Monday, 18 August 2014

Legkaarte en luukses

Na verlede week se tranedal is dit tyd dat ek bietjie op die positiewe konsentreer. Voordat al my vriende geskenkbewyse vir beradingsessies aanstuur!!

Sedert ons hier gekom het, het ons al soveel spesiale tye ook gehad. Ons het al op die ingewing van die oomblik in die kar gespring en die lieflikste plekke ontdek. Ek moet myself elke nou en dan knyp om seker te maak hierdie prentjie-mooi omgewing is nou ons tuiste. Ek dink aan Lienka se liedjie Luuks en besef hoeveel luukses daar op die oomblik in my lewe is!

Sonsopkoms van ons voorstoep af
Ek voel soos iemand in 'n tydskrif-storie as ek die kamera gryp en vir die res van die huis
sê "ek gaan net gou strand toe om foto's te neem"! Hoe cool is dit!!! Om die voordeur oop te maak en die see te ruik, die klammigheid op my vel te voel. Of die luukse van 'n boek vat om gou vir n uur in skooltyd op die rotse langs die water te gaan sit en lees! Ek weet dit gaan nie altyd in die toekoms moontlik wees nie, maar vir nou is dit een van die voordele van NIE mense ken en oral betrokke wees nie. En ek gaan dit uitbuit vir solank ek kan.

Saterdag het ek en Anri vir n uur by Dolphin Point uitkyk by Wildernis gestaan en walvisse kyk: 6 van hulle wat luilekker in die water rondgerol en sommer net "gewees" het.  Op 'n stadium het n paar dolfyne kom saam speel- sommer net omdat hulle KAN!
En toe ons later van die winkels af terug kom met 'n MacDonalds burger elk, stel Karla voor ons eet dit op die strand. Net daar hou ons verby Vic-baai toe, en gaan eet ons middagete langs die see. Sondagmiddag het ek en Werner 'n draai gaan ry en die oulikste restaurant in Wildernis raakgeloop. Ons het net koffie en Hot Chocolate gedrink, maar die atmosfeer was heerlik, amper Europees met die lieflikste Italiaanse musiek, mense wat oral in die strate drentel (en die "local" rasta-hippie wat ewe hoog op die oorkantste sypaadjie met homself sit en gesels en lag  terwyl toeriste elke nou en dan saam met hom wil fotos neem.... weird!!) Gepraat van restaurante: ek is nou besig om 'n lysie te maak van watter vriende ons na watter restaurante en koffie-winkels toe moet vat. Ons sit dikwels by 'n plekkie en besluit hierdie of daardie vriende sal van hierdie kos/atmosfeer/omgewing/dekor hou, so nou hou ek boek daarvan.

  
Victoria baai teen sononder.
Nog 'n heerlikheid is om te sit en luister na die local mense se praat: die sêgoed wat ons gereeld laat giggel, dikwels met so 'n lekkerg bgrei van die tong. Die karwag onder by Victoriabaai groet ons gewoonlik met "aaahh, Mpumalanga! Welkom by Victoriabaai" of ander dergelike maniere (ons kar se nommerplaat gee ons nog weg) Nounou het ons gou weer vir n halfuur daar gaan stap. Toe ons uitklim sê hy: "Lyk my Mpumalanga bly nou ma innie Kaap. Da is mos nie 'n sie in Mpumalanga nie!"  Ons het lekker gegiggel. Min het hy geweet hoe reg hy is.

Karla en Anri geniet "tee' saam met Isabel se dogters
 
Al die kuiers wat ons die afgelope tye met ou en nuwe vriende gehad het tel ook op my lysie van luukses. Dit bly heerlik om weer op die ingewing van die oomblik 'n Sondagbraai met Braam&Rentia te reel- ons het dit so dikwels in Piet Retief gedoen, en nou word die tradisie na 4 jaar weer voortgesit. Ek het ontdek dat ek familie in George het wat ek nog nooit ontmoet het nie, en ons het 'n heerlike "long overdue" kuier met die Greyvensteins gehad. En met goeie vriende se familie wat nou ook ons vriende geword het. (Dankie Hennie en Sirita dat ons nou vir Sus Isabel en Kobus "present gekry het" ☺)


Ek sien nog altyd ons lewens as stukkies van n groot legkaart - dikwels verstaan ons nie hoe gebeure en mense inpas in die groter prentjie nie, maar dan soms, net soms, gun die Here ons 'n kykie en sien ons hoe sekere dinge bymekaar inpas en hoe stukkies wat op hul eie dalk nie sin maak nie, eintlik deel uitmaak van die mooier, groter prentjie.
Baie van die dinge wat ons tot dusver beleef het, val nog vir my in die "weet-nie-waar-dit-inpas-nie" kategorie. Maar hier en daar sien ek al 'n stukkie wat op"link" met 'n ander prentjie (jy weet mos as jy puzzles bou en jy kry so 7 of 8 stukkies wat bymekaar pas, maar nog nie 'n plek in die groter prentjie kry nie).
Een daarvan is die klein woonstelletjie waarin ons tans woon. Ek was eintlik bietjie opstandig toe Werner besluit om die 2 slaapkamer woonstel te vat: ons is 4 mense, en die dogters het elkeen spasie nodig- het al jare lank elkeen hul eie kamer. En tog was dit presies wat nodig was in hierdie tydstip van ons reis. Ons is heeltyd in mekaar se geselskap- so plek vir eenkant sit en "sulk" is daar nie (behalwe as ek nou my depro slaan as almal weg is soos verlede week ☺)
En so, sonder dat ons dit regtig agterkom, is ons besig om te bond, meer te lag, memories te maak wat heel moontlik nie sou gebeur het as ons direk in 'n gemaklike, groter huis ingetrek het nie.

Ons staan ook verstom hoe die Here mense oor ons pad stuur, soms met 'n boodskap, soms as 'n kontak, soms om te bemoedig... maar nooit toevallig nie! Sal 2 vrouens wat ek nog nooit van te vore ontmoet het nie, verlede week vir my hul stories van "huis-soek" vertel en albei se stories getuig van bo-natuurlike voorsiening. En 'n man wat vandag vir Werner foto's van sy visvangste van die naweek wys, en dan terloops sê: "O, ek moet DIT ook vir jou wys.." en dan vir Werner 'n "quote" van sy mentor-omie wys wat sê: "As jy geloof het sal jy nie haastig wees nie!" Toevallig.... beslis nie. Sonder dat hulle dit weet was al hierdie mense legkaartstukkies in ons groter prentjie. Na baie vrugtelose soektogte en besoeke aan agente om werkswinkelspasie te bekom, het Werner 'n vriend van 'n vriend by die kerk se mannebediening raakgeloop, en na 'n rukkie se gesels vind hulle uit hulle is in dieselfde bedryf. En daar nooi die ou Werner om saam met hom sy werkswinkel te gebruik! Sommer so! So van vandag af het Werner werkplek en kan hy weer begin om te skep en te saag en te skuur...  Intussen wag ons (by tye geduldig) op die huis wat die Here vir ons in gedagte het.


O ja, voor ek vergeet: Werner het 'n nuwe vrou in sy lewe! Sy het kurwes op die regte plekke, regte "come-to-bed-eyes" en is 4 jaar ouer as ek! Hy spandeer nogal heelwat tyd met haar.... maar dis OK, ek hou ook nogal van haar. Haar naam is Daisy (altans ek dink dit is die finale keuse) en sy is 'n 1964 VW Kewer Kyk net hoe fraai! (en sy laat ons ook nogal oulik lyk as ons vir rustige Sondagmiddag "drives" in die omgewing gaan).

Ek groet met hierdie aanhaling en 'n link na 'n videoclip wat vreugde binne-in my laat opborrel het:

“For last year's words belong to last year's language
And next year's words await another voice.
And to make an end is to make a beginning."
~ T.S. Eliot


https://www.youtube.com/watch?v=kbJcQYVtZMo

No comments:

Post a Comment