Friday, 8 May 2015

Terugblik

Show me the way of Life - Maria
Hierdie week is dit 'n jaar gelede wat die vragmotor van Albertinia vervoer met ons aardse besittings weg is uit Piet Retief, Kaap toe. En dis 10 maande sedert ons self hier aangeland het. As ek terugkyk oor hierdie tydperk kan ek dit net beskryf as 'n reis met baie opdraandes en afdraandes, met tye van "despair" maar baie meer van vreugde.
 'n Ontdekkingstog - nie net van nuwe plekke nie, maar ook binne myself.

 Aan die een kant voel dit asof ons nou die dag hier aangekom het; aan die ander kant, asof ons al baie meer as 10 maande se ervarings beleef het.

In die tyd voor die trek het Werner onbepland en baie onverwags 'n rug-operasie ondergaan en is ons trek-planne behoorlik deurmekaar gekrap. Vir 2 maande het ons hele gesin by Pa en Ma gewoon en die Draadstraat-huis se mure ordentlik gestrek. Ons beplande trek Mosselbaai toe het verander in 'n trek George toe. Die oor-en-weer groetery en die laaste inpak en wegtrek het gesorg vir baie trane. Die lang pad af George toe het baie tyd vir dink en wonder en twyfel gelaat. Ek onthou nou nog toe ons in George inry laat die Vrydagmiddag terwyl die son begin sak, dat ek gedink het: "Wat op dees aarde het ons besiel om dit te doen?!?" As ek nie so moeg was nie, het ek heel moontlik net daar my kar se neus omgedraai terug Noorde toe.

Danksy Tessa en Gert het ons darem 'n plek gehad om vir die eerste rukkie ons goedjies af te pak, terwyl ons huis soek (wat ek redelik seker was darem nie te lank sou neem nie). En gelukkig vir goeie vriende soos Braam en Rentia het ons bekende gesigte gehad om ons te verwelkom. Die eerste 2 weke het nog amper soos vakansie gevoel - alles was opwindend, vreemd en nuut.

Skool het begin en ons moes 'n nuwe roetine vind, blyplek nader aan George soek (Hartenbos was net te ver om elke dag in en uit te ry), en begin om werkspasie vir Werner te kry. Ek dink as ons al die kilometers bymekaar tel wat ons agter moontlike huise en werkswinkels aan gery het, kon ons beslis dit inruil vir n "kuier-trippie" Piet Retief toe. Die woonstel in Victoriabaai waarin ons vir 4 maande gebly het was klein en beknop. En huurhuise so skaars soos hoendertande. Kort-om, dinge het nie heeltemal gebeur soos ons beplan het nie.

Ek het vooraf darem gesels met vriende wat getrek het, en het 'n idee gehad van wat om te verwag. Ek het geweet dat die skuif aanpassing sou vra, dat ons uit ons "comfort zones" sou wees en dat ons sal moes moeite doen om onsself by dinge betrokke te maak. So ek was reg daarvoor. Wat ek nie verwag het nie, is dat ek so leeg en kwesbaar sou voel. Ek onthou dat ek eenkeer gelees het dat iemand depressie beskryf het as 'n swart hond wat sy/hy heeltyd moet wegjaag van die deur af. En dis hoe dit vir my gevoel het. Ek moes daadwerklik besluit om die swaar gevoel teen te werk, dit weg te jaag, myself met positiewe gedagtes te vul. Die probleem was dat ek nie lus was nie!! Dit was op 'n manier LEKKER om myself so jammer te kry, om eerder die verlange en hartseer te voed. Dit was net te veel moeite om te probeer positief wees en "die goeie rondom jou" raak te sien. Dit het al my energie getap om te sorg dat ek my "pity-party" kon afhandel voordat Werner en die kinders by die huis kom, want dan moes ek sterk wees vir die dogters, hulle help om HULLE uitdagings aan te vat en sterk te staan (dit was beslis ook nie maklik vir hulle nie, maar ek is BAIE trots op my 2 dogters wat alles so goed hanteer het.). Ek wou ook nie hê dat Werner moet dink ek is ongelukkig nie - hy het genoeg ander dinge gehad om hom oor te bekommer. Hy het beslis nie nog 'n depressiewe vrou ook  op sy lysie nodig gehad  nie. Dit was vir my nogal n skok om te besef dat ek  tipiese depressie tekens by myself herken en weet wat ek kan doen om dit te bestuur, maar nie LUS het om dit te doen nie.


Skildery van Maria (House of Maria Mosselbaai)
Deur dit alles weet ek dat die Here hierdie tyd ook gebruik het om my nader aan Hom, en ons as gesin nader aan mekaar te bring. Maklik was dit beslis nie, maar die moeite werd? Verseker!!As ek vandag kyk na die 4 mense wat in daardie woonstel in Vicbaai ingetrek het, en hulle vergelyk met die 4 wat nou in hierdie huis woon, kan ek met sekerheid se dat ons nie dieselfde is nie. Ons het so gegroei! Een van my gunsteling preke van ds Roelf was een waar hy vertel het van 'n program wat hy oor sekere krewe gesien het, wat hulle doppe moes afgooi sodat hulle kon groei. In die groei-tyd was hulle dan baie "vulnerable" en ontbloot, maar as hulle die doppe opgehou het, sou hulle nie kon groei nie. Eers as die groei dan plaasgevind het, het 'n nuwe, groter dop gevorm. En so was dit beslis met ons. Ons het vulnerable en ontbloot gevoel, die seerkry goed gevoel, maar beslis gegroei. En nou het ons nuwe en groter doppe, is ons beter gepantser vir die lewe vorentoe.

Verlede week het ek skielik besef dat ek uiteindelik na my huidige lewe kyk en kan dink "dis reg en dis waar ek nou wil wees" Took you long enough - sal party seker sê! Ek weet verseker dat dit langer gevat het as wat ek gedink het dit sal. Dat ek beslis gestoei het met aanpas en inpas in my nuwe omgewing. Maar dat ek beslis ook kan getuig van die Here se goedheid, Sy nabyheid en Sy altyd-beter-weet-wat-is-goed-vir-Suna! Rhythms of Grace voorwaar. Miskien sou ek viervoet in Piet Retief vasgesteek het as ek geweet hoeveel op en af ritmes daar vir my sou wees. As ek geweet het dat die planne van inskakel en betrokke raak wat ek vooraf gemaak het, nie noodwendig sou uitwerk nie. Maar gelukkig het ek nie geweet nie! Want dan sou ek ook hierdie nuwe groei en ontdekking van myself misgeloop het.

Soms dink ek as iemand wat my nou hier leer ken, sou gesels met kennisse in Piet Retief, en die "Suna" bespreek wat hulle ken, sal hulle tot die gevolgtrekking kom dat hulle seker nie van dieselfde persoon praat nie! Dit voel vir my asof ek 'n nuwe rustigheid in myself het. Ek raak nie so gou opgewerk oor klein dingetjies nie, is dood tevrede om vir dae aaneen net my gesin as geselskap te hê, oggende alleen by die huis deur te bring sonder dat ek gedryf voel om iets te doen of iemand te sien of êrens heen te gaan. Ek is minder gepla oor hoe iets vir ander mense sal lyk (OK, bygesê - ek ken so min mense, daar is nie baie wat krities kan wees oor my idees of wat ek doen nie  )

Ons het so baie keer die Here se hand van voorsiening ervaar: met 'n werkswinkel vir Werner, die huis wat ons huur, mense wat Hy op spesifieke tye ons pad laat kruis het, vriende ... die lysie gaan aan en aan. As daar een ding is waarvan ek doodseker is, is dit dat ons 'n God dien, wat REGTIG belangstel in ons lewens, wat ons doen, nodig het en hoe ons voel.  Ek glo verseker nog minder in "toevallighede" as voorheen en weet bo alle twyfel dat Hy alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet. Dat al ons bes beplande voornemens, nie kan kers vashou by wat Hy vir ons beplan nie. En dat wat God vir ons beplan ALTYD goed en voorspoedig is.

Ek het nou die dag die volgende êrens gehoor: in Afrikaans is daar net een woord vir Genade, in Engels is dit Grace of Mercy. En die verskil tussen die 2: "Grace = when God gives you what you don't deserve, Mercy = when you don't get what you actually deserve" En ek kan getuig van oneindige Grace in hierdie tyd - ons het beslis soveel meer gekry as wat ons verdien!
Let my lifesong sing to You - Maria Oosthuizen
Vandag kan ek God net eer en prys vir die pad wat Hy die afgelope 12 maande met ons geloop het. En ek kan met eerlikheid se dat ek dit weer sal doen. Natuurlik mis ons nog ons familie en vriende, en wens ons dat ons hulle meer gereeld kan sien en kuier. Ons is nog lank nie "locals" nie, en sal seker vir 'n lang tyd "inkommers" bly. Voel asof ons nie heeltemal hier inpas nie, maar ook nie meer in Piet Retief sal inpas nie Maar ek weet ook dat ek dit nou as deel van die normale ritmes van die lewe herken. Die lewe sal altyd uit op- en aftye bestaan.  Daar sal tye wees dat dit met ons goed gaan en wat dit dalk sleg gaan, wat ons weet waarheen ons oppad is en wanneer ons nie 'n "cooking clue' sal hê waar ons volgende gaan uitspoel nie. Maar wanneer ons ons vertroue in God plaas, sal al hierdie dinge en tye hanteerbaar wees, ten goede uitwerk en SAL ons OK wees - no matter what!

(NS: Al die slkiderye hierbo is deur Maria Oosthuizen, 'n kunstenaar van Mosselbaai. Gaan kyk gerus na haar werk op haar website House of Maria. Dit PRAAT met n mens!)

Saturday, 14 March 2015

Desember op 'n drafstap

Net soos wat ek nie 'n oggendmens is nie, is ek ook nie 'n begin-van-die-jaar mens nie. Dit voel altyd vir my asof ek van 'n bewegende voertuig afgelaai word en al hardlopende grondvat. Die dat ek eers teen einde Februarie sover kom om my Desember-vakansie ervarings neer te pen. Mosterd na die maal - ek weet!

As die lewe uit ritmes bestaan, is Desember in die Tuinroete beslis 'n allegro. Van einde November af is die verandering al duidelik sigbaar: al hoe meer "uitlandse" nommerplate op die pad, langer toue in die mall, minder parkering by die strand en geen versekering van 'n tafel by jou gunsteling koffie-plek nie.

Ons het al almal die briewe in die Huisgenoot gesien van die tannies wat elke Januarie so kla oor die Desember kuiergaste. Hulle vat jou huis oor, maak jou yskas leeg, en dop jou beursie heeltemal om! Hulle soek goedkoop verblyf en laat 'n handoek- en skottelgoedspoor! Hierdie Desember het ek so bietjie 'n idee gekry waaroor hulle skryf: van die 28e November tot 21 Januarie, het ons gesin net 5 aande alleen in ons huis geslaap.

Maar daar was 'n paar groot verskille tussen my gaste en dié van die Huisgenoot-tannies! Die gaste wat oorgeslaap het, het meer as hul kant gebring, gehelp kosmaak en skoonmaak, en soms die yskas voller agtergelaat as wat hulle dit gekry het (veral die Kersfees slaaie  ) Ons huis is gevul met harts-geselsies, uit-die-maag-lag-buie en sommer-net-saamwees-tye. Ons het saam op die strand gebak, boot gery en waterspeletjies gespeel, bos toe gegaan (en BOS gegaan!), markies besoek, nuwe plekke ontdek en baie koppies koffie en lang glase wyn geniet.

Dit was so spesiaal om vir ons hartsmense ons nuwe wêreld te wys, om te sien hoe hulle ontspan en die tyd geniet, die mooi wêreld waardeer. As almal wat vir die eerste keer hier was, hulle beloftes van gereelde kuiers gaan nakom, oorweeg ek dit om die George Toerisme Raad vir kommissie te vra!
Iemand het eendag gespot dat een stel gaste skaars regs om die draai weg is, dan kom die volgende kar al links om die hoek en hulle was nie ver van verkeerd af nie! Daar was tye wat ons poot-uit was en kon doen met 'n dag se rus of meer slaap-ure, maar onder geen omstandighede wou ons enige kuiertyd inboet nie! Met elke stel gaste wat vertrek het, het ons 'n paar trane gestort en gewens dat ons die kuiertyd bietjie langer kon rek. 

Dankie vir elkeen van ons vriende wat 'n stukkie van julle vakansie met ons kom deel het. Ons besef dat hier so baie is om te doen en sien en waardeer daarom elke kuier, hoe kort of lank dit ookal was. Soms was daar net tyd vir 'n vinnige koffie (of 'n lekker Kaapse wyntjie!) en ander kere kon ons darem saambraai en om die tafel kuier. Soms moes ons na buurdorpe ry of mekaar "halfpad" tussen bestemmings kry om darem nie uit te mis kontak-maak nie. Ma het saamgewerk deur 'n paar keer pakkies saam te stuur, wat mense gedwing het om 'n draai by ons te maak  Eerste prys was die oorbly-kuiers wanneer ons kon gesels tot die eerste een se oë in die geselskap toe geval het. Ons tent het as gastekamer diens gedoen, en soms het die matrasse tot by die voordeur gelê. Elke keer wanneer ek dan in die oggend uit my kamer kom en die laslappie-beddens in die woonarea sien, het my hart sommer gejubel van dankbaarheid dat ek spasie het en KAN sê: slaap asb oor!

Een van die grootste voorregte was natuurlik om my Pa en Ma vir 2 weke by ons te hê. Om sommer net te kan gesels en rondry en saamwees, asof daar nie 6 maande se wegwees tussen in gelê het nie. En die kans om ons nuwe kleine niggie te ontmoet! Klein Layla is lag-lag die soetste baba wat ek al ooit tee gekom het. Ruan, Neelandrie en Layla het in die kamer langs ons geslaap en ek het haar nie een aand hoor huil nie! Werner het haar die laaste oggend gesmeek om tog net een keer te huil sodat ons kan hoor of sy kan. Haar reaksie: 'n gebabbel en 'n oopmond lag! Sy het met haar glimlaggies en geselsies vinnig in ons harte ingekruip.

Ek kyk deur die vakansie foto's en besef daar is ten minste 7 stelle vriende wat nie eers erens op fotos is nie! So in die toekoms neem ek nog meer fotos - al het ons min tyd vir kuier. Om later deur die fotos te kyk en die geselsies te herleef, is vir my deel van die lekker!

Nou het ek 9 maande oor voor die volgende Desember vakansie: net genoeg tyd om energie en stamina op te bou vir die volgende kuiersessies...

O ja, daar was ongelukkig een stel gaste wie se maniere en vriendelikheid bietjie ontstellend was: Adoons en Kesie van Riebeeck het ons een middag in ons afwesigheid besoek en die hele kombuis omgekeer, die yskas en koskas leeg gemaak en verseker NIE agter hulle sterte skoon gemaak toe hulle uit is nie (ons vermoed hulle is van Riebeecks, want dit het mos nou uitgekom dat die betrokke familie vir al ons probleme in SA verantwoordelik is!) So ons het ten minste EEN sappige brokkie vir die Huisgenoot! Gelukkig kon ons alles binne 2 ure skoonkry en het ons nie enige groot breekskade gehad nie. Bobbejane is beslis die slang in ons paradys.

Thursday, 25 December 2014

Bloed IS dikker as water

Ons kuier die naweek voor Kersfees op die plaas Klein Jongensfontein met die Gillespies en Enslins. Tussen regmaak vir markdag, stalletjies opslaan en later opruim en wegpak, gesels ons kopstukke. Saterdagaand is ons almal poot-uit, maar dis asof ek die bed-toe-gaan uitstel. My onderbewussyn weet dat slaaptyd kuiertyd minder maak!

Ek bly verwonderd hoe 'n kuier met familie-maats van kleintyd altyd so maklik kom, selfs al sien ons mekaar dikwels vir 'n paar jaar nie gereeld nie. Al het ons in verskillende rigtings gegroei en ontwikkel, uiteenlopende beroepe gevolg en al handhaaf ons selfs deesdae verskillende lewenstyle,  bly daar 'n "bekendheid" wat nie sommer verduidelik kan word nie.

Geselsies wentel rondom 'n magdom verskillende onderwerpe, en elke nou en dan maak dit lankvergete herinneringe los en begin die "onthou-jy-nogs" deel word van gesprekke. Dit sorg vir lekker lag en heimwee.

Ek besef elke nou en dan, diep dankbaar, dat my kleintyd en grootword jare SO bevoorreg was! Nie as gevolg van WAT ons gehad het nie, maar oor WIE deel was van my lewe. As gevolg van saamwees-ervarings, familie-tye, eenvoud en moeitelose kindwees: die dinge wat nie eers Branson of Gates se miljoene kan koop nie.
Sondagoggend sit ek en niggie Lindie in haar sitkamer  saam met die dogters en gesels. Die gesprek oor kersbome vat vinnig 'n afdraaipad na herinneringe van familie Kersfeeste: Ons onthou die vreugde van kersboom versier op die plaas. Die afgesaagde dennetak (NOOIT 'n nagemaakte, kunsmatige boom nie!!) wat in 'n groothouer met klippe staangemaak word. Gewoonlik was die "boom" so groot dat die punt net-net by die sitkamer ingepas het. Granny wat ons kleinkinders vrye teuels gegee het met die versiering van die boom. Die opwinding om die oorgetrekte skoendose oop te maak en die ou bekende versierings uit te haal. Ek onthou silwer en goue stringe "krale", hout figuurtjies en aanknip kersblakers. Ook hoe iemand gereeld op Ou-Kersaand moes opspring om smeulende dennenaalde te blus Stringe liggies wat getoets moet word en die soeke na die EEN geblaasde gloeilampie wat verhinder dat die liggies flikker. En die "pièce de résistance... Granny se piepklein "nativity set"!

Die Ou-Kersaand program het vir sy eie opwinding gesorg. Die Gillespie kleinkinders mog nie net terugsit en ontvang nie. Ons moes sorg vir die aand se "vermaak". Ek onthou toneelstukkies en poppe vertonings, koortjies en ander Kers-opvoerings wat ons kinders op die planke gebring het. Dikwels met 'n paar dikmond neefs wat soos herders of wyse manne opge"dress" is   En NOOIT is daar iets aangekoop vir hierdie opvoerings nie. Alles is self aanmekaar geflans, uitgesny of geimproviseer uit Granny en Mamma se linne- en materiaalkaste. (Ek is redelik seker Josef het nooit 'n Victoria Falls t-hemp besit nie ☺) 

Daarna altyd Lalla (my oupa se troetelnaam by sy kleinkinders) wat die Kersverhaal voorlees en ons almal wat saam kersliedere sing in Afrikaans en Engels. Soms was daar 'n kersvader wat in die tuin aangestap sou kom met 'n sak oor sy skouer. Om een of ander vreemde rede wat ons net nie kon verstaan nie, waas daar ALTYD een van die ooms wat die opwinding gemis het omdat hy kwansuis TOE 'n draai moes loop  Tog dink ek nie dat enige van ons ooit ons hoop ten volle in die "man-in-rooi" geplaas het om Kersfees spesiaal te maak nie. Die kuier met neefs en niggies het sy teenwoordigheid ver oorskadu!

Hierdie Kersfees vier ons sonder familie, en ek wil-wil myself begin jammer kry. (Dankie tog vir vriende wat soos familie is saam met wie ons die dag kan deurbring.) Maar ek raak rustig in die wete dat ten minste EEN familielid ALTYD saam met ons Kersfees vier - my Broer wat 2000 jaar gelede al besluit het om Sy lewe vir my af te lê , omdat ons Pa toe al geweet het dat ek andersins nooit eens rede sal hê  om Kersfees te vier nie!

My wens is dat jy hierdie Kersseisoen bewus sal wees van Sy nabyheid, ongeag die hoeveelheid mense wat om jou is, midde-in die gemis van mense wat nié meer daar is nie, ten spyte van mense wat dalk nie jou keuse van Kers-genote is nie. En dat jy sal weet: Bloed is WEL dikker as water - veral Syne! Geseënde Kersfees!!


Monday, 10 November 2014

DAYENO - meer as genoeg

Ons het 'n huis gekry!!!!

Na 4 maande se beknopte bly in 'n 2-slaapkamer woonstel, kon ons hierdie week in die (huur)huis intrek wat ons glo God van die begin af vir ons ingedagte gehad het!

Van die begin af het ons geglo dat die Here vir ons die regte huis sal gee: 'n plek wat vir ons 'n tuiste sal wees, waar ons vriende sal kan ontvang en van waar ons die wonders van hierdie stukkie aarde sal kan geniet. 

In hierdie tyd het ons honderde oproepe gemaak, na hordes huise gaan kyk en baie hoopvolle kilometers agter moontlike blyplekke aan gery. En elke keer onverrigter sake teruggekeer! Ek sal jok as ek sê dat ons nooit moedeloos geraak het nie! Inteendeel, ek het meer as een keer (nee, eerder elke tweede dag!) gewonder of ons verkeerd verstaan het. Verwag ons "te veel"? Moet ons dalk eerder afskaal en in 'n kleiner huisie intrek, iets minder ideaal maak werk? Ons wenslysie was nie buitensporig nie: 3 slaapkamers, 2 badkamers, 2 garages, spasie vir Werner om 'n boot/waentjie/enige ander "projek" te kan parkeer. En verkieslik wou ons 'n plek hê waar ons darem 'n ekstra matras of 2 kon uitgooi as ons kuiermense kry.Ons het ook op 'n maksimum bedrag besluit wat ons op huur kon spandeer (alreeds heelwat meer as wat ons in Piet Retief gewoond was). In die 4 maande wat ons huis gesoek het, het ons gesien hoe die pryse styg. Hier is 'n konstante toename in mense wat hierheen trek en die blyplek raak net skaarser. Een agent het eendag gesê dat hier volgens hom 'n tekort van ten minste 2000 huurhuise in George is - baie bemoedigende opmerking aan iemand wat huis soek!!! Die huise wat in ons prysklas val was telkens klein, neerdrukkend, vodde of sonder garage/parkeer spasie. Ons wou ook graag in die area naby die skool blyplek kry, maar dit het al hoe meer na 'n onmoontlikheid gelyk. Ons was gewoond aan Piet Retief se 2 km tot by die skool en ek het nie kans gesien om 4 of 6 keer 'n dag 8-10 km skool toe en terug te ry nie. (ja, ek weet vir julle in die stad klink 10km hemels, maar hierdie plaasjapie hou nie van baie rondry en verkeer nie)

Eendag, in 'n gesprek met 'n vrou by die skool oor ons huissoekery, sê sy: "'n Mens trek nie hierheen en gaan bly dan op 'n plek waar jy NIE die see of die berg kan sien nie." Ek onthou dat ek so by myself gedink het: "dis maklik gesê as mens 'n onbeperkte begroting het" Ons sou so graag 'n mooi uitsig wou hê, maar al die areas wat daaraan voldoen, vra ook vet beursies! 2 jaar gelede by die Michael W Smith konsert het Werner tydens een liedjie  'n prentjie van 'n berg gesien en ervaar dat dit iets te doen het met ons toekoms en waar ons sal bly. Sedert ons hier is het ons baie keer sommer in die dorp rondgery en huise en woonbuurte gekyk. Op een so 'n "trippie" het een deel van die berg ons aandag getrek omdat dit ruwer voorkom as die res. Werner het daarna gekyk en gesê: "DIS hoe die berg wat ek gesien het, gelyk het" en vol bravade aangekondig: "Ons gaan hierdie berg van ons huis af kan sien!"  Wanneer ons huise gaan kyk het, het ek ongemerk begin loer of mens die berg kan sien - soortvan as 'n teken of ons dalk nou na die regte plek gaan kyk. Die weke het maande geword en ek moes myself elke keer herinner dat wat vir ons onmoontlik lyk, wel vir God moontlik is. Al hoe meer het ek ook besef dat ons wenslysie, gekombineer met ons begroting en die permanente verhoging in huurpryse nou in die "onmoontlik" kategorie begin val. En telkens het ek begin twyfel of ons die reg optree deur te soek na die "regte" plek. Moet ons nie maar vat wat ons kan kry en daarmee saamleef nie? Vra ons te veel? Daar is baie mense wat met baie minder moet regkom - is ons dalk "huis-snobs"? Net wanneer ek seker is ons verwag te veel, kry ek skrif, of hoor 'n preek of 'n ander bevestiging: "niks is vir God onmoontlik nie" "Hy sal sorg" "wat die Here gee is altyd meer as genoeg en bo ons verwagting" "Hy het reeds julle huis uitgesoek" " Hy het iets spesiaals vir julle in gedagte"

Toe, 2 weke gelede, noem iemand vir my van 'n onderwyser by Outeniqua HS wat die volgende week trek.  2 dae later vertel 'n vriendin van Rentia ook van dieselfde mense en hoe lekker die huis is waarin hulle bly. Ek weet dis 'n redelike gesogte area, maar iets in my bly kriewel oor die plek, en ek besluit om te bel. Die eienaar bly in Botswana en sy ma tree op as "agent". Sy noem dat hy eintlik die huis wil verkoop, maar ons kan kom kyk. Toe ons instap WEET ons dit is die plek vir ons! Oop, sonnig, 'n lang oprit ... dit voel soos HUIS! Toe ons omdraai en uitloop kyk ek en Werner vir mekaar: voor ons lê die berg in al sy glorie!! Dit vat nog 3 dae vir die eienaar om te besluit of hy wil verhuur of verkoop. 3 dae waarin ek te bang is om opgewonde te raak, te bang om hardop vir iemand te sê dat ons die regte plek gekry het - sê nou maar dit val deur die mat? Oor en oor ry ek voor die huis verby, twyfelend of ons regtig SO geseënd kan wees. 

Toe die eienaar laat Donderdagmiddag laat weet ons kan die huis huur, is ons uit ons velle. Werner bel die stoor waar ons meubels gehou word om te hoor wanneer hulle kan aflewer. Hulle verkies 'n maand kennis, maar sal kyk wat hulle kan doen. Maandag oggend laat weet hulle dat hulle Dinsdagmiddag kan aflewer, anders eers oor 2 weke. Alles is in rep en roer. Die huidige huurders trek Maandag uit, Maandag aand en Dinsdagoggend verf ek en Werner en die eienaar se ma kamers en plafonne. Half 10 laat weet die vervoermaatskappy dat hulle oor 'n uur hier is! Hulle laai ons trek af in gietende reën (ek verkies om te glo dat dit n teken van "abundant" seën is!). Tussendeur moet die woonstel waar ons die afgelope 4 maande gebly het opgepak word, die meisies by die skool op en afgelaai word, Karla haar Ontwerp praktiese eksamen afhandel en meubels georganiseer word. Maar te midde van al die deurmekaarheid kan ek nie ophou voel asof ek swem in oorvloed-seën nie! Ons het 'n huis gekry, en nie sommer net 'n huis nie, maar DIE huis; die huis wat ek nou met my hele hart glo die Here nog heeltyd vir ons in gedagte gehad het!! Die huidige huurders moes nog net besluit om te trek!!
Die uitsig van ons voorstoep af

Ons stoep kyk uit op die veld, bos en die berg. Die son stroom heeldag deur ons sitkamer vensters in (dis nou wanneer die son in George skyn!!  ) Ons gaan slaap met die geluid van naguiltjies, paddas en krieke, en word wakker met 'n hele koor van voëlgesang. Ons hoor duiwe, Piet-my-vrou, vleiloeries, visarende en hope ander voëls wat ek nog nie herken nie. Op die oorkantste sypaadjie jaag die tarentale mekaar, 'n reier staan in die gras en middagete soek en elke nou en dan sien ons die rooi vlerke van 'n Knysna loerie wat tussen die bome verdwyn. Eergister was hier selfs 'n bosbok-ooitjie met haar lammetjie wat skaars 20m van ons voordeur af in die gras gewei het!! Die huis het 'n gevestigde tuin uitgelê met amper elke plantsoort wat ons in ons tuin in Piet Retief gehad het! Net die Here kon dit so beplan het!! Hier is selfs 'n "Yesterday,today and tomorrow" in ruil vir die een wat ek met 'n seer hart moes agterlaat. Daarby is ons presies 2 km van die skool af. En dit alles vir R1000 MINDER as die "maksimum" wat ons bereid was om te spandeer. Onmoontlik?? Verseker! Net God kon dit alles so bewerkstellig!!!

Ek werk in die huis en kan nie glo dat ek so vinnig voel asof ek vir altyd hier kan bly nie! Ek geniet dit om weer my eie wasmasjien te gebruik, om my mooigoed uit te pak en spesiale plekkies vir elkeen te soek. Terwyl ek uitpak onthou ek elke vriendin wat my gehelp het om die bepaalde boks in te pak: Marlene, Ronelle, Alma, Cecile, julle was hierdie week weer so in my gedagtes!

Ek kyk terug op die afgelope 4 maande en kry skaam! Ek het al so dikwels die verhaal van die Israeliete se woestyn-trek gelees, en baie keer gewonder hoe hulle keer op keer so vinnig kon vergeet hoe God hulle versorg, gevoed en gered het met wonderwerke. Tog het ek in 4 maande so baie keer getwyfel, en selfs begin rondkyk na ander moontlike maniere om hierdie belofte van blyplek te help waarmaak. In stede daarvan om net te WAG, te GLO en te VERTROU. Dit nadat Hy al soveel keer in die verlede tot ons redding gekom het, uitkoms gegee het en die regte dinge op die regte tyd laat gebeur het. En ja dit is toe waar: wat God vir ons beplan het oortref ons wildste verwagtinge! Ons bekers loop oor. DAYENO: wat God gee is MEER AS GENOEG!

Die donker randjie aan hierdie silwer wolk is dat die huis steeds in die mark is. Ons kontrak is daarom eers net vir 1 jaar.  Bid asb saam met ons dat die Here ook hierdie situasie vir ons sal oplos - soos net Hy kan!

Wednesday, 15 October 2014

Deur die straights en om die draaie..... en die berge en die klowe!

Die afgelope naweek het ons die eerste keer die Baviaanskloof besoek. Wat 'n belewenis!!



Toe Braam so 2 weke gelede bel om te vra of ons wil saamgaan, kan ek nou nie met alle eerlikheid sê dat ek op en af gespring het van opgewondenheid nie. Ons het baie lanklaas gekamp en daarby is al ons goed nog in stoor. Ons het maar geraap en skraap en geleen om alles bymekaar te kry wat ons nodig het. Daarby het ek nie 'n idee gehad wat vir ons voorlê nie, en soos ek al vantevore gesê het is ek nie vreeslik gek oor die onbekende en verrassings nie. Al wat ek geweet het is dat dit onherbergsame wêreld is met geen selfoonopvangs nie (daarna het ek wel uitgesien!). Hoe die kampplek en ablusies lyk (en of daar is) het ons nie geweet nie.


Ockie se Hokkie langs die rivier
Donderdagoggend is ons met die N2 langs tot in Kareedouw. Daar het Braam en Rentia ons hul ou tuisdorp gewys en ons het heerlik geluister na n paar "local" staaltjies. Na middagete by Norma-Jean's het ons die pad gevat- berg in. Ons het sommer gou-gou besef: hierdie is spesiale wêreld! Steil paaie op en weer af teen die rotspaadjies.... so het dit vir 'n paar ure gegaan. Totdat ons teen 'n steilte afkom en daar tussen erens en nerens 'n houthut langs die rivier kry: ons slaapplek vir die eerste aand. Die hut behoort aan Ockie, 'n vriend van Braam-hulle. Ons het net die nodigste afgepak om vir een aand nes te skrop en gou-gou het die vuurtjie gebrand. Die kinders was maar eers baie versigtig vir hulle slaapplek: 'n platform wat in die nok van die slaapkamerdak, bokant die 4 beddens, aangebring is. Dit is oop aan 2 kante en hulle moes met 'n leertjie opklim daarheen. In effek het ons dus al 8 in een kamer geslaap: volwassenes in die 4 beddens en die kids bokant ons koppe op die platform.  'n Heerlike manier om 'n lekker saamkuier naweek af te skop. 

Dag 2 was dit tyd vir die eintlike 4x4 roete. Kranse, klippe, klowe... en plate en plate fynbos! Ek weet nog altyd dat fynbos spesiaal is en dat daar in daardie tipe habitat 'n groot verskeidenheid plante voorkom. Maar selfs daardie kennis kon my nie voorberei vir die groot hoeveelheid verskillende plante wat ons gesien het nie.

Ek is baie seker dat daar na 'n paar uur se ry erge mumurerings in die Rusts se Condor was as hulle sien dat die Potgieters ALWEER agter geraak het! Ons kon net nie ophou stop om te kyk en fotos te neem nie. In die begin het ek die idee gekry om van elke verskillende blommetjie 'n foto te neem- seker 'n duidelike teken van my onkunde en "1ste keer in die Baviaans"-geid. Ek het later besef as ek so 1 uit elke 20 kan afneem sal ek gelukkig wees- anders kom ons nooit voor donker by ons kampplek uit nie. Ek het so aan vriendin Hylie gedink wat blomme ken en lief is om dit af te neem. Op die einde het ek op dag 1 alleen omtrent 45 verskillende spesies blomme afgeneem: en dit is net sommige van die plante wat nou blom!  Uitroepe van Sjoe!, Wow!, Kyk net!, STOP! en Yoh!! was algemeen. Hierdie berge is werklik soos 'n tuin met nuwe verrassings om elke draai.

En die berge!! Daar is vlaktes met fynbos, dan weer plate geel bossies. Regaf kranse en golwende grasvelde. Klipperige hoogtes en heuwels wat mekaar herhaal. En nie een van my fotos gee naastenby DIT waar wat my oe gesien het nie. Daardie gevoel van oneindigheid en grootsheid kan ek nie vasgevang kry nie. Op plekke loop die nou paadjie gevaarlik naby aan die afgrond. Op 'n stadium moes ons en Braam hulle vir n goeie 300m of meer in so 'n nou paadjie agteruit ry omdat daar 'n ander voertuig van voor af gekom het! Ek het maar net oë toegeknyp en gebid!! Gelukkig ken ek niemand wat beter agteruit kan bestuur as Werner nie, so ons het geweet ons is in goeie hande.

 
Tee-tyd in die Kouga berge
Natuurlik het Rentia seker gemaak ons stop vir teetyd, en teen middagete het ons sommer op 'n groen stukkie gras (tussen droë miskoeke  ) seil oopgegooi en broodjies geëet. Na omtrent 6 ure se ry is ons teen die laaste steiltes en skerp draaie af, en skielik het die Kloof groen en geil voor ons gelê. Wat 'n gesig!! Tussen die 2 ruwe bergreekse, die Kouga- en Baviaanskloofberge, lê hierdie vrugbare kloof. Fynbos verander eensklaps in Bosveld.


Dit was veral 'n belewenis om die ou plaaswinkeltjies in die Kloof te besoek. Die koel, skemerte daarbinne herinner my aan my kinderdae as ons winkel toe gestap het om daar nikkerbols en Wilsontoffies te koop. En met Rentia saam het ons gou-gou lang geselsies met die eienaars gemaak (tot groot frustrasie van die mans!) Ons is selfs met 'n paar "vreemde", outydse kopies daar uit!

Tydens so 'n geselsie vind ek uit dat een van my gunsteling skrywers hier in die Baviaans gewoon het. As kind het ek PH Nortje se boeke verslind en altyd gewens ek kan ook soos hy alledaagse situasies so vermaaklik beskryf. Nou kan ek nie wag om biblioteek toe te gaan en weer 'n paar van sy boeke nader te hark nie.

Saterdag oppad die Baviaans Natuurreservaat in tref die teëspoed ons: die Condor se "timing belt" breek! Ons avonture is op 'n einde!! Ek, Rentia en die dogters ontspan die res van die dag: lees boek, ry perd en geniet die son; terwyl die 2 mans en Christoff (met 'n hele paar mede kampeerders as toeskouers en raadgewers) die Condor bewerk en be-peuter. Sondagoggend is dit omtrent 'n operasie: Ons kan net die heel nodigste bagasie in laai om terug te bring (tandeborsels, kussings en onderklere!) Die res van die bagasie is in die Condor gelaai wat in die eienaar van die plaas se stoor getrek is, waar Werner en Braam dit later sal kom haal. Al 8 van ons moes in die Hi-Lux in vir die lang pad huis toe- 'n avontuur op sig self!


We'll be back...!!!
Dit is geen wonder dat die Baviaanskloof area as 'n wêrelderfenisgebied verklaar is nie. Dit is beslis 'n baie spesiale deel van die skepping. Hierdie naweek was vir ons net 'n "sample" van die Baviaans, 'n voorgereggie om ons lus te maak vir nog baie meer. Volgende keer gaan ons Doodsklip toe, donkiekar ry, nog meer fotos neem, staproetes inwerk..... Ons kom verseker terug vir 'n ordentlike vakansie. 

Monday, 6 October 2014

Wag... of doen?

Ek sit vanoggend op die balkon van ons woonstel. Die vroeg-oggend sonnetjie het verdwyn en 'n dik laag mis het van die see af ingerol. Ek kan nie veel verder as die bome voor my sien nie. Dit voel amper asof ek in 'n kokon sit!

Ek besef dat dit vir my voel asof ek ook figuurlik in 'n kokon is. Asof ek, soos met vanoggend se mis, nie ver genoeg vooruit kan sien nie. Die huis-soekery is besig om my daaglikse denke te oorheers. Ek wens ek kon weet WANNEER ons die regte plek sal kry. En of ons hoegenaamd moet hoop op die REGTE plek. Moet ons eerder vat wat ons kan kry (en vir die volgende paar jaar daar bly), of moet ons wag vir die regte plek?

Soms, (eintlik heel gereeld), wens ek die Here wil "loud & clear" met my praat. Al hierdie gewonder uitskakel met 'n duidelike antwoord. Al my twyfel oor wat my te doen staan finaal uit die weg ruim. Verkieslik uitgespel met detail: datums, plekke, wie en wat's - alles aangeheg. 'N reguit antwoord of ek moet WAG.... of iets moet DOEN.

Aan die een kant weet ek dat ek moet WAG. Die regte plek sal op die regte tyd kom. Ek het tog al soveel keer daardie antwoord gekry. Maar na 'n rukkie begin dit voel na 'n manier van verantwoordelikheid ontduik. Begin dit vir myself, en seer sekerlik vir ander mense ook, klink na 'n manier van niks doen nie. Van "wag-dat-iets-in-my-skoot-val". En dan begin ek twyfel of ek nou eintlik reg gehoor het.

Dit geld ook vir werk. Ek begin skuldig voel dat ek nie geld verdien nie. Begin wonder of ek maar net moet aansoek doen vir enigiets wat my pad kruis.Werksgewys wil ek so graag eers duidelikheid hê oor wat die Here regtig wil hê dat ek hier moet doen, waar Hy my wil gebruik. 'n Paar jaar gelede het ek ook hierdie stryd met die Here gevoer. Ek kon daardie tyd in mense se gesigte sien wat hulle dink as ek sê dat ek "wag vir die regte werk". Daardie uitdrukking wat sê : "beggars can't be choosers!" (ons het daardie tyd erg finansieel gesukkel). Op die ou einde het ek gevat wat ek kon kry... en lelik op my neus gekyk! Elke oomblik in daardie pos het ek geweet dat dit nie is waar ek moet wees nie. Vier maande later het ek 'n werksaanbieding gekry wat ek dadelik geweet het dat dit direk van die Here af kom en kon ek in Sy wil instap en dit WEET. Ek is dus NIE van plan om weer dieselfde fout te maak nie.

Nou die dag het ons kuiergaste en 'n persoon vra vir my: "Nou wat doen jy heeldag?" Dadelik begin ek hap en sluk en woorde soek. "Huisskoonmaak, skottelgoed was, klere was en stryk, kinders rondry,lees en skryf" klink soos 'n verskoning vir lui wees. Klink bietjie "bland". Verstaan my mooi, ek wil nie klink of ek iets "belangriks" doen nie. Hardop gesê klink dit so asof ek nie juis iets doen nie. Face dit: ons bly in 'n 2 slaapkamer woonstel met 'n enkele kombuis/leefarea. Hoeveel werk kan dit nou wees? (ter verdediging: as mens net 6 borde, bekers,glase, messe en vurke het, moet jy nogal 'n paar keer 'n dag skottelgoed was!!!)

Ek het darem begin om by Life Community Services as 'n "volunteer" betrokke te raak. Het gister 'n aanbieding oor emosionele ontwikkeling by hul maandelikse "pre-school teacher training" gedoen. En dit SO geniet! Kyk, as ek nou darem NIE oor inkomste bekommerd hoef te gewees het nie, sal ek heeltyd sulke vrywilliger-werkies wou doen. Dit is so vervullend! En die vrouens is so dankbaar vir elke bietjie "input" wat hulle kry.

Terug by die huis-soekery: ons het al na soveel huise gaan kyk. Party is piepklein, ander verwaarloos. Nog nie een het vir my na "huis" gevoel nie, kon ek nie my gesin daarin sien LEEF nie. En ja, in die huidige mark KAN ons nie te "picky & choosy" wees nie, maar ek glo ook dat die dop waarin jy bly 'n groot invloed kan hê op jou gemoedstoestand. (ek kan net nie dink dat mens vrolik en opgewek kan voel in 'n donker, muwwerige plek nie!) Aan die een kant is ek so bang dat in die "gewag" op die regte plek, al die "decent" plekke gevat word. Maar aan die ander kant is ek net so bang dat ons 'n "decent" plek vat, en dan word die "regte" plek skielik beskikbaar..... Sien wat ek bedoel met 'n reguit antwoord wat nou welkom sal wees!!

Verlede week woon ons 'n sel-info aand by en daar word gesels oor hoe belangrik dit is om werklik in die Here se teenwoordigheid tyd te spandeer, dat jy soms net by Hom moet sit en luister, nie praat nie. Ek besef dat ek meeste van die tyd die praat werk doen... en dan kla ek dat ek nie die Here hoor nie!!! So, van nou af dink ek dis tyd dat ek bietjie minder praat (en vra!) as ek stiltetyd hou, en meer stil wees (maar moeilik vir 'n babbelbek soos ek!)

En net soos vanoggend se mislaag opgeklaar het en in die wonderlikste sonskyndag verander het, vertrou ek dat die "kokon" waarin ek myself bevind, ook sal verander in 'n wonderlike sonskyn-helderheid van antwoorde.

Op 'n ligter noot: ek moet julle darem jaloers maak ook: met dié dat ek so dikwels sit en "niksdoen" , is ek vry om elke 2 weke wanneer Werner Groot-Brak toe gaan vir fisio, saam te ry. En terwyl hy vir 'n uur lank geknie en geknyp word, verwyl ek my tyd in die oulike winkeltjies, of ry rond en neem foto's, ontdek nuwe plekke en uitsigte. Die afgelope week was hierdie my uiteindelike stop vir so 'n halfuur of wat:


En nou verwag enigiemand van my om my tyd meer produktief te spandeer??? GET REAL!!

NS: Vanmiddag het ons die personeel van Laerskool Piet Retief wat saam met die kinders op die Kaaptoer is, vir 'n vinnige 5 minute te sien gekry. Piet, Lorraine, Japie, Ronelle, Susan, Antoinette, Alex... julle was vandag vir ons 'n groter bederf as die heerlike sonskyn! Wens ons kon langer kuier! Toe ons terug ry woonstel toe, sê Anri: "Sjoe, dit was SO lekker om bekende gesigte te sien. Dit laat mens sommer weer normaal voel" Dankie, dankie, dankie dat julle bereid was om gou te stop. Ons hoop julle toerleier het julle nie "ani-brand" gesteek oor die tydvermorsing nie  En baie dankie Mamma vir ons heerlike pakkie. Dankie tog die "koeriers" het nie geweet wat is in die boks wat hulle so saamry nie, anders het ons sekerlik niks gekry nie. Nou het ons so 'n klein proeseltjie "huis" hier in Vic Baai! Selfs Ma se handskrif op die pakkie het ons harte warmer laat klop!




Tuesday, 23 September 2014

People vs places

Die afgelope tyd het ek baie teenstrydige emosies ervaar (en voor julle vrees hier kom weer 'n tranedal- ontspan!)  Ek geniet dit baie om in hierdie mooi wêreld te woon, maar besef heeltyd dat iets kort kom. Ek voel so half "in limbo": asof iets besig is om te gebeur, die wêreld besig is om aan te beweeg, maar ek staan stil. Dit het my 'n rukkie geneem om my eie gevoelens te identifiseer EN te probeer verklaar.

Tot 2 naweke gelede. Ons goeie vriende, Olga en Roelf, met 2 van hul dogters, Nicke en Olla het kom kuier vanaf Potchefstroom. Wat 'n fees! Hulle het in die woonstel langs ons ingeboek, en ons kon elke dag kuier vandat ons opstaan totdat die eerste een in die aand in die geselskap aan die slaap raak. Saterdag en Sondag het ons liewe Mosselbaai-pelle, Braam en Rentia (ook eks Piet Retiewers) boonop saam gekuier. Ons het baie koffies en glase rooiwyn gedrink, plekke besigtig, saam vis gebraai en waterblommetjie pot gemaak, diep gesprekke gevoer en lekker lag. Kortom, ons het elke minuut saam ten volle gebruik om mekaar se geselskap te geniet. (terwyl my arme dogters vir die eksamen moes leer!)

Nadat Olga hulle Maandag oggend weg is lughawe toe, en alles weer terug is na "normaal", het ek besef dat ek vir n volle 5 dae nie daardie "detached" gevoel gehad het nie. En skielik het ek besef wat dit is wat ek mis: die gevoel van behoort- nie behoort op 'n PLEK nie, maar om te behoort aan en by MENSE. Vir die eerste keer in n lang tyd het dit gevoel asof ek weer deel is van 'n "groep" - ons die eks-Piet Retiewers.

Twee dae later is broer Ruan en skoonsus Neelandrie se eersteling gebore. 'n Pragtige gesonde dogtertjie met die naam Layla. Ons is so opgewonde, maar ook 'n tikkie hartseer. Want ons weet dat ons haar nie so goed gaan ken soos wat ons graag sou wou nie. Om mekaar een of twee keer 'n jaar te sien gaan nie 'n hegte verhouding tussen die niggies verseker nie.

En gister het ek n kort maar heerlike ontbyt-kuier met niggie Chandre gehad. Ons 2 het mekaar laas met my en Werner se troue gesien- 20 jaar gelede!! En die 2 ure se saam gesels was beslis te kort om 20 jaar se kuier in te haal. Maar ek het daar weggestap en "refreshed" gevoel.

Hierdie 3 gebeurtenisse het my weereens laat besef dat berge en oseane nie kan instaan vir verhoudings nie! Soos ek op 'n kry-myself-jammer-dag vir 'n vriendin gese het: die berge en die see is pragtig, maar dit kan nie drukkies gee of mens vashou as jy dit nodig het nie, dit kan nie saamlag en gesels nie. Daarvoor het jy 'n mede mens nodig!  
Verstaan my mooi- ek is NIE weer besig om te "sulk" oor wat ek agtergelaat het toe ons getrek het nie. Ek het net besef dat ek MENSE in my lewe nodig het.

Die ding wat my dalk ook 'n bietjie moedeloos laat voel is dat ek regtig 'n "effort" ingesit het om betrokke te raak by dinge: Ons het vroeg-vroeg by die kerk aangemeld en ook gese dat ons graag by 'n selgroep wil inskakel -tot dusver geen reaksie nie. Ek het gaan uitvind of daar 'n vroue Bybelstudie groep of iets soorgelyks is - niks, want die meeste vrouens werk. Ek het by die skool gaan uitvind of ek as gr 11 ouer kan help met die matriekafskeid - nee, dit word alles deur die spyseniering-leerlinge gedoen. Ek het met 'n ma gesels wat betrokke is by die OOV en die werkery by sportdae- die werk is vir eers klaar tot volgende jaar... en so gaan dit aan.

En intussen leer Werner  links en regs mense ken! Klink ek jaloers?? Ja, ek IS!! By die mannebediening, deur sy werk, sommer wanneer hy voorraad aankoop! As ek hoor het hy met iemand "connect". Hy het tot al 'n uitnodiging rugby toe gekry.

Ek sien nou die dag op Facebook waar Frances skryf dat sy haar vriendinne mis toe sy n groepie vriendinne op die strand sien kuier. En ek verstaan SO hoe sy voel. Soos wat mens altyd oral vrouens met swanger magies gesien het wanneer jy graag wou swanger word, voel dit nou vir my asof ek oral groepies vriendinne raaksien wat mekaar se geselskap geniet: by die skool tewyl hulle vir die kinders wag, op die strand as die kinders "surf' lesse het, in die mall by elke koffie winkel, in die supermark waar hulle mekaar raakgeloop het, na kerk waar hulle gou 'n vinnige geselsie inwerk. En elke keer word ek daaraan herinner dat ek nou die "odd one out" is. Die een sonder "maatjies" (O, dit klink nou lekker melodramaties!! Maar soms voel ek nogal so!)


Die goeie deel hiervan is dat ek meer tyd vir en saam met Werner en die dogters het. Nie altyd seker of dit vir tienerdogters na 'n positiewe ding klink nie maar ek waardeer en koester die tye saam met hulle. En vriendin Rentia is darem op Mosselbaai, darem nie te ver as die "jammer-vir-myself" hoogty vier nie. O ja, en deesdae hou my selfoon se battery sommer 4 dae of langer! Verder besef ek dat hierdie dalk my seisoen is om al my gesels en stories, hartseer en blywees, bekommernis en opgewondenheid met die Here te deel. Dalk wil Hy my dwing om nou aan my vriendskap met Hom te bou. Ek kan juis so maklik "besig" raak.
 
Ek glo ek gaan oor 'n jaar of twee terugkyk en wonder hoekom het ek so gekla!!! Dus, van nou af is dit vorentoe kyk, geniet die stil en alleen tye, gryp elke oomblik aan om met die Here en my huismense te "connect", en hou my oë oop vir die geleenthede en mense wat oor my pad kom. Ek weet Hy het gesê Hy beplan vir ons nuwe en goeie dinge. God is ook die een wat my aanmekaar geweef het, wat weet hoe Hy my ge"wire" het en wat my laat "tick". So ek weet verseker daar is spesiale vriendskappe wat wag...  Ek sien uit met verwagting!! Tot dan, is dit ek en Hy.
 
NS: So algaande leer ek bietjie meer oor die bloggery (baie stadig, maar darem). Ek DINK ek het die verstellings nou so gekry dat enigiemand kan kommentaar lewer hieronder. Voorheen was dit net moontlik as jy 'n gmail- rekening gehad het- of so vermoed ek. So probeer gerus. En as dit steeds wys jou naam is "Anonymous", skryf maar net jou naam as deel van jou comment. Ek hoop dit werk!!  Suna