kar toe met hul sambreel, knoop 'n geselsie aan, maak 'n grappie en nooi jou sommer vir 'n kuier. Sommer net omdat dit is wie hulle is! 
  • Om te kon "connect" met familie wat ek OF baie lanklaas gesien het, OF nog nooit ontmoet het nie! Ina, Suné & Dewald, Pietman & Rykie, Lindi & Charl, Pim & tannie Yda, Chandré, Sandra, Conrad & Angie... Julle het ons lewens verryk in die afgelope jaar.
  • 'n Besige Desember net toe ek dit SO nodig gehad het om bekendes te sien! En veral om met my ma en pa, Ruan, Neelandrie en klein Layla te kon kuier. 
  • Die feit dat ons ou vriende nie plek hoef te maak vir nuwes nie, ons kan net byvoeg. Soos Lucas Maree sing: "die hart is soos die weduwee se kruik" daar is altyd NOG liefde wat uitgedeel kan word.
  • Die bonatuurlike voorsiening van die Here met huis, werkswinkel, besigheid, kontakte en vriende. Selfs met situasies waar ons oombliklik kon ervaar: hierdie is nie 'n toevallige ontmoeting nie.
  • So baie spesiale gesinsherinneringe en -oomblikke: om die aand voor die eerste skooldag by Karla en Anri in hul kamer te sit en hulle rue te vryf soos toe hulle klein was terwyl ons al drie onseker en emosioneel is oor wat voorlê ...; om nou in die gang af te stap en die dogters te hoor gesels en mekaar se hare doen, saam werk aan take, saam lag.... PRICELESS; die terugrit vanaf die KKNK met 4 tiener meisies opgebondel agter in die kar, besig om uit volle bors 80's songs te sing terwyl die volmaan ons oor die Outeniqua-pas begelei; 
  • Die manier hoe die Here my losgemaak het van dinge wat ek as belangrik beskou het, my met nuwe objektiewe oë daarna laat kyk het en laat besef het hoe onbenullig dit is in die "bigger scheme of things"
  • Vir vriendinne soos Rentia, Sonja, en Olga wat reeds hierdeur is en my kon gerusstel wanneer ek emosioneel en onseker was. En Carna se oproepe, altyd op die regte tyd, wat my laat besef het ek is nie alleen nie, en ons almal ervaar dieselfde dinge wanneer ons verplant word.
LAAANG telefoon-koffie-kuiers met vriendinne. Veral spesifieke gesprekke met Marlene, Susan en Olga staan helder in my gedagtes uit. Dit was soos manna in my woestyndae. En die feit dat ek my ma kon bel en dit steeds gevoel het of daar net 'n paar straatblokke tussen ons is, nie 1500km nie.
  • My blog, wat my skryfterapie geword het. Die feit dat ek die moed bymekaar geskraap het om dit te begin doen. En die ander blogs wat ek in die proses ontdek het.
  • George se ongelooflike sonsopkomste en sonsondergange! Ek kan net nie genoeg daarvan kry nie. En natuurlik die berg wat steeds my asem wegslaan en elke dag anders lyk. Die bos, die see, die strande.... dolfyne en walvisse... Knysna loeries en bosbokke voor my deur.... Ag, ek "overdose" met graagte op al die mooi om my. 
  • Die dowe skaaphond op die hoek wat my elke dag hardop laat lag as hy kamma skelm agter die bossie wag en die kar bestorm.
  • Die kinders wat in die eerste weke vir Karla en Anri ingetrek het en deel gemaak het van hul vriendekringe. Party het wel nie beste maats geword nie, maar het 'n groot rol in die dogters se eerste weke gespeel - presies waarvoor ek en my vriendinne gebid het!
  • Die nuwe geleenthede wat die dogters hier ontdek het: Ontwerp, Kuns, Dans... Passies wat in hulle geplaas is wat hulle hier kon kom uitleef.
  • Die Business Finder Netwerke waar ek my Woensdag en Donderdag oggende spandeer... en veel meer ontvang as moontlike besigheidskontakte. 
  • Die eerste keer toe ek diep uit my hart, eerlik kon sê: dit gaan goed, ek is gelukkig, ek voel tuis! Sonder voorgee of 'n knop in my keel.Vir 'n lang tyd het ek outomaties gesê "dit gaan goed, dankie" terwyl alles in my die teenoorgestelde geskreeu het, maar toe ek die eerste keer besef: ek sê dit EN dis waar, het ek gevoel my hart wil ontplof van dankbaarheid en blydskap.

  • Om by 'n netwerk / skoolvergadering / koffie-kuier / winkel iemand nuut te ontmoet en net te "kliek". En later uit te vind dat ons dieselfde Gees in ons het. Baie spesiaal!!
  • Kort, vinnige toue: by die bank, Pick&Pay, Binnelandse sake, selfs Mr Price oor maandeinde (vakansie tyd uitgesluit ☺) En wanneer ek wel in 'n lang tou beland (ons praat nou van omtrent 5 mense!!) is die kans goed om 'n heerlike geselsie in die proses te hê.
  • Afrikaans! Oral om my! En spesifiek Afrikaans-met-'n-glimlag☺
  • Die groei en verandering wat ek in myself en my gesin waarneem, ook in ons verhoudings met mekaar.
  • En laastens my dieper, inniger verhouding met God!! As ons net hiervoor moes trek, doen ek dit more weer!! So baie van my gebede wat ek al JARE lank bid, is hier beantwoord. En daarom kan ek Hom net loof en prys en dankie sê vir die ongelooflike 12 maande wat verby is. Ek kan met vreugde sê dat ons oorleef het, en uitsien na wat nog kom!!


Friday, 8 May 2015

Terugblik

Show me the way of Life - Maria
Hierdie week is dit 'n jaar gelede wat die vragmotor van Albertinia vervoer met ons aardse besittings weg is uit Piet Retief, Kaap toe. En dis 10 maande sedert ons self hier aangeland het. As ek terugkyk oor hierdie tydperk kan ek dit net beskryf as 'n reis met baie opdraandes en afdraandes, met tye van "despair" maar baie meer van vreugde.
 'n Ontdekkingstog - nie net van nuwe plekke nie, maar ook binne myself.

 Aan die een kant voel dit asof ons nou die dag hier aangekom het; aan die ander kant, asof ons al baie meer as 10 maande se ervarings beleef het.

In die tyd voor die trek het Werner onbepland en baie onverwags 'n rug-operasie ondergaan en is ons trek-planne behoorlik deurmekaar gekrap. Vir 2 maande het ons hele gesin by Pa en Ma gewoon en die Draadstraat-huis se mure ordentlik gestrek. Ons beplande trek Mosselbaai toe het verander in 'n trek George toe. Die oor-en-weer groetery en die laaste inpak en wegtrek het gesorg vir baie trane. Die lang pad af George toe het baie tyd vir dink en wonder en twyfel gelaat. Ek onthou nou nog toe ons in George inry laat die Vrydagmiddag terwyl die son begin sak, dat ek gedink het: "Wat op dees aarde het ons besiel om dit te doen?!?" As ek nie so moeg was nie, het ek heel moontlik net daar my kar se neus omgedraai terug Noorde toe.

Danksy Tessa en Gert het ons darem 'n plek gehad om vir die eerste rukkie ons goedjies af te pak, terwyl ons huis soek (wat ek redelik seker was darem nie te lank sou neem nie). En gelukkig vir goeie vriende soos Braam en Rentia het ons bekende gesigte gehad om ons te verwelkom. Die eerste 2 weke het nog amper soos vakansie gevoel - alles was opwindend, vreemd en nuut.

Skool het begin en ons moes 'n nuwe roetine vind, blyplek nader aan George soek (Hartenbos was net te ver om elke dag in en uit te ry), en begin om werkspasie vir Werner te kry. Ek dink as ons al die kilometers bymekaar tel wat ons agter moontlike huise en werkswinkels aan gery het, kon ons beslis dit inruil vir n "kuier-trippie" Piet Retief toe. Die woonstel in Victoriabaai waarin ons vir 4 maande gebly het was klein en beknop. En huurhuise so skaars soos hoendertande. Kort-om, dinge het nie heeltemal gebeur soos ons beplan het nie.

Ek het vooraf darem gesels met vriende wat getrek het, en het 'n idee gehad van wat om te verwag. Ek het geweet dat die skuif aanpassing sou vra, dat ons uit ons "comfort zones" sou wees en dat ons sal moes moeite doen om onsself by dinge betrokke te maak. So ek was reg daarvoor. Wat ek nie verwag het nie, is dat ek so leeg en kwesbaar sou voel. Ek onthou dat ek eenkeer gelees het dat iemand depressie beskryf het as 'n swart hond wat sy/hy heeltyd moet wegjaag van die deur af. En dis hoe dit vir my gevoel het. Ek moes daadwerklik besluit om die swaar gevoel teen te werk, dit weg te jaag, myself met positiewe gedagtes te vul. Die probleem was dat ek nie lus was nie!! Dit was op 'n manier LEKKER om myself so jammer te kry, om eerder die verlange en hartseer te voed. Dit was net te veel moeite om te probeer positief wees en "die goeie rondom jou" raak te sien. Dit het al my energie getap om te sorg dat ek my "pity-party" kon afhandel voordat Werner en die kinders by die huis kom, want dan moes ek sterk wees vir die dogters, hulle help om HULLE uitdagings aan te vat en sterk te staan (dit was beslis ook nie maklik vir hulle nie, maar ek is BAIE trots op my 2 dogters wat alles so goed hanteer het.). Ek wou ook nie hê dat Werner moet dink ek is ongelukkig nie - hy het genoeg ander dinge gehad om hom oor te bekommer. Hy het beslis nie nog 'n depressiewe vrou ook  op sy lysie nodig gehad  nie. Dit was vir my nogal n skok om te besef dat ek  tipiese depressie tekens by myself herken en weet wat ek kan doen om dit te bestuur, maar nie LUS het om dit te doen nie.


Skildery van Maria (House of Maria Mosselbaai)
Deur dit alles weet ek dat die Here hierdie tyd ook gebruik het om my nader aan Hom, en ons as gesin nader aan mekaar te bring. Maklik was dit beslis nie, maar die moeite werd? Verseker!!As ek vandag kyk na die 4 mense wat in daardie woonstel in Vicbaai ingetrek het, en hulle vergelyk met die 4 wat nou in hierdie huis woon, kan ek met sekerheid se dat ons nie dieselfde is nie. Ons het so gegroei! Een van my gunsteling preke van ds Roelf was een waar hy vertel het van 'n program wat hy oor sekere krewe gesien het, wat hulle doppe moes afgooi sodat hulle kon groei. In die groei-tyd was hulle dan baie "vulnerable" en ontbloot, maar as hulle die doppe opgehou het, sou hulle nie kon groei nie. Eers as die groei dan plaasgevind het, het 'n nuwe, groter dop gevorm. En so was dit beslis met ons. Ons het vulnerable en ontbloot gevoel, die seerkry goed gevoel, maar beslis gegroei. En nou het ons nuwe en groter doppe, is ons beter gepantser vir die lewe vorentoe.

Verlede week het ek skielik besef dat ek uiteindelik na my huidige lewe kyk en kan dink "dis reg en dis waar ek nou wil wees" Took you long enough - sal party seker sê! Ek weet verseker dat dit langer gevat het as wat ek gedink het dit sal. Dat ek beslis gestoei het met aanpas en inpas in my nuwe omgewing. Maar dat ek beslis ook kan getuig van die Here se goedheid, Sy nabyheid en Sy altyd-beter-weet-wat-is-goed-vir-Suna! Rhythms of Grace voorwaar. Miskien sou ek viervoet in Piet Retief vasgesteek het as ek geweet hoeveel op en af ritmes daar vir my sou wees. As ek geweet het dat die planne van inskakel en betrokke raak wat ek vooraf gemaak het, nie noodwendig sou uitwerk nie. Maar gelukkig het ek nie geweet nie! Want dan sou ek ook hierdie nuwe groei en ontdekking van myself misgeloop het.

Soms dink ek as iemand wat my nou hier leer ken, sou gesels met kennisse in Piet Retief, en die "Suna" bespreek wat hulle ken, sal hulle tot die gevolgtrekking kom dat hulle seker nie van dieselfde persoon praat nie! Dit voel vir my asof ek 'n nuwe rustigheid in myself het. Ek raak nie so gou opgewerk oor klein dingetjies nie, is dood tevrede om vir dae aaneen net my gesin as geselskap te hê, oggende alleen by die huis deur te bring sonder dat ek gedryf voel om iets te doen of iemand te sien of êrens heen te gaan. Ek is minder gepla oor hoe iets vir ander mense sal lyk (OK, bygesê - ek ken so min mense, daar is nie baie wat krities kan wees oor my idees of wat ek doen nie ☺ )

Ons het so baie keer die Here se hand van voorsiening ervaar: met 'n werkswinkel vir Werner, die huis wat ons huur, mense wat Hy op spesifieke tye ons pad laat kruis het, vriende ... die lysie gaan aan en aan. As daar een ding is waarvan ek doodseker is, is dit dat ons 'n God dien, wat REGTIG belangstel in ons lewens, wat ons doen, nodig het en hoe ons voel.  Ek glo verseker nog minder in "toevallighede" as voorheen en weet bo alle twyfel dat Hy alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet. Dat al ons bes beplande voornemens, nie kan kers vashou by wat Hy vir ons beplan nie. En dat wat God vir ons beplan ALTYD goed en voorspoedig is.

Ek het nou die dag die volgende êrens gehoor: in Afrikaans is daar net een woord vir Genade, in Engels is dit Grace of Mercy. En die verskil tussen die 2: "Grace = when God gives you what you don't deserve, Mercy = when you don't get what you actually deserve" En ek kan getuig van oneindige Grace in hierdie tyd - ons het beslis soveel meer gekry as wat ons verdien!
Let my lifesong sing to You - Maria Oosthuizen
Vandag kan ek God net eer en prys vir die pad wat Hy die afgelope 12 maande met ons geloop het. En ek kan met eerlikheid se dat ek dit weer sal doen. Natuurlik mis ons nog ons familie en vriende, en wens ons dat ons hulle meer gereeld kan sien en kuier. Ons is nog lank nie "locals" nie, en sal seker vir 'n lang tyd "inkommers" bly. Voel asof ons nie heeltemal hier inpas nie, maar ook nie meer in Piet Retief sal inpas nie Maar ek weet ook dat ek dit nou as deel van die normale ritmes van die lewe herken. Die lewe sal altyd uit op- en aftye bestaan.  Daar sal tye wees dat dit met ons goed gaan en wat dit dalk sleg gaan, wat ons weet waarheen ons oppad is en wanneer ons nie 'n "cooking clue' sal hê waar ons volgende gaan uitspoel nie. Maar wanneer ons ons vertroue in God plaas, sal al hierdie dinge en tye hanteerbaar wees, ten goede uitwerk en SAL ons OK wees - no matter what!

(NS: Al die slkiderye hierbo is deur Maria Oosthuizen, 'n kunstenaar van Mosselbaai. Gaan kyk gerus na haar werk op haar website House of Maria. Dit PRAAT met n mens!)

Saturday, 14 March 2015

Desember op 'n drafstap

Net soos wat ek nie 'n oggendmens is nie, is ek ook nie 'n begin-van-die-jaar mens nie. Dit voel altyd vir my asof ek van 'n bewegende voertuig afgelaai word en al hardlopende grondvat. Die dat ek eers teen einde Februarie sover kom om my Desember-vakansie ervarings neer te pen. Mosterd na die maal - ek weet!

As die lewe uit ritmes bestaan, is Desember in die Tuinroete beslis 'n allegro. Van einde November af is die verandering al duidelik sigbaar: al hoe meer "uitlandse" nommerplate op die pad, langer toue in die mall, minder parkering by die strand en geen versekering van 'n tafel by jou gunsteling koffie-plek nie.

Ons het al almal die briewe in die Huisgenoot gesien van die tannies wat elke Januarie so kla oor die Desember kuiergaste. Hulle vat jou huis oor, maak jou yskas leeg, en dop jou beursie heeltemal om! Hulle soek goedkoop verblyf en laat 'n handoek- en skottelgoedspoor! Hierdie Desember het ek so bietjie 'n idee gekry waaroor hulle skryf: van die 28e November tot 21 Januarie, het ons gesin net 5 aande alleen in ons huis geslaap.

Maar daar was 'n paar groot verskille tussen my gaste en dié van die Huisgenoot-tannies! Die gaste wat oorgeslaap het, het meer as hul kant gebring, gehelp kosmaak en skoonmaak, en soms die yskas voller agtergelaat as wat hulle dit gekry het (veral die Kersfees slaaie ☺ ) Ons huis is gevul met harts-geselsies, uit-die-maag-lag-buie en sommer-net-saamwees-tye. Ons het saam op die strand gebak, boot gery en waterspeletjies gespeel, bos toe gegaan (en BOS gegaan!), markies besoek, nuwe plekke ontdek en baie koppies koffie en lang glase wyn geniet.

Dit was so spesiaal om vir ons hartsmense ons nuwe wêreld te wys, om te sien hoe hulle ontspan en die tyd geniet, die mooi wêreld waardeer. As almal wat vir die eerste keer hier was, hulle beloftes van gereelde kuiers gaan nakom, oorweeg ek dit om die George Toerisme Raad vir kommissie te vra!
Iemand het eendag gespot dat een stel gaste skaars regs om die draai weg is, dan kom die volgende kar al links om die hoek en hulle was nie ver van verkeerd af nie! Daar was tye wat ons poot-uit was en kon doen met 'n dag se rus of meer slaap-ure, maar onder geen omstandighede wou ons enige kuiertyd inboet nie! Met elke stel gaste wat vertrek het, het ons 'n paar trane gestort en gewens dat ons die kuiertyd bietjie langer kon rek. 

Dankie vir elkeen van ons vriende wat 'n stukkie van julle vakansie met ons kom deel het. Ons besef dat hier so baie is om te doen en sien en waardeer daarom elke kuier, hoe kort of lank dit ookal was. Soms was daar net tyd vir 'n vinnige koffie (of 'n lekker Kaapse wyntjie!) en ander kere kon ons darem saambraai en om die tafel kuier. Soms moes ons na buurdorpe ry of mekaar "halfpad" tussen bestemmings kry om darem nie uit te mis kontak-maak nie. Ma het saamgewerk deur 'n paar keer pakkies saam te stuur, wat mense gedwing het om 'n draai by ons te maak ☺ Eerste prys was die oorbly-kuiers wanneer ons kon gesels tot die eerste een se oë in die geselskap toe geval het. Ons tent het as gastekamer diens gedoen, en soms het die matrasse tot by die voordeur gelê. Elke keer wanneer ek dan in die oggend uit my kamer kom en die laslappie-beddens in die woonarea sien, het my hart sommer gejubel van dankbaarheid dat ek spasie het en KAN sê: slaap asb oor!

Een van die grootste voorregte was natuurlik om my Pa en Ma vir 2 weke by ons te hê. Om sommer net te kan gesels en rondry en saamwees, asof daar nie 6 maande se wegwees tussen in gelê het nie. En die kans om ons nuwe kleine niggie te ontmoet! Klein Layla is lag-lag die soetste baba wat ek al ooit tee gekom het. Ruan, Neelandrie en Layla het in die kamer langs ons geslaap en ek het haar nie een aand hoor huil nie! Werner het haar die laaste oggend gesmeek om tog net een keer te huil sodat ons kan hoor of sy kan. Haar reaksie: 'n gebabbel en 'n oopmond lag! Sy het met haar glimlaggies en geselsies vinnig in ons harte ingekruip.

Ek kyk deur die vakansie foto's en besef daar is ten minste 7 stelle vriende wat nie eers erens op fotos is nie! So in die toekoms neem ek nog meer fotos - al het ons min tyd vir kuier. Om later deur die fotos te kyk en die geselsies te herleef, is vir my deel van die lekker!

Nou het ek 9 maande oor voor die volgende Desember vakansie: net genoeg tyd om energie en stamina op te bou vir die volgende kuiersessies...

O ja, daar was ongelukkig een stel gaste wie se maniere en vriendelikheid bietjie ontstellend was: Adoons en Kesie van Riebeeck het ons een middag in ons afwesigheid besoek en die hele kombuis omgekeer, die yskas en koskas leeg gemaak en verseker NIE agter hulle sterte skoon gemaak toe hulle uit is nie (ons vermoed hulle is van Riebeecks, want dit het mos nou uitgekom dat die betrokke familie vir al ons probleme in SA verantwoordelik is!) So ons het ten minste EEN sappige brokkie vir die Huisgenoot! Gelukkig kon ons alles binne 2 ure skoonkry en het ons nie enige groot breekskade gehad nie. Bobbejane is beslis die slang in ons paradys.

Thursday, 25 December 2014

Bloed IS dikker as water

Ons kuier die naweek voor Kersfees op die plaas Klein Jongensfontein met die Gillespies en Enslins. Tussen regmaak vir markdag, stalletjies opslaan en later opruim en wegpak, gesels ons kopstukke. Saterdagaand is ons almal poot-uit, maar dis asof ek die bed-toe-gaan uitstel. My onderbewussyn weet dat slaaptyd kuiertyd minder maak!

Ek bly verwonderd hoe 'n kuier met familie-maats van kleintyd altyd so maklik kom, selfs al sien ons mekaar dikwels vir 'n paar jaar nie gereeld nie. Al het ons in verskillende rigtings gegroei en ontwikkel, uiteenlopende beroepe gevolg en al handhaaf ons selfs deesdae verskillende lewenstyle,  bly daar 'n "bekendheid" wat nie sommer verduidelik kan word nie.

Geselsies wentel rondom 'n magdom verskillende onderwerpe, en elke nou en dan maak dit lankvergete herinneringe los en begin die "onthou-jy-nogs" deel word van gesprekke. Dit sorg vir lekker lag en heimwee.

Ek besef elke nou en dan, diep dankbaar, dat my kleintyd en grootword jare SO bevoorreg was! Nie as gevolg van WAT ons gehad het nie, maar oor WIE deel was van my lewe. As gevolg van saamwees-ervarings, familie-tye, eenvoud en moeitelose kindwees: die dinge wat nie eers Branson of Gates se miljoene kan koop nie.
Sondagoggend sit ek en niggie Lindie in haar sitkamer  saam met die dogters en gesels. Die gesprek oor kersbome vat vinnig 'n afdraaipad na herinneringe van familie Kersfeeste: Ons onthou die vreugde van kersboom versier op die plaas. Die afgesaagde dennetak (NOOIT 'n nagemaakte, kunsmatige boom nie!!) wat in 'n groothouer met klippe staangemaak word. Gewoonlik was die "boom" so groot dat die punt net-net by die sitkamer ingepas het. Granny wat ons kleinkinders vrye teuels gegee het met die versiering van die boom. Die opwinding om die oorgetrekte skoendose oop te maak en die ou bekende versierings uit te haal. Ek onthou silwer en goue stringe "krale", hout figuurtjies en aanknip kersblakers. Ook hoe iemand gereeld op Ou-Kersaand moes opspring om smeulende dennenaalde te blus ☺ Stringe liggies wat getoets moet word en die soeke na die EEN geblaasde gloeilampie wat verhinder dat die liggies flikker. En die "pièce de résistance... Granny se piepklein "nativity set"!

Die Ou-Kersaand program het vir sy eie opwinding gesorg. Die Gillespie kleinkinders mog nie net terugsit en ontvang nie. Ons moes sorg vir die aand se "vermaak". Ek onthou toneelstukkies en poppe vertonings, koortjies en ander Kers-opvoerings wat ons kinders op die planke gebring het. Dikwels met 'n paar dikmond neefs wat soos herders of wyse manne opge"dress" is ☺  En NOOIT is daar iets aangekoop vir hierdie opvoerings nie. Alles is self aanmekaar geflans, uitgesny of geimproviseer uit Granny en Mamma se linne- en materiaalkaste. (Ek is redelik seker Josef het nooit 'n Victoria Falls t-hemp besit nie ☺) 

Daarna altyd Lalla (my oupa se troetelnaam by sy kleinkinders) wat die Kersverhaal voorlees en ons almal wat saam kersliedere sing in Afrikaans en Engels. Soms was daar 'n kersvader wat in die tuin aangestap sou kom met 'n sak oor sy skouer. Om een of ander vreemde rede wat ons net nie kon verstaan nie, waas daar ALTYD een van die ooms wat die opwinding gemis het omdat hy kwansuis TOE 'n draai moes loop☺  Tog dink ek nie dat enige van ons ooit ons hoop ten volle in die "man-in-rooi" geplaas het om Kersfees spesiaal te maak nie. Die kuier met neefs en niggies het sy teenwoordigheid ver oorskadu!

Hierdie Kersfees vier ons sonder familie, en ek wil-wil myself begin jammer kry. (Dankie tog vir vriende wat soos familie is saam met wie ons die dag kan deurbring.) Maar ek raak rustig in die wete dat ten minste EEN familielid ALTYD saam met ons Kersfees vier - my Broer wat 2000 jaar gelede al besluit het om Sy lewe vir my af te lê , omdat ons Pa toe al geweet het dat ek andersins nooit eens rede sal hê  om Kersfees te vier nie!

My wens is dat jy hierdie Kersseisoen bewus sal wees van Sy nabyheid, ongeag die hoeveelheid mense wat om jou is, midde-in die gemis van mense wat nié meer daar is nie, ten spyte van mense wat dalk nie jou keuse van Kers-genote is nie. En dat jy sal weet: Bloed is WEL dikker as water - veral Syne! Geseënde Kersfees!!


Monday, 10 November 2014

DAYENO - meer as genoeg

Ons het 'n huis gekry!!!!

Na 4 maande se beknopte bly in 'n 2-slaapkamer woonstel, kon ons hierdie week in die (huur)huis intrek wat ons glo God van die begin af vir ons ingedagte gehad het!

Van die begin af het ons geglo dat die Here vir ons die regte huis sal gee: 'n plek wat vir ons 'n tuiste sal wees, waar ons vriende sal kan ontvang en van waar ons die wonders van hierdie stukkie aarde sal kan geniet. 

In hierdie tyd het ons honderde oproepe gemaak, na hordes huise gaan kyk en baie hoopvolle kilometers agter moontlike blyplekke aan gery. En elke keer onverrigter sake teruggekeer! Ek sal jok as ek sê dat ons nooit moedeloos geraak het nie! Inteendeel, ek het meer as een keer (nee, eerder elke tweede dag!) gewonder of ons verkeerd verstaan het. Verwag ons "te veel"? Moet ons dalk eerder afskaal en in 'n kleiner huisie intrek, iets minder ideaal maak werk? Ons wenslysie was nie buitensporig nie: 3 slaapkamers, 2 badkamers, 2 garages, spasie vir Werner om 'n boot/waentjie/enige ander "projek" te kan parkeer. En verkieslik wou ons 'n plek hê waar ons darem 'n ekstra matras of 2 kon uitgooi as ons kuiermense kry.Ons het ook op 'n maksimum bedrag besluit wat ons op huur kon spandeer (alreeds heelwat meer as wat ons in Piet Retief gewoond was). In die 4 maande wat ons huis gesoek het, het ons gesien hoe die pryse styg. Hier is 'n konstante toename in mense wat hierheen trek en die blyplek raak net skaarser. Een agent het eendag gesê dat hier volgens hom 'n tekort van ten minste 2000 huurhuise in George is - baie bemoedigende opmerking aan iemand wat huis soek!!! Die huise wat in ons prysklas val was telkens klein, neerdrukkend, vodde of sonder garage/parkeer spasie. Ons wou ook graag in die area naby die skool blyplek kry, maar dit het al hoe meer na 'n onmoontlikheid gelyk. Ons was gewoond aan Piet Retief se 2 km tot by die skool en ek het nie kans gesien om 4 of 6 keer 'n dag 8-10 km skool toe en terug te ry nie. (ja, ek weet vir julle in die stad klink 10km hemels, maar hierdie plaasjapie hou nie van baie rondry en verkeer nie)

Eendag, in 'n gesprek met 'n vrou by die skool oor ons huissoekery, sê sy: "'n Mens trek nie hierheen en gaan bly dan op 'n plek waar jy NIE die see of die berg kan sien nie." Ek onthou dat ek so by myself gedink het: "dis maklik gesê as mens 'n onbeperkte begroting het" Ons sou so graag 'n mooi uitsig wou hê, maar al die areas wat daaraan voldoen, vra ook vet beursies! 2 jaar gelede by die Michael W Smith konsert het Werner tydens een liedjie  'n prentjie van 'n berg gesien en ervaar dat dit iets te doen het met ons toekoms en waar ons sal bly. Sedert ons hier is het ons baie keer sommer in die dorp rondgery en huise en woonbuurte gekyk. Op een so 'n "trippie" het een deel van die berg ons aandag getrek omdat dit ruwer voorkom as die res. Werner het daarna gekyk en gesê: "DIS hoe die berg wat ek gesien het, gelyk het" en vol bravade aangekondig: "Ons gaan hierdie berg van ons huis af kan sien!"  Wanneer ons huise gaan kyk het, het ek ongemerk begin loer of mens die berg kan sien - soortvan as 'n teken of ons dalk nou na die regte plek gaan kyk. Die weke het maande geword en ek moes myself elke keer herinner dat wat vir ons onmoontlik lyk, wel vir God moontlik is. Al hoe meer het ek ook besef dat ons wenslysie, gekombineer met ons begroting en die permanente verhoging in huurpryse nou in die "onmoontlik" kategorie begin val. En telkens het ek begin twyfel of ons die reg optree deur te soek na die "regte" plek. Moet ons nie maar vat wat ons kan kry en daarmee saamleef nie? Vra ons te veel? Daar is baie mense wat met baie minder moet regkom - is ons dalk "huis-snobs"? Net wanneer ek seker is ons verwag te veel, kry ek skrif, of hoor 'n preek of 'n ander bevestiging: "niks is vir God onmoontlik nie" "Hy sal sorg" "wat die Here gee is altyd meer as genoeg en bo ons verwagting" "Hy het reeds julle huis uitgesoek" " Hy het iets spesiaals vir julle in gedagte"

Toe, 2 weke gelede, noem iemand vir my van 'n onderwyser by Outeniqua HS wat die volgende week trek.  2 dae later vertel 'n vriendin van Rentia ook van dieselfde mense en hoe lekker die huis is waarin hulle bly. Ek weet dis 'n redelike gesogte area, maar iets in my bly kriewel oor die plek, en ek besluit om te bel. Die eienaar bly in Botswana en sy ma tree op as "agent". Sy noem dat hy eintlik die huis wil verkoop, maar ons kan kom kyk. Toe ons instap WEET ons dit is die plek vir ons! Oop, sonnig, 'n lang oprit ☺ ... dit voel soos HUIS! Toe ons omdraai en uitloop kyk ek en Werner vir mekaar: voor ons lê die berg in al sy glorie!! Dit vat nog 3 dae vir die eienaar om te besluit of hy wil verhuur of verkoop. 3 dae waarin ek te bang is om opgewonde te raak, te bang om hardop vir iemand te sê dat ons die regte plek gekry het - sê nou maar dit val deur die mat? Oor en oor ry ek voor die huis verby, twyfelend of ons regtig SO geseënd kan wees. 

Toe die eienaar laat Donderdagmiddag laat weet ons kan die huis huur, is ons uit ons velle. Werner bel die stoor waar ons meubels gehou word om te hoor wanneer hulle kan aflewer. Hulle verkies 'n maand kennis, maar sal kyk wat hulle kan doen. Maandag oggend laat weet hulle dat hulle Dinsdagmiddag kan aflewer, anders eers oor 2 weke. Alles is in rep en roer. Die huidige huurders trek Maandag uit, Maandag aand en Dinsdagoggend verf ek en Werner en die eienaar se ma kamers en plafonne. Half 10 laat weet die vervoermaatskappy dat hulle oor 'n uur hier is! Hulle laai ons trek af in gietende reën (ek verkies om te glo dat dit n teken van "abundant" seën is!). Tussendeur moet die woonstel waar ons die afgelope 4 maande gebly het opgepak word, die meisies by die skool op en afgelaai word, Karla haar Ontwerp praktiese eksamen afhandel en meubels georganiseer word. Maar te midde van al die deurmekaarheid kan ek nie ophou voel asof ek swem in oorvloed-seën nie! Ons het 'n huis gekry, en nie sommer net 'n huis nie, maar DIE huis; die huis wat ek nou met my hele hart glo die Here nog heeltyd vir ons in gedagte gehad het!! Die huidige huurders moes nog net besluit om te trek!!
Die uitsig van ons voorstoep af

Ons stoep kyk uit op die veld, bos en die berg. Die son stroom heeldag deur ons sitkamer vensters in (dis nou wanneer die son in George skyn!! ☺ ) Ons gaan slaap met die geluid van naguiltjies, paddas en krieke, en word wakker met 'n hele koor van voëlgesang. Ons hoor duiwe, Piet-my-vrou, vleiloeries, visarende en hope ander voëls wat ek nog nie herken nie. Op die oorkantste sypaadjie jaag die tarentale mekaar, 'n reier staan in die gras en middagete soek en elke nou en dan sien ons die rooi vlerke van 'n Knysna loerie wat tussen die bome verdwyn. Eergister was hier selfs 'n bosbok-ooitjie met haar lammetjie wat skaars 20m van ons voordeur af in die gras gewei het!! Die huis het 'n gevestigde tuin uitgelê met amper elke plantsoort wat ons in ons tuin in Piet Retief gehad het! Net die Here kon dit so beplan het!! Hier is selfs 'n "Yesterday,today and tomorrow" in ruil vir die een wat ek met 'n seer hart moes agterlaat. Daarby is ons presies 2 km van die skool af. En dit alles vir R1000 MINDER as die "maksimum" wat ons bereid was om te spandeer. Onmoontlik?? Verseker! Net God kon dit alles so bewerkstellig!!!

Ek werk in die huis en kan nie glo dat ek so vinnig voel asof ek vir altyd hier kan bly nie! Ek geniet dit om weer my eie wasmasjien te gebruik, om my mooigoed uit te pak en spesiale plekkies vir elkeen te soek. Terwyl ek uitpak onthou ek elke vriendin wat my gehelp het om die bepaalde boks in te pak: Marlene, Ronelle, Alma, Cecile, julle was hierdie week weer so in my gedagtes!

Ek kyk terug op die afgelope 4 maande en kry skaam! Ek het al so dikwels die verhaal van die Israeliete se woestyn-trek gelees, en baie keer gewonder hoe hulle keer op keer so vinnig kon vergeet hoe God hulle versorg, gevoed en gered het met wonderwerke. Tog het ek in 4 maande so baie keer getwyfel, en selfs begin rondkyk na ander moontlike maniere om hierdie belofte van blyplek te help waarmaak. In stede daarvan om net te WAG, te GLO en te VERTROU. Dit nadat Hy al soveel keer in die verlede tot ons redding gekom het, uitkoms gegee het en die regte dinge op die regte tyd laat gebeur het. En ja dit is toe waar: wat God vir ons beplan het oortref ons wildste verwagtinge! Ons bekers loop oor. DAYENO: wat God gee is MEER AS GENOEG!

Die donker randjie aan hierdie silwer wolk is dat die huis steeds in die mark is. Ons kontrak is daarom eers net vir 1 jaar.  Bid asb saam met ons dat die Here ook hierdie situasie vir ons sal oplos - soos net Hy kan!