Monday, 11 August 2014

I am... I said...


Ek kan nie glo dat ‘n mens se emosies so vinnig kan verander- sonder enige noemenswaardige gebeure wat dit omswaai nie: ek het vanoggend opgestaan soos elke ander oggend (of te wel bietjie vroeër want ek moes vandag kinders skool toe vat). Terug gekom, koffie saam met Werner gedrink, gesels, hy het gery, ek het rustig gesit en my gedagtes het wye draaie begin loop … en 15 minute later sit ek en huil krokodiltrane oor alles waarop ek uitmis.

Ek is in ROU!!

Daar is dinge waarna ek al vir jare uitgesien het om van deel te wees, soos matriekafskeidreëlings saam met mede-ma's as my kinders in gr 11 is en om saam met hulle hul matriekjaar te beleef in dieselfde skool waar EK matriek gemaak het. As ek dit skryf klink dit bietjie “trivial”, maar dis prentjies wat al in my gedagtes begin vorm aanneem het, wat ek nou moet uitvee… 

Ek sien vriendin Sirita se foto op Facebook van Henno-lief wat saam met pa Hennie op die treadmill oefen, en my hart pyn letterlik in my bors, want ek wou nou DAAR gewees het vir hulle, wou saam met hulle die hartseer en oorwinnings van Henno se herstel beleef het. Ek wil vinnig by my ma inhardloop net om hallo te sê en omdat ek 10 minute beskikbaar het. Ek wil by my kombuis instap en sien Susan, my vriendin van amper 40 jaar, het klaar die ketel aangesit en die koppies uitgehaal terwyl sy vir my gewag het. Ek wil saam met 'n vriendin bly-opgewonde wees oor haar dogter se telefoonoproep. Ek wil vir nie net stemme oor telefone hoor nie- ek wil arms VOEL wat drukkies uitdeel.  Ek wil my hartsmense se gesigte SIEN as ek met hulle praat! Ek wil by Pick&Pay inloop vir n brood en eers ‘n halfuur later daar uitloop want ek het te veel mense raakgeloop wat ek ken. Ek wil by die skoolsport staan en mense KEN- die kinders, die ouers, die onderwysers (selfs die geboue is bekend). Hier is alles vreemd. Ek wil dorp toe ry en elke paar minute vir iemand wat verby ry, waai.  En ek wil weet as ek nounou hier uitloop, gaan iemand wat ek ken my êrens voorkeer en vra “Is jy OK, jy lyk af vandag?” Hier weet niemand eers wat is my normale manier van “lyk” nie.

Vanoggend is ek lus vir my eie “pity-party”! Twee ure gelede het ek nog met opgewondenheid gedink oor waar ek kan of wil inskakel by die skool en kerk. Nou sit ek hier en dink: “Ek WIL NIE inskakel nie, ek soek my ou skool, my ou vriende, my ou kerk… Ek soek my MA!!! (klink dit vir julle ook soos n 5 jarige - as ek dit oor lees, hoor ek sommer daardie temerige stemmetjie ☺) Ek hoor Neil Diamond sing in I am I said:  "L.A.'s fine, but it ain't home
                                                       New York's home,
                                                       But it ain't mine no more"  
.... en ek weet presies hoe hy voel.

Ek is eintlik verbaas oor die intensiteit van hierdie emosies. Ek sit hier en snik soos iemand wat ‘n doodstyding ontvang het. Maar eintlik het ek! Vanoggend het ek besef dat sekere ervarings vir altyd verby is, en ek moet afskeid neem daarvan en aangaan. Ek het besef dat sekere dinge waarna ek uitgesien het nooit gaan gebeur nie (of ten minste nie soos ek my dit voorgestel het nie) En ek moet die realiteit in die oë staar dat ander mense nou my plek sal inneem by die skool, by die kerk, in my vriendekring… en dat dit reg is so! EN dat ons almal OK sal wees met hierdie veranderings.

Die natuur het seisoene en ons lewens het seisoene. Hierdie is my nuwe seisoen. Dit is die oorgang tussen winter (afskeid) en  lente: tyd om nuwe wortels uit te stoot en vastrapplek te soek tussen die versteekte klippies onder die grond. En net soos ‘n nuutgeplante plantjie maar teer is, maklik kan seerkry, omwaai of uitdroog, besef ek dat ek ook tye gaan hê waar ek uitgelewer, onseker en ontuis gaan voel.

Gelukkig het ek dié versekering: ek is nie alleen nie! Ek het DIE God van hemel en aarde by my! Die Een wat my gevorm het, dra my ook. En Hy het mos reeds vir my gesê:
 
“Moenie vassteek by die verlede nie. Moenie net dink aan die dinge wat verby is nie. Let op! Ek gaan iets nuuts laat gebeur! Dit het alreeds begin, kom jy dit nie agter nie?” (Jes 43:18-19)


Ek sien met hoeveel oorgawe my dogters die nuwe skoollewe ingaan, deel word. Ek sien hulle glimlagte en blink oë (en nee, hulle oë blink nie van trane nie, maar van vreugde) En ek besef: die nuwe dinge het reeds begin gebeur! Hy het ook nuwe ervarings vir my ingedagte. So dit is tyd om my rouklere uit te trek, my feesklere aan te trek (Ps 30:12)

Dus: ek gaan opstaan, opkyk en begin soek na die nuwe fees-geleenthede om my (en 'n nuwe boks tissues koop!!) Watchout George, here I come!

Monday, 4 August 2014

'n Nuwe Lente in Julie


Vandag is dit presies 'n maand sedert ons ons bagasie in Hartenbos afgelaai het, en hierdie nuwe seisoen in ons gesin se lewe begin het.

Ek onthou die dag toe Werner my bel om te se dat die huis verkoop is. Ek het soortvan begin aanvaar dat ons TOG maar die volgende paar jaar in Piet Retief gaan deurbring- en ek sou beslis nie omgee nie. Ek het die eerste 18 jaar van my lewe hier deurgebring, en na 11 jaar in Johannesburg saam met my gesin teruggekom en weer 15 jaar lank hier gewoon en gewerk. Hier het ons goeie en slegte tye beleef, baie gelag en baie gehuil, vriendskappe gevorm en mense leer ken, soms ge"suffer", baie gegroei, verhoudings gebou, kinders groot gemaak, huis gebou. Kortom: hier het ons gesin vir 15+ jaar geLEEF! En met daardie oproep het my afskeid neem begin.

'n Dol paar maande het gevolg met 'n paar onverwagte gebeurtenisse wat ons beplanning deurmekaar gekrap het. Laaste kuiers met goeie vriende, beloftes van weersiens, baie trane en die stille wete dat alles tog gaan verander... En voor ons ons oë kon uitvee was die karre gepak, het ons vir Pappa en Mamma gegroet en met oë wat al die laaste beelde wil opslurp, stadig uit Piet Retief gery. Ek soek woorde om daardie gevoel te beskryf... en ek kry niks...

Baie teenstrydige emosies het in my gewoel vir aandag: opgewondenheid oor nuwe geleenthede, vrees vir die onbekende, hartseer oor almal wat ek moet agterlaat, dankbaarheid oor so baie spesiale vriende wat ek gemaak het, twyfel of ons die regte ding doen, sekerheid dat ek reg is hiervoor, angstigheid oor hoe alles sal uitwerk, vertroue dat God in beheer is....

En nou is dit 'n volle maand later. Die dogters is al 2 weke in hul nuwe skool. Ons soek nog steeds huis en bly solank in n klein woonstelletjie. Ons het nuwe plekke ontdek en nuwe mense leer ken. Ons het heerlike kuiers met ou vriende ingewerk. Ons het onverwagse en spesiale ontmoetings met die Here gehad en 'n nuwe geestelike tuiste gekry. Ons het op die strand gaan stap en die nuwe omgewing verken.

Ek het al moedeloos en verlate gevoel, dan weer dankbaar en opgewonde. Ek moet leer om wasgoed droog te kry in 'n anderste klimaat en die weer leer "lees". Ek moet 'n nuwe haarkapper, apteek, dokter soek. 'n Nuwe week-roetine vestig met veranderde skooltye en afstande. Ek moet soms my "pose" hou as ek eintlik net myself wil jammer kry en verlang. Ek moet myself herinner dat hierdie NIE vakansie is nie, dat dit nou huis is. En oor en oor moet ek myself weer totaal oorgee in God se hande. Herinner word dat hierdie seisoen deel is van Sy reis met ons, met my.

Die eerste Sondag hier, het ons saam met Braam & Rentia hul gemeente in Mosselbaai besoek. Die predikant se boodskap het uit Mattheus 11 gekom: "kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is" (ook emosioneel) en hy het dit ook uit die Message gelees waar daar staan: "Learn the unforced rhythms of grace" Dit was vir my SO mooi. Gisteraand tydens ons aanbiddingsdiens by Eden flits hierdie woorde weer oor die skerm. En ek besef: dit is presies wat ons ervaar - unforced rhythms of grace!! Kom dus saam met my op hierdie reis van oppe en affe, van wisselende emosies. Soos die see se eb en vloed, die seisoene wat mekaar jaar na jaar volg; so het die lewe 'n bepaalde ritme. Ons gaan dit ervaar en geniet!