Monday, 4 August 2014

'n Nuwe Lente in Julie


Vandag is dit presies 'n maand sedert ons ons bagasie in Hartenbos afgelaai het, en hierdie nuwe seisoen in ons gesin se lewe begin het.

Ek onthou die dag toe Werner my bel om te se dat die huis verkoop is. Ek het soortvan begin aanvaar dat ons TOG maar die volgende paar jaar in Piet Retief gaan deurbring- en ek sou beslis nie omgee nie. Ek het die eerste 18 jaar van my lewe hier deurgebring, en na 11 jaar in Johannesburg saam met my gesin teruggekom en weer 15 jaar lank hier gewoon en gewerk. Hier het ons goeie en slegte tye beleef, baie gelag en baie gehuil, vriendskappe gevorm en mense leer ken, soms ge"suffer", baie gegroei, verhoudings gebou, kinders groot gemaak, huis gebou. Kortom: hier het ons gesin vir 15+ jaar geLEEF! En met daardie oproep het my afskeid neem begin.

'n Dol paar maande het gevolg met 'n paar onverwagte gebeurtenisse wat ons beplanning deurmekaar gekrap het. Laaste kuiers met goeie vriende, beloftes van weersiens, baie trane en die stille wete dat alles tog gaan verander... En voor ons ons oë kon uitvee was die karre gepak, het ons vir Pappa en Mamma gegroet en met oë wat al die laaste beelde wil opslurp, stadig uit Piet Retief gery. Ek soek woorde om daardie gevoel te beskryf... en ek kry niks...

Baie teenstrydige emosies het in my gewoel vir aandag: opgewondenheid oor nuwe geleenthede, vrees vir die onbekende, hartseer oor almal wat ek moet agterlaat, dankbaarheid oor so baie spesiale vriende wat ek gemaak het, twyfel of ons die regte ding doen, sekerheid dat ek reg is hiervoor, angstigheid oor hoe alles sal uitwerk, vertroue dat God in beheer is....

En nou is dit 'n volle maand later. Die dogters is al 2 weke in hul nuwe skool. Ons soek nog steeds huis en bly solank in n klein woonstelletjie. Ons het nuwe plekke ontdek en nuwe mense leer ken. Ons het heerlike kuiers met ou vriende ingewerk. Ons het onverwagse en spesiale ontmoetings met die Here gehad en 'n nuwe geestelike tuiste gekry. Ons het op die strand gaan stap en die nuwe omgewing verken.

Ek het al moedeloos en verlate gevoel, dan weer dankbaar en opgewonde. Ek moet leer om wasgoed droog te kry in 'n anderste klimaat en die weer leer "lees". Ek moet 'n nuwe haarkapper, apteek, dokter soek. 'n Nuwe week-roetine vestig met veranderde skooltye en afstande. Ek moet soms my "pose" hou as ek eintlik net myself wil jammer kry en verlang. Ek moet myself herinner dat hierdie NIE vakansie is nie, dat dit nou huis is. En oor en oor moet ek myself weer totaal oorgee in God se hande. Herinner word dat hierdie seisoen deel is van Sy reis met ons, met my.

Die eerste Sondag hier, het ons saam met Braam & Rentia hul gemeente in Mosselbaai besoek. Die predikant se boodskap het uit Mattheus 11 gekom: "kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is" (ook emosioneel) en hy het dit ook uit die Message gelees waar daar staan: "Learn the unforced rhythms of grace" Dit was vir my SO mooi. Gisteraand tydens ons aanbiddingsdiens by Eden flits hierdie woorde weer oor die skerm. En ek besef: dit is presies wat ons ervaar - unforced rhythms of grace!! Kom dus saam met my op hierdie reis van oppe en affe, van wisselende emosies. Soos die see se eb en vloed, die seisoene wat mekaar jaar na jaar volg; so het die lewe 'n bepaalde ritme. Ons gaan dit ervaar en geniet!

3 comments:

  1. Dankie en welgedaan Suna! Kan ek maar "copy en paste"? ;-)

    ReplyDelete
    Replies
    1. Natuurlik! (dit het my nou n volle 5 minute geneem om uit te"figure" hoe om jou te antwoord!!) Hoop dit kom by jou uit.

      Delete
  2. Baie mooi geskryf, Suna! Ek sien daarna uit om jou storie te volg. Mag julle reis vol wees van God se genade en liefde.

    ReplyDelete