Ek kan nie glo dat ‘n mens se emosies so vinnig kan
verander- sonder enige noemenswaardige gebeure wat dit omswaai nie: ek het
vanoggend opgestaan soos elke ander oggend (of te wel bietjie vroeër
want ek moes vandag kinders skool toe vat). Terug gekom, koffie saam met Werner
gedrink, gesels, hy het gery, ek het rustig gesit en my gedagtes het wye draaie
begin loop … en 15 minute later sit ek en huil krokodiltrane oor alles waarop
ek uitmis.
Ek is in ROU!!
Daar is dinge waarna ek al vir jare uitgesien het om van
deel te wees, soos matriekafskeidreëlings saam met mede-ma's as my
kinders in gr 11 is en om saam met hulle hul matriekjaar te beleef in dieselfde
skool waar EK matriek gemaak het. As ek dit skryf klink dit bietjie “trivial”,
maar dis prentjies wat al in my gedagtes begin vorm aanneem het, wat ek nou
moet uitvee…
Ek sien vriendin Sirita se foto op Facebook van Henno-lief
wat saam met pa Hennie op die treadmill oefen, en my hart pyn letterlik in my
bors, want ek wou nou DAAR gewees het vir hulle, wou saam met hulle die
hartseer en oorwinnings van Henno se herstel beleef het. Ek wil vinnig by my ma
inhardloop net om hallo te sê en omdat ek 10 minute beskikbaar het.
Ek wil by my kombuis instap en sien Susan, my vriendin van amper 40 jaar, het
klaar die ketel aangesit en die koppies uitgehaal terwyl sy vir my gewag het. Ek
wil saam met 'n vriendin bly-opgewonde wees oor haar dogter se telefoonoproep. Ek
wil vir nie net stemme oor telefone hoor nie- ek wil arms VOEL wat drukkies
uitdeel. Ek wil my hartsmense se gesigte
SIEN as ek met hulle praat! Ek wil by Pick&Pay inloop vir n brood en eers
‘n halfuur later daar uitloop want ek het te veel mense raakgeloop wat ek ken.
Ek wil by die skoolsport staan en mense KEN- die kinders, die ouers, die onderwysers
(selfs die geboue is bekend). Hier is alles vreemd. Ek wil dorp toe ry en elke
paar minute vir iemand wat verby ry, waai. En ek wil weet as ek nounou hier uitloop,
gaan iemand wat ek ken my êrens voorkeer en vra “Is jy OK, jy lyk af vandag?” Hier
weet niemand eers wat is my normale manier van “lyk” nie.
Vanoggend is ek lus vir my eie “pity-party”! Twee ure gelede
het ek nog met opgewondenheid gedink oor waar ek kan of wil inskakel by die
skool en kerk. Nou sit ek hier en dink: “Ek WIL NIE inskakel nie, ek soek my ou
skool, my ou vriende, my ou kerk… Ek soek my MA!!! (klink dit vir julle ook
soos n 5 jarige - as ek dit oor lees, hoor ek sommer daardie temerige
stemmetjie ☺) Ek hoor Neil Diamond sing in I am I said: "L.A.'s fine, but it ain't home
New York's home,
But it ain't mine no more" .... en ek weet presies hoe hy voel.
New York's home,
But it ain't mine no more"
Ek is eintlik verbaas oor die intensiteit van hierdie emosies. Ek
sit hier en snik soos iemand wat ‘n doodstyding ontvang het. Maar eintlik het
ek! Vanoggend het ek besef dat sekere ervarings vir altyd verby is, en ek moet
afskeid neem daarvan en aangaan. Ek het besef dat sekere dinge waarna ek
uitgesien het nooit gaan gebeur nie (of ten minste nie soos ek my dit
voorgestel het nie) En ek moet die realiteit in die oë staar dat ander mense
nou my plek sal inneem by die skool, by die kerk, in my vriendekring…
en dat dit reg is so! EN dat ons almal OK sal wees met hierdie veranderings.
Die natuur het seisoene en ons lewens het seisoene. Hierdie is my
nuwe seisoen. Dit is die oorgang tussen winter (afskeid) en lente: tyd om nuwe wortels uit te stoot en
vastrapplek te soek tussen die versteekte klippies onder die grond. En net soos
‘n nuutgeplante plantjie maar teer is, maklik kan seerkry, omwaai of uitdroog,
besef ek dat ek ook tye gaan hê waar ek uitgelewer, onseker en ontuis gaan
voel.
Gelukkig het ek dié
versekering: ek is nie alleen nie! Ek het DIE God van hemel en aarde by my! Die
Een wat my gevorm het, dra my ook. En Hy het mos reeds vir my gesê:
“Moenie vassteek by die verlede nie. Moenie net dink aan die dinge wat verby is nie. Let op! Ek gaan iets nuuts laat gebeur! Dit het alreeds begin, kom jy dit nie agter nie?” (Jes 43:18-19)
Ek sien met hoeveel oorgawe my dogters die nuwe skoollewe ingaan,
deel word. Ek sien hulle glimlagte en blink oë (en nee, hulle oë blink nie van
trane nie, maar van vreugde) En ek besef: die nuwe dinge het reeds begin
gebeur! Hy het ook nuwe ervarings vir my ingedagte. So dit is tyd om my
rouklere uit te trek, my feesklere aan te trek (Ps 30:12)
Dus: ek gaan opstaan, opkyk en begin soek na die nuwe fees-geleenthede om my (en 'n nuwe boks tissues koop!!) Watchout George, here I come!
Liefste Suna, ek verstaan hoe jy voel hier waar ek in Newcastle sit en lees! Ek voel ook so en moes ook verstaan dat die oue verby is en die nuwe wag! Ou vriende bly vriende en nuwe vriende is nog wat bykom. Ek het awesome mensies ontmoet wat my lewe ryker maak as wat ek gedink het moontlik is.
ReplyDeleteLiefde daar!!
Dis so waar, Orna. Wou jou nog mail om te hoor hoe dit gaan- ons lewe was ook maar deurmekaar voor die trek. Hoop julle is baie gelukkig in Newcastel- glo die Here gaan jou baie kragtig daar gebruik. Baie liefde! xxSuna
DeleteJulle is beslis een van die seeninge van ons trek hierheen, Isabel. Baie dankie vir nou die aand se kuier. Ons 2 kan nou maar mekaar troos wanneer ons af voel, en verder lekker kuier die res van die tyd.
ReplyDelete