Wednesday, 15 October 2014

Deur die straights en om die draaie..... en die berge en die klowe!

Die afgelope naweek het ons die eerste keer die Baviaanskloof besoek. Wat 'n belewenis!!



Toe Braam so 2 weke gelede bel om te vra of ons wil saamgaan, kan ek nou nie met alle eerlikheid sê dat ek op en af gespring het van opgewondenheid nie. Ons het baie lanklaas gekamp en daarby is al ons goed nog in stoor. Ons het maar geraap en skraap en geleen om alles bymekaar te kry wat ons nodig het. Daarby het ek nie 'n idee gehad wat vir ons voorlê nie, en soos ek al vantevore gesê het is ek nie vreeslik gek oor die onbekende en verrassings nie. Al wat ek geweet het is dat dit onherbergsame wêreld is met geen selfoonopvangs nie (daarna het ek wel uitgesien!). Hoe die kampplek en ablusies lyk (en of daar is) het ons nie geweet nie.


Ockie se Hokkie langs die rivier
Donderdagoggend is ons met die N2 langs tot in Kareedouw. Daar het Braam en Rentia ons hul ou tuisdorp gewys en ons het heerlik geluister na n paar "local" staaltjies. Na middagete by Norma-Jean's het ons die pad gevat- berg in. Ons het sommer gou-gou besef: hierdie is spesiale wêreld! Steil paaie op en weer af teen die rotspaadjies.... so het dit vir 'n paar ure gegaan. Totdat ons teen 'n steilte afkom en daar tussen erens en nerens 'n houthut langs die rivier kry: ons slaapplek vir die eerste aand. Die hut behoort aan Ockie, 'n vriend van Braam-hulle. Ons het net die nodigste afgepak om vir een aand nes te skrop en gou-gou het die vuurtjie gebrand. Die kinders was maar eers baie versigtig vir hulle slaapplek: 'n platform wat in die nok van die slaapkamerdak, bokant die 4 beddens, aangebring is. Dit is oop aan 2 kante en hulle moes met 'n leertjie opklim daarheen. In effek het ons dus al 8 in een kamer geslaap: volwassenes in die 4 beddens en die kids bokant ons koppe op die platform.  'n Heerlike manier om 'n lekker saamkuier naweek af te skop. 

Dag 2 was dit tyd vir die eintlike 4x4 roete. Kranse, klippe, klowe... en plate en plate fynbos! Ek weet nog altyd dat fynbos spesiaal is en dat daar in daardie tipe habitat 'n groot verskeidenheid plante voorkom. Maar selfs daardie kennis kon my nie voorberei vir die groot hoeveelheid verskillende plante wat ons gesien het nie.

Ek is baie seker dat daar na 'n paar uur se ry erge mumurerings in die Rusts se Condor was as hulle sien dat die Potgieters ALWEER agter geraak het! Ons kon net nie ophou stop om te kyk en fotos te neem nie. In die begin het ek die idee gekry om van elke verskillende blommetjie 'n foto te neem- seker 'n duidelike teken van my onkunde en "1ste keer in die Baviaans"-geid. Ek het later besef as ek so 1 uit elke 20 kan afneem sal ek gelukkig wees- anders kom ons nooit voor donker by ons kampplek uit nie. Ek het so aan vriendin Hylie gedink wat blomme ken en lief is om dit af te neem. Op die einde het ek op dag 1 alleen omtrent 45 verskillende spesies blomme afgeneem: en dit is net sommige van die plante wat nou blom!  Uitroepe van Sjoe!, Wow!, Kyk net!, STOP! en Yoh!! was algemeen. Hierdie berge is werklik soos 'n tuin met nuwe verrassings om elke draai.

En die berge!! Daar is vlaktes met fynbos, dan weer plate geel bossies. Regaf kranse en golwende grasvelde. Klipperige hoogtes en heuwels wat mekaar herhaal. En nie een van my fotos gee naastenby DIT waar wat my oe gesien het nie. Daardie gevoel van oneindigheid en grootsheid kan ek nie vasgevang kry nie. Op plekke loop die nou paadjie gevaarlik naby aan die afgrond. Op 'n stadium moes ons en Braam hulle vir n goeie 300m of meer in so 'n nou paadjie agteruit ry omdat daar 'n ander voertuig van voor af gekom het! Ek het maar net oë toegeknyp en gebid!! Gelukkig ken ek niemand wat beter agteruit kan bestuur as Werner nie, so ons het geweet ons is in goeie hande.

 
Tee-tyd in die Kouga berge
Natuurlik het Rentia seker gemaak ons stop vir teetyd, en teen middagete het ons sommer op 'n groen stukkie gras (tussen droë miskoeke  ) seil oopgegooi en broodjies geëet. Na omtrent 6 ure se ry is ons teen die laaste steiltes en skerp draaie af, en skielik het die Kloof groen en geil voor ons gelê. Wat 'n gesig!! Tussen die 2 ruwe bergreekse, die Kouga- en Baviaanskloofberge, lê hierdie vrugbare kloof. Fynbos verander eensklaps in Bosveld.


Dit was veral 'n belewenis om die ou plaaswinkeltjies in die Kloof te besoek. Die koel, skemerte daarbinne herinner my aan my kinderdae as ons winkel toe gestap het om daar nikkerbols en Wilsontoffies te koop. En met Rentia saam het ons gou-gou lang geselsies met die eienaars gemaak (tot groot frustrasie van die mans!) Ons is selfs met 'n paar "vreemde", outydse kopies daar uit!

Tydens so 'n geselsie vind ek uit dat een van my gunsteling skrywers hier in die Baviaans gewoon het. As kind het ek PH Nortje se boeke verslind en altyd gewens ek kan ook soos hy alledaagse situasies so vermaaklik beskryf. Nou kan ek nie wag om biblioteek toe te gaan en weer 'n paar van sy boeke nader te hark nie.

Saterdag oppad die Baviaans Natuurreservaat in tref die teëspoed ons: die Condor se "timing belt" breek! Ons avonture is op 'n einde!! Ek, Rentia en die dogters ontspan die res van die dag: lees boek, ry perd en geniet die son; terwyl die 2 mans en Christoff (met 'n hele paar mede kampeerders as toeskouers en raadgewers) die Condor bewerk en be-peuter. Sondagoggend is dit omtrent 'n operasie: Ons kan net die heel nodigste bagasie in laai om terug te bring (tandeborsels, kussings en onderklere!) Die res van die bagasie is in die Condor gelaai wat in die eienaar van die plaas se stoor getrek is, waar Werner en Braam dit later sal kom haal. Al 8 van ons moes in die Hi-Lux in vir die lang pad huis toe- 'n avontuur op sig self!


We'll be back...!!!
Dit is geen wonder dat die Baviaanskloof area as 'n wêrelderfenisgebied verklaar is nie. Dit is beslis 'n baie spesiale deel van die skepping. Hierdie naweek was vir ons net 'n "sample" van die Baviaans, 'n voorgereggie om ons lus te maak vir nog baie meer. Volgende keer gaan ons Doodsklip toe, donkiekar ry, nog meer fotos neem, staproetes inwerk..... Ons kom verseker terug vir 'n ordentlike vakansie. 

Monday, 6 October 2014

Wag... of doen?

Ek sit vanoggend op die balkon van ons woonstel. Die vroeg-oggend sonnetjie het verdwyn en 'n dik laag mis het van die see af ingerol. Ek kan nie veel verder as die bome voor my sien nie. Dit voel amper asof ek in 'n kokon sit!

Ek besef dat dit vir my voel asof ek ook figuurlik in 'n kokon is. Asof ek, soos met vanoggend se mis, nie ver genoeg vooruit kan sien nie. Die huis-soekery is besig om my daaglikse denke te oorheers. Ek wens ek kon weet WANNEER ons die regte plek sal kry. En of ons hoegenaamd moet hoop op die REGTE plek. Moet ons eerder vat wat ons kan kry (en vir die volgende paar jaar daar bly), of moet ons wag vir die regte plek?

Soms, (eintlik heel gereeld), wens ek die Here wil "loud & clear" met my praat. Al hierdie gewonder uitskakel met 'n duidelike antwoord. Al my twyfel oor wat my te doen staan finaal uit die weg ruim. Verkieslik uitgespel met detail: datums, plekke, wie en wat's - alles aangeheg. 'N reguit antwoord of ek moet WAG.... of iets moet DOEN.

Aan die een kant weet ek dat ek moet WAG. Die regte plek sal op die regte tyd kom. Ek het tog al soveel keer daardie antwoord gekry. Maar na 'n rukkie begin dit voel na 'n manier van verantwoordelikheid ontduik. Begin dit vir myself, en seer sekerlik vir ander mense ook, klink na 'n manier van niks doen nie. Van "wag-dat-iets-in-my-skoot-val". En dan begin ek twyfel of ek nou eintlik reg gehoor het.

Dit geld ook vir werk. Ek begin skuldig voel dat ek nie geld verdien nie. Begin wonder of ek maar net moet aansoek doen vir enigiets wat my pad kruis.Werksgewys wil ek so graag eers duidelikheid hê oor wat die Here regtig wil hê dat ek hier moet doen, waar Hy my wil gebruik. 'n Paar jaar gelede het ek ook hierdie stryd met die Here gevoer. Ek kon daardie tyd in mense se gesigte sien wat hulle dink as ek sê dat ek "wag vir die regte werk". Daardie uitdrukking wat sê : "beggars can't be choosers!" (ons het daardie tyd erg finansieel gesukkel). Op die ou einde het ek gevat wat ek kon kry... en lelik op my neus gekyk! Elke oomblik in daardie pos het ek geweet dat dit nie is waar ek moet wees nie. Vier maande later het ek 'n werksaanbieding gekry wat ek dadelik geweet het dat dit direk van die Here af kom en kon ek in Sy wil instap en dit WEET. Ek is dus NIE van plan om weer dieselfde fout te maak nie.

Nou die dag het ons kuiergaste en 'n persoon vra vir my: "Nou wat doen jy heeldag?" Dadelik begin ek hap en sluk en woorde soek. "Huisskoonmaak, skottelgoed was, klere was en stryk, kinders rondry,lees en skryf" klink soos 'n verskoning vir lui wees. Klink bietjie "bland". Verstaan my mooi, ek wil nie klink of ek iets "belangriks" doen nie. Hardop gesê klink dit so asof ek nie juis iets doen nie. Face dit: ons bly in 'n 2 slaapkamer woonstel met 'n enkele kombuis/leefarea. Hoeveel werk kan dit nou wees? (ter verdediging: as mens net 6 borde, bekers,glase, messe en vurke het, moet jy nogal 'n paar keer 'n dag skottelgoed was!!!)

Ek het darem begin om by Life Community Services as 'n "volunteer" betrokke te raak. Het gister 'n aanbieding oor emosionele ontwikkeling by hul maandelikse "pre-school teacher training" gedoen. En dit SO geniet! Kyk, as ek nou darem NIE oor inkomste bekommerd hoef te gewees het nie, sal ek heeltyd sulke vrywilliger-werkies wou doen. Dit is so vervullend! En die vrouens is so dankbaar vir elke bietjie "input" wat hulle kry.

Terug by die huis-soekery: ons het al na soveel huise gaan kyk. Party is piepklein, ander verwaarloos. Nog nie een het vir my na "huis" gevoel nie, kon ek nie my gesin daarin sien LEEF nie. En ja, in die huidige mark KAN ons nie te "picky & choosy" wees nie, maar ek glo ook dat die dop waarin jy bly 'n groot invloed kan hê op jou gemoedstoestand. (ek kan net nie dink dat mens vrolik en opgewek kan voel in 'n donker, muwwerige plek nie!) Aan die een kant is ek so bang dat in die "gewag" op die regte plek, al die "decent" plekke gevat word. Maar aan die ander kant is ek net so bang dat ons 'n "decent" plek vat, en dan word die "regte" plek skielik beskikbaar..... Sien wat ek bedoel met 'n reguit antwoord wat nou welkom sal wees!!

Verlede week woon ons 'n sel-info aand by en daar word gesels oor hoe belangrik dit is om werklik in die Here se teenwoordigheid tyd te spandeer, dat jy soms net by Hom moet sit en luister, nie praat nie. Ek besef dat ek meeste van die tyd die praat werk doen... en dan kla ek dat ek nie die Here hoor nie!!! So, van nou af dink ek dis tyd dat ek bietjie minder praat (en vra!) as ek stiltetyd hou, en meer stil wees (maar moeilik vir 'n babbelbek soos ek!)

En net soos vanoggend se mislaag opgeklaar het en in die wonderlikste sonskyndag verander het, vertrou ek dat die "kokon" waarin ek myself bevind, ook sal verander in 'n wonderlike sonskyn-helderheid van antwoorde.

Op 'n ligter noot: ek moet julle darem jaloers maak ook: met dié dat ek so dikwels sit en "niksdoen" , is ek vry om elke 2 weke wanneer Werner Groot-Brak toe gaan vir fisio, saam te ry. En terwyl hy vir 'n uur lank geknie en geknyp word, verwyl ek my tyd in die oulike winkeltjies, of ry rond en neem foto's, ontdek nuwe plekke en uitsigte. Die afgelope week was hierdie my uiteindelike stop vir so 'n halfuur of wat:


En nou verwag enigiemand van my om my tyd meer produktief te spandeer??? GET REAL!!

NS: Vanmiddag het ons die personeel van Laerskool Piet Retief wat saam met die kinders op die Kaaptoer is, vir 'n vinnige 5 minute te sien gekry. Piet, Lorraine, Japie, Ronelle, Susan, Antoinette, Alex... julle was vandag vir ons 'n groter bederf as die heerlike sonskyn! Wens ons kon langer kuier! Toe ons terug ry woonstel toe, sê Anri: "Sjoe, dit was SO lekker om bekende gesigte te sien. Dit laat mens sommer weer normaal voel" Dankie, dankie, dankie dat julle bereid was om gou te stop. Ons hoop julle toerleier het julle nie "ani-brand" gesteek oor die tydvermorsing nie  En baie dankie Mamma vir ons heerlike pakkie. Dankie tog die "koeriers" het nie geweet wat is in die boks wat hulle so saamry nie, anders het ons sekerlik niks gekry nie. Nou het ons so 'n klein proeseltjie "huis" hier in Vic Baai! Selfs Ma se handskrif op die pakkie het ons harte warmer laat klop!




Tuesday, 23 September 2014

People vs places

Die afgelope tyd het ek baie teenstrydige emosies ervaar (en voor julle vrees hier kom weer 'n tranedal- ontspan!)  Ek geniet dit baie om in hierdie mooi wêreld te woon, maar besef heeltyd dat iets kort kom. Ek voel so half "in limbo": asof iets besig is om te gebeur, die wêreld besig is om aan te beweeg, maar ek staan stil. Dit het my 'n rukkie geneem om my eie gevoelens te identifiseer EN te probeer verklaar.

Tot 2 naweke gelede. Ons goeie vriende, Olga en Roelf, met 2 van hul dogters, Nicke en Olla het kom kuier vanaf Potchefstroom. Wat 'n fees! Hulle het in die woonstel langs ons ingeboek, en ons kon elke dag kuier vandat ons opstaan totdat die eerste een in die aand in die geselskap aan die slaap raak. Saterdag en Sondag het ons liewe Mosselbaai-pelle, Braam en Rentia (ook eks Piet Retiewers) boonop saam gekuier. Ons het baie koffies en glase rooiwyn gedrink, plekke besigtig, saam vis gebraai en waterblommetjie pot gemaak, diep gesprekke gevoer en lekker lag. Kortom, ons het elke minuut saam ten volle gebruik om mekaar se geselskap te geniet. (terwyl my arme dogters vir die eksamen moes leer!)

Nadat Olga hulle Maandag oggend weg is lughawe toe, en alles weer terug is na "normaal", het ek besef dat ek vir n volle 5 dae nie daardie "detached" gevoel gehad het nie. En skielik het ek besef wat dit is wat ek mis: die gevoel van behoort- nie behoort op 'n PLEK nie, maar om te behoort aan en by MENSE. Vir die eerste keer in n lang tyd het dit gevoel asof ek weer deel is van 'n "groep" - ons die eks-Piet Retiewers.

Twee dae later is broer Ruan en skoonsus Neelandrie se eersteling gebore. 'n Pragtige gesonde dogtertjie met die naam Layla. Ons is so opgewonde, maar ook 'n tikkie hartseer. Want ons weet dat ons haar nie so goed gaan ken soos wat ons graag sou wou nie. Om mekaar een of twee keer 'n jaar te sien gaan nie 'n hegte verhouding tussen die niggies verseker nie.

En gister het ek n kort maar heerlike ontbyt-kuier met niggie Chandre gehad. Ons 2 het mekaar laas met my en Werner se troue gesien- 20 jaar gelede!! En die 2 ure se saam gesels was beslis te kort om 20 jaar se kuier in te haal. Maar ek het daar weggestap en "refreshed" gevoel.

Hierdie 3 gebeurtenisse het my weereens laat besef dat berge en oseane nie kan instaan vir verhoudings nie! Soos ek op 'n kry-myself-jammer-dag vir 'n vriendin gese het: die berge en die see is pragtig, maar dit kan nie drukkies gee of mens vashou as jy dit nodig het nie, dit kan nie saamlag en gesels nie. Daarvoor het jy 'n mede mens nodig!  
Verstaan my mooi- ek is NIE weer besig om te "sulk" oor wat ek agtergelaat het toe ons getrek het nie. Ek het net besef dat ek MENSE in my lewe nodig het.

Die ding wat my dalk ook 'n bietjie moedeloos laat voel is dat ek regtig 'n "effort" ingesit het om betrokke te raak by dinge: Ons het vroeg-vroeg by die kerk aangemeld en ook gese dat ons graag by 'n selgroep wil inskakel -tot dusver geen reaksie nie. Ek het gaan uitvind of daar 'n vroue Bybelstudie groep of iets soorgelyks is - niks, want die meeste vrouens werk. Ek het by die skool gaan uitvind of ek as gr 11 ouer kan help met die matriekafskeid - nee, dit word alles deur die spyseniering-leerlinge gedoen. Ek het met 'n ma gesels wat betrokke is by die OOV en die werkery by sportdae- die werk is vir eers klaar tot volgende jaar... en so gaan dit aan.

En intussen leer Werner  links en regs mense ken! Klink ek jaloers?? Ja, ek IS!! By die mannebediening, deur sy werk, sommer wanneer hy voorraad aankoop! As ek hoor het hy met iemand "connect". Hy het tot al 'n uitnodiging rugby toe gekry.

Ek sien nou die dag op Facebook waar Frances skryf dat sy haar vriendinne mis toe sy n groepie vriendinne op die strand sien kuier. En ek verstaan SO hoe sy voel. Soos wat mens altyd oral vrouens met swanger magies gesien het wanneer jy graag wou swanger word, voel dit nou vir my asof ek oral groepies vriendinne raaksien wat mekaar se geselskap geniet: by die skool tewyl hulle vir die kinders wag, op die strand as die kinders "surf' lesse het, in die mall by elke koffie winkel, in die supermark waar hulle mekaar raakgeloop het, na kerk waar hulle gou 'n vinnige geselsie inwerk. En elke keer word ek daaraan herinner dat ek nou die "odd one out" is. Die een sonder "maatjies" (O, dit klink nou lekker melodramaties!! Maar soms voel ek nogal so!)


Die goeie deel hiervan is dat ek meer tyd vir en saam met Werner en die dogters het. Nie altyd seker of dit vir tienerdogters na 'n positiewe ding klink nie maar ek waardeer en koester die tye saam met hulle. En vriendin Rentia is darem op Mosselbaai, darem nie te ver as die "jammer-vir-myself" hoogty vier nie. O ja, en deesdae hou my selfoon se battery sommer 4 dae of langer! Verder besef ek dat hierdie dalk my seisoen is om al my gesels en stories, hartseer en blywees, bekommernis en opgewondenheid met die Here te deel. Dalk wil Hy my dwing om nou aan my vriendskap met Hom te bou. Ek kan juis so maklik "besig" raak.
 
Ek glo ek gaan oor 'n jaar of twee terugkyk en wonder hoekom het ek so gekla!!! Dus, van nou af is dit vorentoe kyk, geniet die stil en alleen tye, gryp elke oomblik aan om met die Here en my huismense te "connect", en hou my oë oop vir die geleenthede en mense wat oor my pad kom. Ek weet Hy het gesê Hy beplan vir ons nuwe en goeie dinge. God is ook die een wat my aanmekaar geweef het, wat weet hoe Hy my ge"wire" het en wat my laat "tick". So ek weet verseker daar is spesiale vriendskappe wat wag...  Ek sien uit met verwagting!! Tot dan, is dit ek en Hy.
 
NS: So algaande leer ek bietjie meer oor die bloggery (baie stadig, maar darem). Ek DINK ek het die verstellings nou so gekry dat enigiemand kan kommentaar lewer hieronder. Voorheen was dit net moontlik as jy 'n gmail- rekening gehad het- of so vermoed ek. So probeer gerus. En as dit steeds wys jou naam is "Anonymous", skryf maar net jou naam as deel van jou comment. Ek hoop dit werk!!  Suna

Tuesday, 9 September 2014

Doodgewoon uitsonderlik

So 'n week gelede op 'n Sondagmiddag besluit ek en Werner om so bietjie op Wildernis se strand te gaan stap. Glo dit of nie, ek was nog nooit daar nie! En vir meer as 20 jaar al is hierdie omgewing ons gereelde vakansie plek! Ter versagting: ek het sedert my eerste besoek aan die Tuinroete al gesê hier is net TE veel mooi plekke in hierdie Eden om dit in 'n paar vakansies alles te kan sien!

In elk geval, terug by ons uitstappie. Dit was een van daardie dae waar juis die gewoonheid daarvan, dit uitsonderlik gemaak het.

Wildernis strand is ideaal vir stap: dit hou net aan en aan! Soos gewoonlik is my kamera byderhand. Ek het heel moontlik soos 'n lid van een van daardie busvragte Chinese toeriste gelyk: kliek-kliek alles wat ek sien  Dis een van my grootste wense - om alledaagse dinge met my lens te kan vaslê in foto's wat werklik die "mood" kan oordra. (Niggie Madi se foto's is vir my so 'n inspirasie- dis wat ek wil kan doen!)
  • die familie wat by Leentjies-klip van mekaar foto's neem terwyl die kleintjies vir die branders weghardloop
  • 'n gesin wat diep in gesprek al langs die waterrand stap
  • 'n jong rifrug wat vir die eerste keer by die see kom: storm opgewonde die water in oppad na 2 spelende kinders toe, net om vervaard om te spring en terug te hardloop toe die water ewe skielik "terug storm"
  • die blink klippies as die see terug trek
  • mense wat rustig op 'n strandhuis se balkon sit en lees

Ons raak aan die gesels met 'n ou omie wat wag dat sy seun witmossels uit die sand grawe vir aas. Hy gesels laaaang vis praatjies met Werner en vertel baie grappies oor vissermanne en hul vrouens! En lag dan heerlik uit sy maag vir sy eie grappe!!

Later ry ons met Milly (o ja, Daisy het toe Milly Vanilly geword) in Wildernis rond. Ek verlekker my in 'n houtheining wat gebou is om 'n ou Melkhoutboom se tak te akkomodeer. Verbeel my altyd bome wat afgesaag word moet iets kan voel (wie onthou Het van Verlangekraal?)



Ons kry 'n lang strook spoorlyn waar ons opsluit stop en (nog!) foto's neem. Met die afklouter teen die skuinste af sny 'n skerp klip my groottoon aan die onderkant oop. Die sny lyk diep, dit bloei erg en 'n stuk vel hang sommer los. Nou kyk, ek het myself nog nooit as 'n "drama queen" beskou nie, maar dalk is dit tyd om myself te herevalueer!! Met 'n sakdoek om my toon gestrik jaag ons huis toe (as jy Milly se 50 myl p/h jaag kan noem!)


Ek sien alweer hospitaalsake in my gedagtes: ongevalle, steke... dalk selfs amputasie! Dit bloei erg, is vrekseer en ek kry myself vreeslik jammer. Nodeloos om te sê is dit toe NIE so erg nie (dankie tog vir dikvellige plaasvoete). Werner moes 'n stuk vel afsny (grillerig!!), ontsmet en verbind en toe is ek weer mobiel. Loop nou wel met my regter tone in die lug, maar ek kan loop.

En so ongemerk word 'n rustige Sondagmiddag in my herinneringe ge"file" as spesiaal - juis omdat dit doodgewoon was (toon besering uitgesluit). Ek onthou die gesegde teen die muur van Pomodoro, 'n Italiaanse restaurantjie in Wildernis:
We don't remember days, we remember moments
 
En selfs in die Bybel lees ons iets soortgelyks: Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie (Sag 4:10) Dis juis die klein momente aanmekaar gestring wat 'n dag skep wat in ons geheues vasgelê word as spesiaal.

Friday, 29 August 2014

Living Life Today

Met die koms van die Lente Maandag het ek letterlik die sonskyn op my vel gevoel toe ek buitentoe gaan, en die verwagting van die nuwe seisoen het ek binne-in my voel borrel. Dinsdag het Anri haar 15de verjaardag gevier- ons eerste verjaardagviering in ons nuwe dorp. Weereens het dit my getref hoe goed die Here vir ons, en veral vir die dogters gesorg het. Vandat die huis se verkoop in Februarie bevestig is, het ek begin bid dat Hy vir Karla en Anri die pad sal oopmaak, maats wat Hom ken sal begin voorberei. En my hart bly "summersaults" maak elke keer as ek sien en hoor hoe hulle inpas. 'n Personeellid by die skool het my eendag gevra hoe hulle aanpas, en toe ek positief reageer sê sy: " Ek hoop jy besef dit is nie normaal nie. Nuwe kinders sukkel altyd erg om "in" te kom hier. Iemand het seker baie gebid..." Ek het geglimlag, want as sy weet hoeveel vriendinne saam met my gebid het... En dit was lekker om haar te antwoord: "As jy net weet hoe!"

Ek hoor nou die dag die volgende aanhaling:
If you are depressed, you are living in the past
If you are anxious, you are living in the future
Live life today and be at peace
 
Dit het my nogal aan die dink gesit. Ek besef dat daar 'n fyn lyn is tussen herinneringe koester en met dankbaarheid onthou, teenoor hunker na en leef in die verlede. 'n Lyn wat mens maklik kan oorskry wanneer jy 'n nuwe, onsekere begin moet maak. Wanneer jy heeltyd terugkyk na wat jy gehad het en die goeie daarvan vergelyk met die minder goeie van die hede of nuwe, loop jy gevaar om die goeie van die hede mis te kyk.

Ek onthou graag. Ek het wonderlike herinneringe aan 'n gelukkige, "care-free" kindertyd op die plaas. Familie kuiers met oupas, oumas en hope niggies en nefies onthou ek as idillies (noudat ek volwasse is besef ek dit was dalk minder so vir die volwassenes wat ons almal moes versorg ☺)
Skool en koshuis onthou ek as lekker, pret-tye. Ek het goeie en lojale vriende wat al jare deel van my lewe is. Ons as gesin het al goed swaargekry, maar kon deur dit nog altyd getuig dat God ons versorg en deurgedra het, so selfs daardie tye onthou ek as positief.

Ek klou vas aan vriende, familie en plekke wat vir my iets beteken; en is maar lugtig vir verandering en nuwe dinge. Gee my 'n album met ou foto's en ek is vir 'n paar ure verlore vir die samelewing! (een van die redes waarom ons inpakkery so lank gevat het!!)

As ek aan die toekoms begin dink is daar baie om oor angstig te raak: blyplek, werk en inkomste, groter uitgawes, kinders wat groter word en amper die huis moet verlaat, studiekostes.... die lysie vul homself daagliks aan. Ek loop dikwels die gevaar om TE veel op die toekoms te fokus: hoe, wat, waar, wie, wanneer. En omdat ek selde antwoorde op al hierdie vrae kry, is angstigheid 'n gereelde "companion"

Vir my bly een van die wondere van menswees dat ons onsself heeltyd beter kan leer ken EN kan aanpas en ontwikkel. Een ding wat ek dus goed besef is dat ek moet werk maak daarvan om in die hede te leef. Om elke dag die goeie van die dag raak te sien en die mense wat my pad kruis raak te leef.

Kans om geleenthede raak te sien wat my kant toe kom.

Ek het vandag die geleentheid gehad om saam met personeel van Life Community Services te "toer" en al hul sentrums te besoek. Ons was diep in Thembalethu in, Pacaltsdorp, Conville, Borcherds...  Oral by plekkies gestop waar opgeleide lede van die gemeenskap by Life se kleuterskooltjies kinders leer en besig hou - dikwels gee die ouers nie eers om waar die kinders vandag is nie. Van gehuggies tot huise..Baie plekke langs die pad sit hordes mense...werkloos, uitsigloos, moedeloos. En ek dink aan die goed waaroor ek MY bekommer: 'n groot genoeg huis in 'n mooi area, kinders se take, of dit tot my kind se voordeel sou wees om dalk eerder 'n prefek in haar ou skool te kon wees, niemand om mee te kuier en tee te drink nie.... En ek kry skaam! Ek dink aan dit waarop ek en my vriendinne ons geld uitgee, en dan kyk ek om my... Ek wonder of ons nie die pot VER mis sit nie!!! Hoe belangrik is dit "in the bigger scheme of things" of jou gordyne en bedval se skakerings bymekaar pas, as daar mense is wat HONGER is??? En voor jy antwoord: ek weet ons sê dikwels ons sal so graag wil help, maar weet nie waar nie, of daar is nie regtig so iets in jou omgewing nie, of ('n gunsteling) maar die mense wil nie hulself help nie!  Ek kan nie vir een oomblik dink dat daardie antwoorde voor God water dra nie. En ja, geld help, maar hande en tyd beteken nog meer (glo ek), juis omdat dit opoffering van ons vra. En dis hier wat "stil tye" handig te pas kom. Tyd om God se stem te hoor en raak te sien waar Hy jou wil gebruik. Want ons is steeds almal stukkies in God se groot legkaart. En solank ek nie luister of gehoorsaam is nie, is daar heeltyd 1 stukkie in die groter prentjie wat weg is, en die legkaart kan nie voltooi word nie. Ek luister na Jamie Grace se liedjie "Little Ol Me": https://www.youtube.com/watch?v=_gh5XyCHhKw en dit maak my opgewonde om te weet ons is hier as deel van 'n groter plan!

Oh Jesus how I love the way You’re writing my life
However could it be, to have a part in your story
Bigger than what I can see, little old me, little old me
I may not know Your plan but I’m safe here in Your hands
Cause I know that You believe, in little old me, little old me
 
Vir die wat wil weet hoe dit met ons huis-soekery gaan: Ons wag (en soek) nog! Toe ek so 2 weke gelede een aand radeloos weer vir die Here vra: "wanneer gaan ons 'n huis kry, ek soek nou my eie plek en goed?!?" kry ek die volgende antwoord uit Habakuk 2: " Die dinge wat Ek beplan gaan nie nou dadelik gebeur nie.... wag geduldig (my swak punt!), al voel dit of dit stadig gaan. Wees verseker dit gaan gebeur, dit sal nie onnodig talm nie" Hoe is dit vir 'n reguit antwoord!! En in my Bybel sien ek die volgende ingeskryf: onnodig=mow'ed (Hebr)= 'n fees wat reeds gereel is! So nou weet ek verseker: ons huis is reeds gereel en uitgesoek! Ons moet net wag dat dit beskikbaar word... En intussen elke dag voluit LEEF!

Monday, 18 August 2014

Legkaarte en luukses

Na verlede week se tranedal is dit tyd dat ek bietjie op die positiewe konsentreer. Voordat al my vriende geskenkbewyse vir beradingsessies aanstuur!!

Sedert ons hier gekom het, het ons al soveel spesiale tye ook gehad. Ons het al op die ingewing van die oomblik in die kar gespring en die lieflikste plekke ontdek. Ek moet myself elke nou en dan knyp om seker te maak hierdie prentjie-mooi omgewing is nou ons tuiste. Ek dink aan Lienka se liedjie Luuks en besef hoeveel luukses daar op die oomblik in my lewe is!

Sonsopkoms van ons voorstoep af
Ek voel soos iemand in 'n tydskrif-storie as ek die kamera gryp en vir die res van die huis
sê "ek gaan net gou strand toe om foto's te neem"! Hoe cool is dit!!! Om die voordeur oop te maak en die see te ruik, die klammigheid op my vel te voel. Of die luukse van 'n boek vat om gou vir n uur in skooltyd op die rotse langs die water te gaan sit en lees! Ek weet dit gaan nie altyd in die toekoms moontlik wees nie, maar vir nou is dit een van die voordele van NIE mense ken en oral betrokke wees nie. En ek gaan dit uitbuit vir solank ek kan.

Saterdag het ek en Anri vir n uur by Dolphin Point uitkyk by Wildernis gestaan en walvisse kyk: 6 van hulle wat luilekker in die water rondgerol en sommer net "gewees" het.  Op 'n stadium het n paar dolfyne kom saam speel- sommer net omdat hulle KAN!
En toe ons later van die winkels af terug kom met 'n MacDonalds burger elk, stel Karla voor ons eet dit op die strand. Net daar hou ons verby Vic-baai toe, en gaan eet ons middagete langs die see. Sondagmiddag het ek en Werner 'n draai gaan ry en die oulikste restaurant in Wildernis raakgeloop. Ons het net koffie en Hot Chocolate gedrink, maar die atmosfeer was heerlik, amper Europees met die lieflikste Italiaanse musiek, mense wat oral in die strate drentel (en die "local" rasta-hippie wat ewe hoog op die oorkantste sypaadjie met homself sit en gesels en lag  terwyl toeriste elke nou en dan saam met hom wil fotos neem.... weird!!) Gepraat van restaurante: ek is nou besig om 'n lysie te maak van watter vriende ons na watter restaurante en koffie-winkels toe moet vat. Ons sit dikwels by 'n plekkie en besluit hierdie of daardie vriende sal van hierdie kos/atmosfeer/omgewing/dekor hou, so nou hou ek boek daarvan.

  
Victoria baai teen sononder.
Nog 'n heerlikheid is om te sit en luister na die local mense se praat: die sêgoed wat ons gereeld laat giggel, dikwels met so 'n lekkerg bgrei van die tong. Die karwag onder by Victoriabaai groet ons gewoonlik met "aaahh, Mpumalanga! Welkom by Victoriabaai" of ander dergelike maniere (ons kar se nommerplaat gee ons nog weg) Nounou het ons gou weer vir n halfuur daar gaan stap. Toe ons uitklim sê hy: "Lyk my Mpumalanga bly nou ma innie Kaap. Da is mos nie 'n sie in Mpumalanga nie!"  Ons het lekker gegiggel. Min het hy geweet hoe reg hy is.

Karla en Anri geniet "tee' saam met Isabel se dogters
 
Al die kuiers wat ons die afgelope tye met ou en nuwe vriende gehad het tel ook op my lysie van luukses. Dit bly heerlik om weer op die ingewing van die oomblik 'n Sondagbraai met Braam&Rentia te reel- ons het dit so dikwels in Piet Retief gedoen, en nou word die tradisie na 4 jaar weer voortgesit. Ek het ontdek dat ek familie in George het wat ek nog nooit ontmoet het nie, en ons het 'n heerlike "long overdue" kuier met die Greyvensteins gehad. En met goeie vriende se familie wat nou ook ons vriende geword het. (Dankie Hennie en Sirita dat ons nou vir Sus Isabel en Kobus "present gekry het" ☺)


Ek sien nog altyd ons lewens as stukkies van n groot legkaart - dikwels verstaan ons nie hoe gebeure en mense inpas in die groter prentjie nie, maar dan soms, net soms, gun die Here ons 'n kykie en sien ons hoe sekere dinge bymekaar inpas en hoe stukkies wat op hul eie dalk nie sin maak nie, eintlik deel uitmaak van die mooier, groter prentjie.
Baie van die dinge wat ons tot dusver beleef het, val nog vir my in die "weet-nie-waar-dit-inpas-nie" kategorie. Maar hier en daar sien ek al 'n stukkie wat op"link" met 'n ander prentjie (jy weet mos as jy puzzles bou en jy kry so 7 of 8 stukkies wat bymekaar pas, maar nog nie 'n plek in die groter prentjie kry nie).
Een daarvan is die klein woonstelletjie waarin ons tans woon. Ek was eintlik bietjie opstandig toe Werner besluit om die 2 slaapkamer woonstel te vat: ons is 4 mense, en die dogters het elkeen spasie nodig- het al jare lank elkeen hul eie kamer. En tog was dit presies wat nodig was in hierdie tydstip van ons reis. Ons is heeltyd in mekaar se geselskap- so plek vir eenkant sit en "sulk" is daar nie (behalwe as ek nou my depro slaan as almal weg is soos verlede week ☺)
En so, sonder dat ons dit regtig agterkom, is ons besig om te bond, meer te lag, memories te maak wat heel moontlik nie sou gebeur het as ons direk in 'n gemaklike, groter huis ingetrek het nie.

Ons staan ook verstom hoe die Here mense oor ons pad stuur, soms met 'n boodskap, soms as 'n kontak, soms om te bemoedig... maar nooit toevallig nie! Sal 2 vrouens wat ek nog nooit van te vore ontmoet het nie, verlede week vir my hul stories van "huis-soek" vertel en albei se stories getuig van bo-natuurlike voorsiening. En 'n man wat vandag vir Werner foto's van sy visvangste van die naweek wys, en dan terloops sê: "O, ek moet DIT ook vir jou wys.." en dan vir Werner 'n "quote" van sy mentor-omie wys wat sê: "As jy geloof het sal jy nie haastig wees nie!" Toevallig.... beslis nie. Sonder dat hulle dit weet was al hierdie mense legkaartstukkies in ons groter prentjie. Na baie vrugtelose soektogte en besoeke aan agente om werkswinkelspasie te bekom, het Werner 'n vriend van 'n vriend by die kerk se mannebediening raakgeloop, en na 'n rukkie se gesels vind hulle uit hulle is in dieselfde bedryf. En daar nooi die ou Werner om saam met hom sy werkswinkel te gebruik! Sommer so! So van vandag af het Werner werkplek en kan hy weer begin om te skep en te saag en te skuur...  Intussen wag ons (by tye geduldig) op die huis wat die Here vir ons in gedagte het.


O ja, voor ek vergeet: Werner het 'n nuwe vrou in sy lewe! Sy het kurwes op die regte plekke, regte "come-to-bed-eyes" en is 4 jaar ouer as ek! Hy spandeer nogal heelwat tyd met haar.... maar dis OK, ek hou ook nogal van haar. Haar naam is Daisy (altans ek dink dit is die finale keuse) en sy is 'n 1964 VW Kewer Kyk net hoe fraai! (en sy laat ons ook nogal oulik lyk as ons vir rustige Sondagmiddag "drives" in die omgewing gaan).

Ek groet met hierdie aanhaling en 'n link na 'n videoclip wat vreugde binne-in my laat opborrel het:

“For last year's words belong to last year's language
And next year's words await another voice.
And to make an end is to make a beginning."
~ T.S. Eliot


https://www.youtube.com/watch?v=kbJcQYVtZMo

Monday, 11 August 2014

I am... I said...


Ek kan nie glo dat ‘n mens se emosies so vinnig kan verander- sonder enige noemenswaardige gebeure wat dit omswaai nie: ek het vanoggend opgestaan soos elke ander oggend (of te wel bietjie vroeër want ek moes vandag kinders skool toe vat). Terug gekom, koffie saam met Werner gedrink, gesels, hy het gery, ek het rustig gesit en my gedagtes het wye draaie begin loop … en 15 minute later sit ek en huil krokodiltrane oor alles waarop ek uitmis.

Ek is in ROU!!

Daar is dinge waarna ek al vir jare uitgesien het om van deel te wees, soos matriekafskeidreëlings saam met mede-ma's as my kinders in gr 11 is en om saam met hulle hul matriekjaar te beleef in dieselfde skool waar EK matriek gemaak het. As ek dit skryf klink dit bietjie “trivial”, maar dis prentjies wat al in my gedagtes begin vorm aanneem het, wat ek nou moet uitvee… 

Ek sien vriendin Sirita se foto op Facebook van Henno-lief wat saam met pa Hennie op die treadmill oefen, en my hart pyn letterlik in my bors, want ek wou nou DAAR gewees het vir hulle, wou saam met hulle die hartseer en oorwinnings van Henno se herstel beleef het. Ek wil vinnig by my ma inhardloop net om hallo te sê en omdat ek 10 minute beskikbaar het. Ek wil by my kombuis instap en sien Susan, my vriendin van amper 40 jaar, het klaar die ketel aangesit en die koppies uitgehaal terwyl sy vir my gewag het. Ek wil saam met 'n vriendin bly-opgewonde wees oor haar dogter se telefoonoproep. Ek wil vir nie net stemme oor telefone hoor nie- ek wil arms VOEL wat drukkies uitdeel.  Ek wil my hartsmense se gesigte SIEN as ek met hulle praat! Ek wil by Pick&Pay inloop vir n brood en eers ‘n halfuur later daar uitloop want ek het te veel mense raakgeloop wat ek ken. Ek wil by die skoolsport staan en mense KEN- die kinders, die ouers, die onderwysers (selfs die geboue is bekend). Hier is alles vreemd. Ek wil dorp toe ry en elke paar minute vir iemand wat verby ry, waai.  En ek wil weet as ek nounou hier uitloop, gaan iemand wat ek ken my êrens voorkeer en vra “Is jy OK, jy lyk af vandag?” Hier weet niemand eers wat is my normale manier van “lyk” nie.

Vanoggend is ek lus vir my eie “pity-party”! Twee ure gelede het ek nog met opgewondenheid gedink oor waar ek kan of wil inskakel by die skool en kerk. Nou sit ek hier en dink: “Ek WIL NIE inskakel nie, ek soek my ou skool, my ou vriende, my ou kerk… Ek soek my MA!!! (klink dit vir julle ook soos n 5 jarige - as ek dit oor lees, hoor ek sommer daardie temerige stemmetjie ☺) Ek hoor Neil Diamond sing in I am I said:  "L.A.'s fine, but it ain't home
                                                       New York's home,
                                                       But it ain't mine no more"  
.... en ek weet presies hoe hy voel.

Ek is eintlik verbaas oor die intensiteit van hierdie emosies. Ek sit hier en snik soos iemand wat ‘n doodstyding ontvang het. Maar eintlik het ek! Vanoggend het ek besef dat sekere ervarings vir altyd verby is, en ek moet afskeid neem daarvan en aangaan. Ek het besef dat sekere dinge waarna ek uitgesien het nooit gaan gebeur nie (of ten minste nie soos ek my dit voorgestel het nie) En ek moet die realiteit in die oë staar dat ander mense nou my plek sal inneem by die skool, by die kerk, in my vriendekring… en dat dit reg is so! EN dat ons almal OK sal wees met hierdie veranderings.

Die natuur het seisoene en ons lewens het seisoene. Hierdie is my nuwe seisoen. Dit is die oorgang tussen winter (afskeid) en  lente: tyd om nuwe wortels uit te stoot en vastrapplek te soek tussen die versteekte klippies onder die grond. En net soos ‘n nuutgeplante plantjie maar teer is, maklik kan seerkry, omwaai of uitdroog, besef ek dat ek ook tye gaan hê waar ek uitgelewer, onseker en ontuis gaan voel.

Gelukkig het ek dié versekering: ek is nie alleen nie! Ek het DIE God van hemel en aarde by my! Die Een wat my gevorm het, dra my ook. En Hy het mos reeds vir my gesê:
 
“Moenie vassteek by die verlede nie. Moenie net dink aan die dinge wat verby is nie. Let op! Ek gaan iets nuuts laat gebeur! Dit het alreeds begin, kom jy dit nie agter nie?” (Jes 43:18-19)


Ek sien met hoeveel oorgawe my dogters die nuwe skoollewe ingaan, deel word. Ek sien hulle glimlagte en blink oë (en nee, hulle oë blink nie van trane nie, maar van vreugde) En ek besef: die nuwe dinge het reeds begin gebeur! Hy het ook nuwe ervarings vir my ingedagte. So dit is tyd om my rouklere uit te trek, my feesklere aan te trek (Ps 30:12)

Dus: ek gaan opstaan, opkyk en begin soek na die nuwe fees-geleenthede om my (en 'n nuwe boks tissues koop!!) Watchout George, here I come!